Eendag lank, lank gelede het ek in 'n vrouetydskrif die eerste keer van blogging gelees. Ek het gedink dat dit nogals interresant klink , soos iets waarvan ek sal hou. Ek het dit baie ernstig oorweeg om ook te begin blog! Twee dinge moet julle egter van my weet:
1. Ek het baie planne, maar min daarvan word ooit uitgevoer;
2. Ek is tegnologies gestrem.
Baie getrou aan my aard, het ek toe nooit begin blog nie. Tot vandag toe. Gister het 'n maat op FB my aangemoedig om my foto's aan lyn te begin verkoop. (Ek moet dalk noem dat ek eers vanaf Februarie 2011 op FB is. En dat ek vir FB-lesse moes gaan, want ek het nie geweet waar om wat te tik nie en almal se comments het my deurmekaar gemaak. Mense wat ek van g'n kant af ken nie, het sommer daar op FB verskyn.) Gelukkig het my FB-maat my stap-vir-stap verduidelik hoe ek die foto-ding moet doen. Ek was so begeesterd deur die komplimente dat ek besluit het, gister is die dag dat ek nie net planne maak nie, maar hulle gaan uitvoer ook. Sommer gister nog. Wat ek toe ook begin doen het. Totdat hulle in die sign-up proses vir my gesê het dat ek 10 foto's moet publiseer waaruit hulle sewe gaan kies. Indien hulle nie sewe bruikbare foto's vind nie, mag ek eers oor 'n maand weer probeer registreer. Nog iets wat julle van my moet weet:
1. Ek hou nie van rejection nie;
2. Ek is soort van 'n perfektionis.
Dit het natuurlik tot volg dat ek op my tyd, met my kritiese oog, al die foto's moet deurkyk voordat ek op die tien besluit wat ek gaan publish. Come hell or high water - ek gaan nie reject word nie. Ek wil nou opsluit my foto's daar buite in die kuberruim hê!! Ek het al besef dat ek sal moet begin bykom, andersins gaan ek heeltemal uit die bus val. In vandag se lewe kan jy nie meer tegnologiese gestrem wees nie. Jy haak-en-pootjie net jouself.
Aangesien ek dan nou so besig is op internet kan ek net sowel begin blog. Ek vind toe redelik vinnig 'n blogspot en daar lees ek dat dit soort van gaan oor dagboek hou. En oor opinies en menings lug. Ek is MAL oor dagboek hou en kon nog nooit my opinie net vir myself hou nie. Ek lees toe ook dat blogging al serdertdien 1999 bestaan. Goeie griet, dan's dit mos alweer uit die mode. Tipies ek, wag totdat dit te laat is. Maar nou's ek hier. Ek is hier om te blog en hier om te bly.