Monday, 21 May 2012

Skoon bladjie - Bladsy 1


“The happiest people don’t necessarily have the best of everything, the make the best of everything they have.”

‘n Nuwe blaadjie, nuwe leuse, nuwe attitude.

Ek het vandag die eerste boks gepak. Ek moes nie – ek moes swot. Ek moet oor ‘n skamele 2 weke ‘n ekonomie vraestel skryf. ¹
Maar die brulpadda wat uit my lewe verdwyn het, het pyn agtergelaat en ek moes my besig hou met iets om sommernet besig te bly. Swot tel nie onder “besig bly” nie.  Om agter boeke stil te sit en soveel moontlik inligting in jou brein in te prop, met ‘n hart wat klop van seer, is haas onmoontlik.

Ek moet herkondisineer. Ek moet weer die lys van verskriklikes uithaal. Ek moet rigting kry en kalm bly.  Want daar is BAIE wat gedoen moet word.

1.       Kry kwotasie vir die trek.

2.       Gee kennis by die landlord en reël vir deposito oordrag.

3.       Betaal die laaste 2 agterstallige dokter’s rekeninge.

4.       Reël met Shorty  vir bokse.

5.       Reël met Maria vir ‘n ekstra dag se werk.

6.       SWOT ‘N HELE EKONOMIE BOEK IN 2 WEKE DEUR!!!!!!!!

Die ongeluk het weereens in 3’e gekom. 

Naderende eksamen– EEN

Gedump deur die brulpadda – TWEE

Trek na ‘n ander woonstel – DRIE

Maar ek maak ‘n doelbewuste besluit om die beste van die omstandighede te maak. En selfs, indien moontlik, ‘n les of 2 daaruit te leer (hoewel ek al na 2 jaar van mishaps, redelik gekonfyt is in die lewe)

My voorlopige plan van aksie na ‘n nuwe lewe op ‘n nuwe blaadjie begin by die nuwe woonstel.  Ek hink nog op 2 gedagtes: sal ek my slaapkamer wit-en-blou maak soos ek al hoelank daarvan droom. Of moet  ek ook die verlede se drome in die verlede los en eerder vir grys en geel gaan? (ek sal die grys en geel look sò kan afpull – het al duisende planne!)

Volgende op die lys van veranderinge is die MOM’s Mobile!!! Die einde is in sig vir diè motor. Ek het reeds die inruilwaarde uitgevind.  En hierdie keer koop ek iets wat ek wil hê, ek soek nie ‘n “goeie koop” nie. Ek settle nie weer nie².

Derde op die lys : Ekself.  Enige iets van 10 – 12 kg ligter.³ Ek het reeds begin bootcamp! En ek kry soortvan by ‘n eetplan gehou!! Wat ek verder met myself gaan doen, weet ek nie. (ek het nou lus vir wyn)

Ek wil meer lees en nog meer skryf. Ek wil meer kook en minder eet. Ek wil soggens saam met die voeltjies opstaan met ‘n lied in my hart. Ek wil nie meer wag vir die perfekte man en droom van kinders nie. Ek wil nie meer met afguns staar na mense wat gelukkig is nie. Ek wil nie meer bewus word van ‘n diep pyn as ek na my broers se kinders kyk nie.

Ek wil my lewe aanvaar soos dit is. Hier en nou. 

Ek wil leer wat dit is om in die hede te lewe en nie ‘n 10 jaar plan of droom te hê nie. Ek wil die dinge wat regtig belangrike is (wat ek wel kan beheer) aanvat.  Die boek, my eie winkel. My besige kop vol besige idees.

Ek maak die beste van wat ek het!

Wat is volgende?

Sal ek ‘n boks pak of ekonomie swot?

¹ Almal het gesê ekonomie is maklik. Dit gaan net oor vraag en aanbod. Dis hoekom ek eers 2 weke voor die eksamen begin swot het. Almal was verkeerd!!!
² Eintlik wil ek baie graag ‘n 4x4 hê. Of ‘n BMW. Daar’s nie ‘n manier dat ek dit kan bekostig nie. EK kyk maar na ‘n Polo of Yaris.

³ Ek wil ook ‘n “skinny Biatch wees. En Klaar.

Friday, 18 May 2012

twee jaar later...

Hallo  liewe dagboek

(Hoekom voel hierdie sinsnede so bekend? Oja, bietjie minder as 2 jaar gelede het ek jou weer uitgehaal en afgestof en met presies dieselfde woorde begroet – my lewe was pretty much ‘n disaster)

Hierdie woonstel het my tot ‘n graad van eensaamheid gedryf wat te veel was om te hanteer. En ek het begin skryf.

Maar dagboekkie, van vandag af tel die dae in hierdie plekkie.

En as ek terugkyk op die 2 jaar het daar so baie gebeur -  ek het selfs positief begin word. Begin van die jaar was ek gereed vir aksie met my Projek S.O.S –  ek wou die lewe op die ouderdom van 30 herontdek. Ek wou ook soetsappig wees en mense raad gee en bemoedig. Amper soos RSA se popkoning se eksvrou. ¹

Helaas nie, positief is sò nie my ding nie.

Nadat ek ampertjies terug was op die bandwagon waarop die normale mense ry, het ek lekker afgebliksem. ²

Ek het ‘n prins ontmoet – korreksie:  ‘n Brulpadda.

Nadat die nuttelose stuk niks uit my lewe gehop het, moes ek weereens  ‘n klomp feite konfronteer.

Die sogenaamde ding – genoem liefde – is duidelik nie vir my bestem nie. ³

En, soos in die verlede, besef ek net weereens dat diamonds, drank en girlsfriends, ‘n meisie se beste vriende en enigste noodsaaklike lewensmiddele is.

Liefde is overrated en crap. Liefde het my nog net seer gemaak. Liefde bring ongeluk. Hartseer. Liefde is my grootste vyand. Tot siens liefde – van vandag af glo ek nie meer in jou. Hoop kan ook maar saam met jou die pad vat.  Die grootste 2 teleurstellings in my lewe.

En tog sal ek nooit ophou om daarin te glo nie.

Ek gaan ‘n streep trek deur projek S.O.S – dit was ‘n flop. Time to move on!

 Wat, waantoe en hoe nou  - dit weet ek nog nie. Maar ek weet hier kom groot aksie. Ek is lus vir nuwe dinge.

Dis tyd vir ‘n nuwe blaadjie.

 Voetnotas:
¹ Ek is mal oor haar – dis hoekom ek haar probeer na-aap het.
² Ja, ek vloek! Jy sou 10 @ 1 as jy my lewe gehad het.
³Mense wat doodgelukkig is probeer jou gewoonlik anders oortuig.