Ek het my
lewensritme verloor.
Op my blog is
daar – ek dink – tot dusver ‘n skamele vier inskrywings vir die jaar. Dit is
genoeg bewys dat ek die afgelope tyd sonder ritme of lewenslus rondgepoeter het.
Die rede vir
my toestand, is natuurlik die swangerskaphormone en allerande ander emosie,
gedagtes, worries en siekwees wat
daarmee saamgaan.
(Ja, hierdie
is my manier om die groot aankondiging te maak – ‘n sonar foto op Facebook is
nie juis my ding nie!)
Hier kom nog
baie (en dan nog meer) stories. Maar vir eers moet ek my ritme terugvind en vandag
is die begin.
So wat maak ‘n
mens as jy jouself (weereens) in ‘n situasie bevind waarin jy gedink het jy
nooit sal wees nie?
Die woorde van
‘n bekende sangeres het by my bly vassteek – “As jy ‘n duisend keer val, moet
jy ‘n duisend-en-een keer opstaan”
Dis waar. As
jy val, moet jy opstaan. En tog was dit geen inspirasie vir my nie. Die hele
wiskunde daaraan is net tè verkeerd! As jy ‘n duisend keer geval het, kan jy
net ‘n duisend keer opstaan. Vir elke val, is daar ‘n opstaan. ‘n Duisend
valle, ‘n duisend opstane. Nie ‘n duisend-en-een nie. My gesonde logika weier
om geinspireerd te wees.
Ek soek toe
voort. Naar, siek, bitter hartseer en baie sensitief. Niemand verstaan nie –
dus het niemand die reg om my raad te gee nie.
Gelukkig vir
my, het ek ‘n vriend (of is dit ‘n beskermengel?) wat my altyd help as ek
moedeloos is.
Hy sê
toe: “Character is much easier kept than
recovered.”
Ek is
deurmekaar, verstaan glad nie wat hy probeer sê nie.
Nee, sê hy,
(hy is bietjie vreeemd) in die swaarkry tye moet jy jou beste doen om staande
te bly, want as jy eers laat los het, as jy moed verloor het, is dit twee keer
moeiliker om van voor af te begin. Ek sukkel nog om dit by die oorspronklik “quote” uit te bring, maar dit het die
ding gedoen.
Die boodskap
was duidelik – ek moet staande bly. Hoe moeilik ookal. Al wat ek die afgelope
vier maande gedoen het, was om nie te val nie. Ek het net-net oorleef, van
gelewe praat ek nie eers nie. Hopelik gaan dit binnekort verander.
Daar is
deesdae so baie motiveringsprekers, mense wat raad gee, want geloof, hoop en
liefde verkondig. Daar is baie “saints”
in die werêld. Sommige van hulle irriteer my, sommige motiveer my, ander
inspireer my.
Hulle doen dit
om beter te voel oor hulleself. Ek weet mos – ek hou ook van raad uitdeel, ‘n
mens voel goed as jy goed aan ander kan doen! (Persoonlik hou ek van “celebs” wat diere help – al hou ek nie
van diere nie, of bome plant. Dis net soveel meer natuurlik as om ‘n kind uit
‘n derdewêreld land aan te neem)
Dit gesê, moet
ek toegee, die “saints” het hulle
doel – hulle raak mense se lewens aan en dit is goed.
Maar vandag
weet ek een ding: as jou lewensbootjie begin sink – moet jy regte-egte “saints” in jou lewe hê. Nie ‘n “celebrity” wat jy van g’n kant af ken
nie. Ons almal het sulke “saints” in
ons lewens. Ons moet net ons lewenspad sò met hulle loop, dat ons hulle nooit
verloor nie.
Ons moet hulle
naby ons hou.Ons moet ons tyd en geld en energie en liefde aan hulle spandeer.
Dit is hierdie
regte-egte wondermense wat ons help om deur die moeilike, swaar tye te kom.
Hierdie wondermense
kom in die vorm van vriende en familie.
En oor ‘n paar
maande het ek ‘n nuwe toevoeging tot my skatkis van mense.
My eie persoonlike klein pienkvoet “saint”!