Thursday, 11 September 2014

Interne dialoog - 'n storie vir die mammas




My kop was nog altyd vol stemme. Awesome stemme met awesome idees.
Daar is nog steeds stemme – maar deesdae noem ek hulle “die ongoing organisasie van ‘n besige mamma”  En hulle is alles behalwe awesome.

(daar is nogals ‘n sielkunde naam vir “ongoing organisasie”   interne dialoog)
My interne dialoog herinner van goed wat onthou moet word, goed wat gekoop moet word,  goed wat gedoen moet word. Heel dikwels neem my interne dialoog ‘n verwytende toon aan.  Jy spandeer nie genoeg tyd aan jou kind nie. Jy moes die situasie by die werk anders hanteer het. Jy moet meer kontak maak met vriende en familie.

Moenie dink die gedagte aan duisende ander mammas wat ook met ‘n interne dialoog van hulle eie sukkel, bring enige verligting nie.
(hoekom weet ek nie – voorheen het dit gevoel soos versagtende omstandighede wat iemand oor my uitspreek as hulle met dieselfde problem sukkel as ek, as hulle kan assosieer!)  

Ek lees gisteraand in die Pienkboek van Sielkunde ‘n ander mamma se interne dialog. Dit kon net sowel my eie gewees het!! Ons almal se interne dialoog lei (van of meer) as volg:
Ek moet more ‘n uur of twee by die werk afknyp om klere vir ons photoshoot te gaan soek. Ek is nie oppervlakkig omdat ek spesiale klere wil aantrek vir ‘n photoshoot nie – enige iemand wat al ooit op Pinterest was, sal weet hoe belangrik die klere is. En ‘n professionele fotograaf is duur – ons kan net sowel all the way gaan.

Eintlik het ek nie tyd vir klere soek nie.  En ek het so baie werk.  Dit voel net nie reg om in die winkels rond te hang as ek so baie het om te doen nie. Ek moet onthou om geld te trek vir Maria. En om brood te koop. Anders het ons nie broodjies vir moremiddag se lunchboxes nie. Dan eet ek weer iets ongesonds en ek sukkel reeds so met die post-pregnancy figuur.
Dis al 7 maande – wanneer gaan alles weer op die regte plekke sit? Hoe de hel het Jennifer Lopez ‘n six-pack en dit na ‘n tweeling?!

En ek moet nog die dagmoeder betaal. Voor ek dit doen, moet ek eers haar bankbesonderhede soek. Dis al die 10de van die maand – sy sal seker dink ek het nie genoeg geld nie??

Ek moet vanaand probeer om 'n ordentlike gesprek met Gert te voer. Al is dit net vir 10 minute. Ek moet hoor of hy klere het vir die photoshoot?! Ons moet almal bymekaar pas – wat ‘n gesukkel. Ek wens die bleddie photoshoot was al verby. Ek het nie nou krag hiervoor nie. As iemand sê ek moet smile en ontspan, wil ek sommer daai persoon klap.

Ek is mean.. en useless. En moeg. Ek is bitterlik moeg.

Ek wens die stemme in my kop wil net stilbly!! Ek wens my awesome stemme wil weer terugkom.

‘n Week later…….
Ek en Hannah is met ons elke dag klere photoshoot toe. Gert is die enigste voël wat nuwe vere aangehad het. (Hmmm – is daar ‘n pun in die sin?)

Ons het die photoshoot oorleef en ek is baie tevrede met die resultate. Dit was toe tog die moeite werd.
Ek en Hannah wou soos feetjies lyk met netrokkies en dalk nog vlerkies ook.........toe trek ons almal blou aan!!!
 
Ek onthou nou:  Karen het gebel terwyl ons besig was met die shoot … ek het nog nog nie teruggebel, gewhatsapp  of ge-enige iets nie. Ek sal ‘n plan moet maak om van my te laat hoor........
 

Nota aan self: SHUT-UP INTERNE DIALOOG!

 

Friday, 13 June 2014

Ek's terug........


Hier is ek!

Terug by een van my gunsteling plekke in die wye wereld. My koesterplek, my dinkplek, my ek-wees plek, my ontlaaiplek. My skryfplek. My dagboek.

Wat voel soos ‘n ewigheid van maande, probeer ek weereens woorde, sinne en deurmekaar gedagtes orden en op papier vaslê. (ek het dikwels probeer,sonder sukses!)

 Maar my lewe bly deurmekaar en my gedagtegang bestaan nie meer uit unicorns nie, maar eerder uit ‘n  ongoing organisasie in my kop van goed wat gedoen, onthou en gesoek moet word (alles is deesdae weg!)

Na ‘n maand as werkende mamma moet ek elke oggend vir myself sê:

“You can do it!!” Duisende ander mammas doen dit, jy kan ook!! (maar ek kannie, ek kannie, ek willie, ek MOET net eenvoudig)

Soms laat my eie hardkoppigheid en die weersin om te erken dat ander mammas beter cope as ek, my deurdruk. Ander dae worry ek nie dat daar supermammas is wat beter cope as ek nie (hoewel ek tog wonder of hulle nie dalk net so ‘n klein bietjie breindood is en nie agterkom dat hulle lewens nèt ‘n gejaag is nie!!)

Dae soos vandag  begin ek dink dat ek maar aan hierdie deurmekaar lewe – met die tè min tyd –  moet gewoond raak.

My “ek-tyd” bestaan uit ‘n koppie koffie drink 5h00 in die oggend (dis nou die oggende wat ek vir Hannah beat met vroeg opstaan). En dan ‘n verdere vyf minute ek-tyd in die kar oppad werk toe,met klipharde musiek , nadat ek vir Hannah by die dagmoeder afgelaai het.

Toe ek nog net gedroom het van ma-wees het ek ‘n klomp vooropgestelde idees gehad van die tipe ouer wat ek gaan wees. Toe ek swanger was het ek ‘n klomp idees gehad van die tipe lewe wat ek vir my kind wil gee. Noudat ek ‘n ma is,  kan ek net hoop en bid my kind kom lewend aan die ander kan uit, want soms wil ek van my kop afraak. (Groen dakkies klink soos ‘n luukse wegbreek!!)

Op hierdie stadium is my grootste bekommernis nie die feit dat ek ‘n bitterlik oningeligte mamma is nie. (Ek het nie ‘n clue wat die volgende fase in my kind se ontwikkel is nie – sy kan op  3 eers begin loop en ek sal dink dis normaal)  

 

Ek worry dat ek nie genoeg lag nie!! Ek worry dat ek nie in die toekoms genoeg gaan lag nie.Ek worry dat my kind dalk eendag sal wens dat ek ook ‘n lag-mamma moet wees soos een van haar maatjies se mammas.

Ek besef dat ek êrens weer stukkies ek-tyd sal moet vind. Ek sal my stukkies vreugde, moet gaan opeis, want dit raak so maklik weg in die rat-race. Ek sal moet onthou om te lag al is ek te moeg en te besig.

So van vandag – Vrydag die 13de af -  het ek ‘n nuwe projek. ‘n Nuwe soek tog!

Ek soek na…..

 

Unicorn-tyd!!!!