My brein bestaan uit 4 kamers:
Daar’s ek Does (ook genoem Sandri) – die broodwinner. Die kaptein van hierdie skip. Hoofkantoor. Die beredderaar, bemiddelaar, die eienaar.
Tom, die kaalvoet kabouter (oor wie ek MAL is) Tom is die outjie wat my uitred as ek onder in Mordegai se gat sit. Tom is ALTYD in ‘n goeie bui en dink aan die briljantste planne. Tom werk wonders met kleur. Tom is positief. Tom is, inderwaarheid , groter as die wêreld. In sy eie kamer.
Hannah Haas. Haar hart is mooi, haar mond te groot. Haar bedoelings altyd opreg. Dit kan ek julle belowe. Haar intensies in NOOIT om seer te maak nie. Net jammer dat Hannah presies dit doen.
Die enigste verskoning wat ek vir Hannah Haas kan aanbied is dat sy met my –, haar breinmaat EN HAAR BAAS– nog erger tekere gaan. Niks wat ek ooit doen is goed genoeg vir Hannah nie.
En daar is nog ‘n kamer. ‘n Geheime kamer . Want nie ek, of Hannah of Tom weet wat daarin aangaan nie. Ons noem dit maar die Toekomskamer.
En laaste, maar nie die minste nie. Mol! Ons hou nie van hom nie! Ons voel glad nie sleg daaroor nie, want hy hou ook nie van homself nie. Sonder Mol kan ons nie. hy is my sekretaresse en doen al die odd jobs. (Hy slaan eintlik die calculator en bring die brood huistoe!) Mol het ‘n persoonlikheid, maar dis ‘n onaangename een.
Jip, dis nogsteeds ek! Besig met Projek SOS : Does tem 30 (Nuwe naam: Does en Span – Blan B)
Toe ek die groot Drie Nul geslaan het, was ek tussen êrens en nêrens. Maar oppad iewers heen. Vol afwagtig en reg vir die wêreld. (Gmpf – Beast temmer)
Uh-huh! The hunter became the hunted.
Kom ek kleur die agtergrond verlore inligting in:
Ek het nog heel hêppie (soos Rooikappie) in my lewenspaadjie afgewandel. Op soek na monsters en uitdagings. Ek was planne aan die maak. En wat gebeur toe – EK RAAK VERLIEF.
Groot fout. Baie groot fout. Dit was oor en uit voor jy ‘n hygroman kon deurlees (ek praat nou nie eers van doen nie)
Wing-ba-la-bing-patè. Dis Verby (my boet se woorde) Ons brei nie uit op hierdie saak nie (dit maak nog te seer)
Nou sit ek met ‘n rêrige SOS-projek. Op myself. (ek het meer soos ‘n make-over ingedagte gehad) My hart lê op die grond. Dis nie die enigste probleem nie. My moed lê ook op die grond.
Normaalweg as my hart seer was, het dit gevoel of dit die einde van die wêreld is. Nou voel dit nie so nie. Dit voel om die lewe aangaan, maar dit is vaal en kleurloos en glad nie lekker nie. Dis soos ‘n opgekoude chappie. Dit maak nog jou kakebene moeg, maar al die smaak is weg.
Ek en die span sal ‘n vergadering moet belê.
Ons sal ‘n plan moet beraam.
Ons sal ‘n paar besluite moet neem.
Ons sal die stukke van ons hart moet gaan op tel en ons sal moet begin plak.
MAAR HOE?