Thursday, 18 August 2011

Oor oor begin

Oor begin is nie ‘n streep wat jy kan trek en dan daaroor loop nie. Dit is nie ‘n datum nie, ook nie ‘n denkwyse nie.  Hoeveel male die afgelope jaar het ek nie probeer oor begin nie. My kop en my denke probeer vernuwe. Alles ten spyt. Die kop wou, die hart wou, die gemoed wou, die lyf wou! Ek wou! Maar nie eers saam het ons dit nie reggekry nie.

Ek het veranderinge probeer aanbring. Vir twee maande gedreig om my hare te sny of bloedrooi te kleur. Ek het ‘n tuin gemaak. Ek het ‘n nuwe kar oorweeg. Amper ‘n rondloper kat aangeneem.

Na die Desember vakansie sou ek oorbegin. Uitgerus en lus vir nuwe dinge.

Toe probeer ek weer op April Fool’s day. Toe na Paasnaweek. Nog ‘n slag na ‘n naweek by die see. Ek vlug, ek hardloop weg  en ek bly op een plek staan.

Dae aaneen kla ek by Kara Kroft dat ek ‘n verandering soek. (Sy keer net vir my hare.)

Toe Sondagaand pak die uitsorteer gier my. Onderin ‘n kas grawe ek ‘n boks met gordyne uit. Ek gaan gordyne hang. Dis mos ‘n verandering. So met die gordyne uitpak ontdek ek my gunsteling kruisie steek prentjie wat “weggeraak” het met die trekkery.  (Ma was oortuig dat my eks dit “geneem” het – sy rekord is darem nou in ere herstel!)

Ek haal die oortreksels van die eetkamer stoele af en bêre dit weg. Dit was vir die ou huis bedoel. Met die oortreksel uit die pad, kan ek die kombuis se kleurskema met die rondskuif van ‘n paar ornamente verander. Ek skuif ornamente tussen die sitkamer en my kamer rond. Ek gooi stampels en nogmaals stapels van my gunsteling tydskrifte weg. Ek hou net die Women’s Health, want dit het ek regtig nodig!

Ek ruk resepte en selfdoen projekte uit filpfiles en gooi dit weg. Ek het dit seker vir 10 jaar gebere en ten minste ses keer daarmee getrek. Soms as mens iets weggooi, weet jy jy gaan daarna begin soek. Nie diè keer nie. Ek weet ek gaan nooit weer een van die prente nodig hê nie. Ek het te veel verander, ten goede.

Ek het te veel planne in my kop. My eie planne. Nie iets wat ek na-aap van iemand anders nie.

Toe ek dit alles gedoen het, besef ek: Dit was nou oor begin. Dit is hoe oor begin voel. Lig en lekker.

Ek is nog nie heel seker wat oorbegin is nie. Ek reken dit is ‘n element op sy eie. Of eerder ‘n emosie? Of dalk is ‘n radikale verandering ‘n beter beskrywing? Oor begin is nie ‘n streep wat jy trek nie. Oor begin is nie ‘n besluit nie. Oor begin is nie ‘n datum nie.

Oor begin is ‘n wonderlike ding. Oor begin vind jou vanself as die tyd reg is.

Dan raak oor begin ‘n NUWE BEGIN!


Wednesday, 17 August 2011

Oor Skale

Ek het al vir meer as ‘n jaar nie ‘n skaal nie. En toe ek een gehad het, het ek dit nie gebruik nie. Daarom dat ek dit met my egskeiding vir my eks gelos het.

Ek het ‘n love-hate verhouding gehad  met skaals. Dis nou toe ek maer was. Ek sien party mense, diè wat my vir korter as agt jaar ken, lag agter hulle hande as ek van my maerwees jare praat. Dink seker dit was “ all in my mind”. Later het dit net ‘n hate-hate verhouding geraak. Daarna het ek ‘n vrees vir die dêm ding ontwikkel.

Om myself te weeg laat my dink aan verlief wees. Die vreuge is van korte duur, want of die golf van maer wees ry mens nooit tè lank nie.

Daai stokkie van die skaal is ‘n aweregse gelukwystertjie. Af maak jou baie opgewonde. Op maak jou depro en moedeloos.

Nou is ek alweer (nogsteeds) op ‘n dieet. Diè keer is dit anders. Ek weet ek gaan maer word. In my lyf is daar tonne deursettingsvermoë. Na jare wat dit op soek was, het ek dit weer gevind. Die wat agter hulle hande lag, kan maar lag. Ek het victory geruik. Ek is unstoppable.

Dag 2 van my dieet is suksesvol afgehandel met nie soveel as een keer wat ek tempted was om the cheat nie. Nou sit ek tussen twee vure. Uit ondervinding weet ek daar is niks so bevorderend vir ‘n dieet soos ‘n skaal se wystertjie wat week na week daal nie.

Dan sê ek weer vir myself. Vet is vet. Maer is maer. Maak nie saak wat jy weeg nie. Maar hoekom het niemand dan nog ooit gesê “weight is just a number” nie?

Die vraag is nou:  Sal ek of sal ek nie ‘n skaal aanskaf nie?


Tuesday, 9 August 2011

Oor vrouedag



Vandag is vrouedag.

Skandelik weet ek nie hoekom vier ons vrouedag nie. Ek probeer dit toe vir myself uitredeneer.

Is dit omdat vroue deesdae alles is? Van broodwinner tot Ma (gaan nie eers taxibestuurder en kok noem nie) Heel moontlik. En daarom hoef ek nie eers uit te wy nie. Ons almal ken die besige hedendaagse lewe maar te goed.

Die heel mooiste eienskap aan vroue is dat hulle sterk is, maar ook sag. Dat ‘n Ma kan raas en pak gee en net daarna troos. Dat hulle in die harde wêreld daar buite oorleef en saans nogsteeds vir hulle kindertjies kosmaak en vertroetel.

My Moeder-lief is die vrou wat ek die meeste bewonder. Nie Helen Zille of Oprah Winfrey nie. Ons twee kan lekker koppe stamp, maar my Ma kan ook opstaan vir haar regte en vir die van ander (meestalhaar kinders s’n) soos Helen en klets soos Oprah. Sy het nog net nooit die geleentheid gehad om dit te bewys nie, want sy staan aan my Pa se sy. Sy volg hom waar hy gaan. Sy stel hom en haar kinders eerste – bo haarself. Dit wil gedoen wees. Ons almal weet om die minste te wees is nie maklik nie.

So vandag vier ek vrouedag soos ek elke ander dag lewe. Ek werk. Tussen deur sal ek aan my Ma dink en in my hart dankie sê dat ek ‘n vrou kan wees.

Baie gelukkig vrouedag, dames. Geniet vrou-wees. Elke dag.


Monday, 8 August 2011

Oor kragkrisisse en parralel parkerings


 
Elke Windhoek inwoner het seker sy of haar eie storietjie rakende die krag krisis wat ons so ‘n rukkie gelede beleef het. En nee, Suid-Afrikaners, ons was nie ingekort op kraggebruik of sonder elektrisiteit nie. Elektrisiteit, diè het ons gehad, maar daar was slegs een plek waar jy prepaid elektristeit kon koop en dit was……………die munisipaliteit!!

Ek neem toe Donderdagoggend my bediende huistoe,  salig onbewus van die nuutste krag verwikkelinge. Baie haastig, wil ek haar net aflaai en teruggaan kantoor toe, maar loer terloops na die kragmeter.

 0.1 eenhede. O gaats!

My moed sak tot binne-in my skoene, want dit is die laaste ding waarvoor ek krag het. (ironies, nè?)

By die naaste supermark lig die kassiere my –gevoelloos – in dat slegs die munisipaliteit krag verkoop. Dis ‘n schlep, maar watter ander keuse het ek? Ek sal die krag gaan koop en die nommer vir Emily sms, besluit ek. Ek ry huistoe, gee Emily se opdragte en vertel haar my Plan-van-aksie. Oppad soontoe sms Emily dat Nampost ook krag verkoop. Ek is verlig – ek verkies die poskantoor bo die munisipaliteit.  

Net daarna bel my vriendin, Kara Kroft.  Ek gee haar ‘n hele relaas van die krag probleem en die poskantoor wat ‘n oplossing bied.

Maar my superslim blonde vriendin dink weer vinnger as ek – sy is baie skepties oor die Nampost kragverkopery – en stel voor dat sy vir Nampost gaan bel om dit te bevestig. ‘n Paar minute later bel sy terug – dis ‘n wolhaarstorie! Ek het egter alreeds verby die munisipaliteit gery – ek was mos oppad poskantoor toe – en moet net daar omdraai.

Maar aan die agterkant van die muni is daar padwerke aan die gang en aan die voorkant ‘n geweldige verkeersopeenhoping. (die muni beslaan ‘n hele blok) In daardie stadium het ek nog nie die implikasies van die dilemma begryp nie. Ek het net gewonder of die mense wat aan die voorkant van die muni die opeenhoping veroorsaak dan besef wat hulle doen nie? Want die trafficjam aan die voorkant, raak deel van die jam aan die agterkant, en veroorsaak een hele grootte trafficjam, 5 verkeersligte verder.

 Ek besluit dat ek eerder ‘n blok of wat verder gaan parkeer en dan sal stap. ‘n Blok of wat verder is daar ook nie juis parkering nie. Ek gaan probeer toe by die parkeerblok by die Hilton Hotel, want daar is baie oop parkering.  

“Jammer Mevrou, dit is nou privaat parkering”, sê die sekuriteitwag vir my.

“Van wanneeer af? Anyways, dit maak nie saak nie. Meneer, ek moet by die munisipaliteit uitkom. Ek moet reeds ‘n blok vêr stap, met my hoëhakkies aan, daar is werklik nie parkering nie, hope trafficjams. Jy kan mos self sien hoe lyk die strate?”, sê ek. Alles in een asem.

“Mevrou,  ek sou jou nou ingelaat het as my supervisor nie hier was nie, maar nou is hy hier en ek sal in die moeilikheid kom” , sê die sekuriteitswag vir my.

 “Maar Mevrou, daar oorkant is ‘n parkering”, sê hy en beduie oor my skouer. Ummm, ‘n reverse parking, my ou!!! Hoe dink jy moet ek my semi-paneelwa in ‘n reverse parking inkry. (Kara Kroft noem dit ‘n space ship)

Ek dog toe, vandag sal ek net eenvouding ‘n reverse parking moet doen. Dit kan nie anders nie. Daar moet ek toe terugstoot in ‘n reeds besige straat, en ‘n u-draai maak op by die ou parkeerplekkie uit te kom. Ry ‘n klein entjie verby, flikkerlig reeds aan, gereed vir die gevreesde reverse-slag. Ewe skielik daar is ‘n stuk of vier motors in my tru-spieeltjie!

Die ou – die idiot – reg agter my het so naby aan my gestop dat ek nie kan terugstoot nie.  Vir my om terug te kan stoot,  moet hy terugstoot. Vir hom om terug te stoot, moet die ou agter hom terugstoot en so moet hulle almal terugstoot vir my om te kan parkeer. En hulle kan nie verby gaan nie, want ons sit almal in een groot trafficjam vas. Wat ‘n chaos. Ek blaas toe die aftog en ry terug kantoor toe.

Kragloos en kragteloos.

Naskrif: Mense het tot sewe ure in die ry gestaan vir krag. Een vrou het selfs flou geraak. Ek het ‘n Marmite toebroodjie by my Ouma se parrafien lampie sit en eet.