Oor begin is nie ‘n streep wat jy kan trek en dan daaroor loop nie. Dit is nie ‘n datum nie, ook nie ‘n denkwyse nie. Hoeveel male die afgelope jaar het ek nie probeer oor begin nie. My kop en my denke probeer vernuwe. Alles ten spyt. Die kop wou, die hart wou, die gemoed wou, die lyf wou! Ek wou! Maar nie eers saam het ons dit nie reggekry nie.
Ek het veranderinge probeer aanbring. Vir twee maande gedreig om my hare te sny of bloedrooi te kleur. Ek het ‘n tuin gemaak. Ek het ‘n nuwe kar oorweeg. Amper ‘n rondloper kat aangeneem.
Na die Desember vakansie sou ek oorbegin. Uitgerus en lus vir nuwe dinge.
Toe probeer ek weer op April Fool’s day. Toe na Paasnaweek. Nog ‘n slag na ‘n naweek by die see. Ek vlug, ek hardloop weg en ek bly op een plek staan.
Dae aaneen kla ek by Kara Kroft dat ek ‘n verandering soek. (Sy keer net vir my hare.)
Toe Sondagaand pak die uitsorteer gier my. Onderin ‘n kas grawe ek ‘n boks met gordyne uit. Ek gaan gordyne hang. Dis mos ‘n verandering. So met die gordyne uitpak ontdek ek my gunsteling kruisie steek prentjie wat “weggeraak” het met die trekkery. (Ma was oortuig dat my eks dit “geneem” het – sy rekord is darem nou in ere herstel!)
Ek haal die oortreksels van die eetkamer stoele af en bêre dit weg. Dit was vir die ou huis bedoel. Met die oortreksel uit die pad, kan ek die kombuis se kleurskema met die rondskuif van ‘n paar ornamente verander. Ek skuif ornamente tussen die sitkamer en my kamer rond. Ek gooi stampels en nogmaals stapels van my gunsteling tydskrifte weg. Ek hou net die Women’s Health, want dit het ek regtig nodig!
Ek ruk resepte en selfdoen projekte uit filpfiles en gooi dit weg. Ek het dit seker vir 10 jaar gebere en ten minste ses keer daarmee getrek. Soms as mens iets weggooi, weet jy jy gaan daarna begin soek. Nie diè keer nie. Ek weet ek gaan nooit weer een van die prente nodig hê nie. Ek het te veel verander, ten goede.
Ek het te veel planne in my kop. My eie planne. Nie iets wat ek na-aap van iemand anders nie.
Toe ek dit alles gedoen het, besef ek: Dit was nou oor begin. Dit is hoe oor begin voel. Lig en lekker.
Ek is nog nie heel seker wat oorbegin is nie. Ek reken dit is ‘n element op sy eie. Of eerder ‘n emosie? Of dalk is ‘n radikale verandering ‘n beter beskrywing? Oor begin is nie ‘n streep wat jy trek nie. Oor begin is nie ‘n besluit nie. Oor begin is nie ‘n datum nie.
Oor begin is ‘n wonderlike ding. Oor begin vind jou vanself as die tyd reg is.
Dan raak oor begin ‘n NUWE BEGIN!