Elke Windhoek inwoner het seker sy of haar eie storietjie rakende die krag krisis wat ons so ‘n rukkie gelede beleef het. En nee, Suid-Afrikaners, ons was nie ingekort op kraggebruik of sonder elektrisiteit nie. Elektrisiteit, diè het ons gehad, maar daar was slegs een plek waar jy prepaid elektristeit kon koop en dit was……………die munisipaliteit!!
Ek neem toe Donderdagoggend my bediende huistoe, salig onbewus van die nuutste krag verwikkelinge. Baie haastig, wil ek haar net aflaai en teruggaan kantoor toe, maar loer terloops na die kragmeter.
0.1 eenhede. O gaats!
My moed sak tot binne-in my skoene, want dit is die laaste ding waarvoor ek krag het. (ironies, nè?)
By die naaste supermark lig die kassiere my –gevoelloos – in dat slegs die munisipaliteit krag verkoop. Dis ‘n schlep, maar watter ander keuse het ek? Ek sal die krag gaan koop en die nommer vir Emily sms, besluit ek. Ek ry huistoe, gee Emily se opdragte en vertel haar my Plan-van-aksie. Oppad soontoe sms Emily dat Nampost ook krag verkoop. Ek is verlig – ek verkies die poskantoor bo die munisipaliteit.
Net daarna bel my vriendin, Kara Kroft. Ek gee haar ‘n hele relaas van die krag probleem en die poskantoor wat ‘n oplossing bied.
Maar my superslim blonde vriendin dink weer vinnger as ek – sy is baie skepties oor die Nampost kragverkopery – en stel voor dat sy vir Nampost gaan bel om dit te bevestig. ‘n Paar minute later bel sy terug – dis ‘n wolhaarstorie! Ek het egter alreeds verby die munisipaliteit gery – ek was mos oppad poskantoor toe – en moet net daar omdraai.
Maar aan die agterkant van die muni is daar padwerke aan die gang en aan die voorkant ‘n geweldige verkeersopeenhoping. (die muni beslaan ‘n hele blok) In daardie stadium het ek nog nie die implikasies van die dilemma begryp nie. Ek het net gewonder of die mense wat aan die voorkant van die muni die opeenhoping veroorsaak dan besef wat hulle doen nie? Want die trafficjam aan die voorkant, raak deel van die jam aan die agterkant, en veroorsaak een hele grootte trafficjam, 5 verkeersligte verder.
Ek besluit dat ek eerder ‘n blok of wat verder gaan parkeer en dan sal stap. ‘n Blok of wat verder is daar ook nie juis parkering nie. Ek gaan probeer toe by die parkeerblok by die Hilton Hotel, want daar is baie oop parkering.
“Jammer Mevrou, dit is nou privaat parkering”, sê die sekuriteitwag vir my.
“Van wanneeer af? Anyways, dit maak nie saak nie. Meneer, ek moet by die munisipaliteit uitkom. Ek moet reeds ‘n blok vêr stap, met my hoëhakkies aan, daar is werklik nie parkering nie, hope trafficjams. Jy kan mos self sien hoe lyk die strate?”, sê ek. Alles in een asem.
“Mevrou, ek sou jou nou ingelaat het as my supervisor nie hier was nie, maar nou is hy hier en ek sal in die moeilikheid kom” , sê die sekuriteitswag vir my.
“Maar Mevrou, daar oorkant is ‘n parkering”, sê hy en beduie oor my skouer. Ummm, ‘n reverse parking, my ou!!! Hoe dink jy moet ek my semi-paneelwa in ‘n reverse parking inkry. (Kara Kroft noem dit ‘n space ship)
Ek dog toe, vandag sal ek net eenvouding ‘n reverse parking moet doen. Dit kan nie anders nie. Daar moet ek toe terugstoot in ‘n reeds besige straat, en ‘n u-draai maak op by die ou parkeerplekkie uit te kom. Ry ‘n klein entjie verby, flikkerlig reeds aan, gereed vir die gevreesde reverse-slag. Ewe skielik daar is ‘n stuk of vier motors in my tru-spieeltjie!
Die ou – die idiot – reg agter my het so naby aan my gestop dat ek nie kan terugstoot nie. Vir my om terug te kan stoot, moet hy terugstoot. Vir hom om terug te stoot, moet die ou agter hom terugstoot en so moet hulle almal terugstoot vir my om te kan parkeer. En hulle kan nie verby gaan nie, want ons sit almal in een groot trafficjam vas. Wat ‘n chaos. Ek blaas toe die aftog en ry terug kantoor toe.
Kragloos en kragteloos.
Naskrif: Mense het tot sewe ure in die ry gestaan vir krag. Een vrou het selfs flou geraak. Ek het ‘n Marmite toebroodjie by my Ouma se parrafien lampie sit en eet.