Monday, 21 November 2011

Dag 7 ..... deel 2

Dag 5

Ons het champers gereël by die werk. Liewe Heksie het uiteindelik van haar besem afgeklim – so voel die girls by die werk. Hulle wil dit graag vier. En daar vergeet ek die pienk bubbly by die huis. Toe ek terug ry om dit te gaan haal kry ek ‘n oproep die prokureurs kantore, wat laat weet dat die skei-sertifikaat gereeld is. Dinge val in plek. Oppad terug kantoor toe, kry ek ‘n oproep van ‘n vreemde nommer, ‘n halfbekende stem. Die plaaslike radiostasie laat weet my dat ek pizza gewen het. Ek het nog nooit iets gewen nie. Ek is uit my vel uit. Ek wil huppel en spring en skop en gil. Ek het gewen! Ek het gewen!! Die lewe kan nie beter nie. Dis die gelukkigste dag in my lewe.

Dag 6

Ek gaan na die naaste supermark vir benodighede. Ja, die duiwel was wragtig weer voor my daar. Die keer het hy nie jamrolls daar gelos nie. Franse truffels en trukse Turkish Delights en een of ander eksotiese nougat! Natuurlik het ek dit gekoop. Terug by die huis sit en bekyk ek die aankope. Toe bêre ek dit weg. En toe haal ek die truffles uit. Om een te proe. Want ek het 2 boksies gekoop, ek wil die een as geskenk gee en dis teen my beginsels om vir ander mense goed te gee wat ek nog nie uitgetoets het nie. Sê nou dis nie lekker nie?!

Dit is toe… hemels. Maar ek proe nie nog een nie. En die ander lekkergoed bly veilig in die kas. Dit gaan huis toe met die langvakansie. My pa se soettand gaan groot waardering daarvoor hê.

Dag 7

Die laaste dag van week sewe. Daar is nog net 3 weke van bootcamp oor. Ek gooi alle hoop by die vensters uit. Daar is nie ‘n manier dat ek in drie weke gaan vermag wat ek nie in sewe kon doen nie. Ek is gatvol. Dag 5 was ek die gelukkigste mens op die aarde, vandag die ongelukkigste. Ek is moedeloos. En kwaad. Vir die hele bleddie lewe. Ek is vies oor alle seer wat daar al in my lewe was. Ek is vies vir elke bleddie mens wat daartoe bygedra het. Of hulle nou bedoel het om seer te maak of nie, ek is kwaad vir hulle. Ek is sommer lus en haat hulle almal. Verdien ek regtig al die seer? En as ek dit verdien, so what? Van van al die ander evil people daarbuite wat gelukkig is. Hoekom kan hulle ‘n stukkie van die pie kry, maar nie ek nie?

En ek huil en huil en huil, sonder ophou. Want my “lewens-pie” is gemuf en vrot.

Gelukkig makeer die French truffels niks nie………