Tuesday, 13 December 2011

Week 10 - Die End

Dag 1
Dag een is blou – van donderwolke. Die bootcamp-monsters is op hul pos. Ons drie koek saam in Lalie se kar en wag vir die reen om te bedaar. Maar dis  (weereens) onmoontlik om te oefen en Saartjie wil gaan koffie drink. Sommer by Lalie se huis. Sy voeg ook woord by daad en nooi die Beast toe die eerste beste  geleentheid ditself voordoen. (Beast bly ‘n klipgooi van Lalie af) Ek wonder of ek net my kop of sommer my hele lyf onder Lalie se karretjie se dashboard moet indruk. Die man sal dink ek het ‘n crush op hom . En dat ek my die girls aanhits om hom op dates te vra. Ek wonder nog hoe ek die koffie afspraak  ongedaan sal maak, toe die Beast ons kom meedeel hy’s reg om te gaan koffie drink. As ek dit nie mis het nie het hy vir my gekyk toe hy dit sê?

Dag 2
Jennifer Aniston feature op Facebook – sexy, slank, soepel! Pragtig!  Joga, berig die artikel. As dit is wat joga aan jou doen, wil ek dit ook doen. Ek deel die plan met die girls en ons is meteens dat ons volgende jaar joga gaan doen. Kort voor lank pos Lalie vir ons joga oefenbroekies op ons BBM-oefengroep. Saartjie weier om dit te dra, maar ons gaan ‘n spanpoging aanwend en moet almal eenders lyk. Team Joga! Tussen deur dit alles kry ek ‘n e-mail wat my in kennis stel dat ek ‘n afspraak moet maak vir die Bodystat – analise. Ek raak benoud.

Daar lê  potblou wolke op die horison.Van ons groepie is dit net ek en Lalie wat opgedaag het vir die marteling. Ek bid hard dat die wolke moet nader kom. Vergeefs. Hulle kom nie ‘n aks nader nie. En die Beast laat smaak ons hel voor dadels. Hy voel ons moet inhaal vir die sessies wat ons gemis het. Ons doen vandag al die aaklige oefening in die boek. Burpies, lunchwalkes, paddaspring.

Toe ons op ons ruggies neerval vir crunches, begin plons groot reendruppels neer en die bootcamp word dismissed.

Dag 3
Ek maak ‘n afspraak vir die body stat. En ek skraap moed bymekaar om die Beast te vra na ‘n vertoning by die teater. More is die laaste bootcamp en Vrydag gaan die Beast op verlof. Hy het nou wel gesê ons moet die vakansie iets doen – midde in die vakansie kruis ons paaie op dieselfde dorp, maar dis dalk ‘n goeie idee om die kommunikasie en kontak kanale te verstewig voordat dit te laat is.

Ek stuur hom ‘n sms en laat dit baie non-chalant klink. Die  jy-weet- jy –is- welkom -om –ons- te-joins, hoe- meer- siele- hoe- meer -vreugde tipe van act. Hy bel terug. (!!!!!!) En my hart begin te bokspring. Ek staan vir ongeveer ‘n minuut na die caller ID en kyk en antwoord toe uitasem (of kortasem?) Toe hy vra wat ek maak, skrik ek my boeglam. Wat moet ek sê? Ek het soos ‘n idioot na jou naam op my selfoon se skerm staan staar die afgelope minuut! Voor dit het ek op my bed gelê en dink (aan jou). Nee sê ek, ek het nou sopas uit die stort geklim. Toe gee hy so ‘n verleë laggie (of altans dis hoe dit geklink het) en vra hoe laat die verrigtinge begin en tot wanneer dit aanhou. Die Beast sê hy het nog ‘n langpad die volgende dag, hy kan nie te laat in die bed kom nie. Ek voel sommer aan my basvelle hier kom ‘n dom verskoning. Embarrassed is nie die woord nie. En ek het, om alles te kroon, ‘n druppende stomende stortlyf in die storie ingewerk en hy gaan NEE sê. Hoeveel  public humiliation gaan ek nog verduur?

Maar voordat ek heeltemal in my “badkamer” vloer inmekaar sak van skok, sê die Beast dat hy daar sal wees!! (phewwwwwww!)

Dag 4
Laaste bootcamp. Bodystat.  My senuwees hang aan ‘n vislyn. Omstreeks half een meld ek aan by die bodystat kantoor. Ek sien die Beast se kar nêrens. Ek stap in en begin onmiddelik hope nonsens praat – ek doen altyd as ek senuwee agtig is. En voor ek my kom kry, staan ek voor ‘n groot wit skaal.

Ek knyp my oê styf toe terwyl ek versigtig – voetjie vir voetjie op die skaal klim. En toe maak ek my oê weer stadig oop – soos ek altyd doen as ek na my eksamen uitslae kyk. 

En toe trek ek los en begin vloek.  Want ek het nie ‘n enkele kilogram afgeval nie. In fact – wait for it – ek het 2.7 kilogramme OPGETEL. Die bodystat vrou probeer paai en maak verskoning dat hulle ‘n ander skaal gekry het – maar die mates – die mates – die mates – dis wat belangrik is. (F die mates – dink ek) Ons meet – oftewel sy meet – ek staan daar. Opgeblaas van pure skok. En die mates se resultaat lyk nie veel beter as die skaal sinne nie. Om die middelyf is ek ‘n cm breër , om die heupe ‘n cm smaller. Beteken dit nou my vet het opgeskuif? Beteken dit dat my enigste maer gedeelte ook nou vet is? Ek voel aaklig. Ek voel soos huil. 10 weke. 2 en ‘n halwe maand se gesuffer – vir NIKS!  Die bodyfat persentasie is met ‘n present af!  Ek soek iets  - n positiewe gedagte – wat my van totale ineenstorting gaan red – maar niks. Die benoude uitdrukking op die maatbandvrou se gesig laat my besef dat ek maar my pose sal moet hou – net nou bel sy ‘n ambulans om my hospital toe neem vir skokbehandeling.

Ek stap by die horror kantoortjie uit. Verby die gim gedeelte. Vaagweg, hoor ek ‘n bekende stem. Die Beast s’n. Dieselfde stem wat my georder het om vinniger te hardloop, burpies te doen en soos ‘n padda te spring. En dit was alles verniet. Ek kan seker hallo sê maar ek stap aan.

Halfpad kar toe hoor ek hom na my roep. Ek draai om, hy hang halflyf by die gim se venster uit. Toe ek na hom kyk vra hy of ek hom gaan dagvaar. (ek het gese ek gaan as die bootcamp nie vrugte afwerp nie)  TOTALLY!!  Ek vertel hom van die horribale uitslae. Hy praat sommer dadelik ander stories. Oor die vertoning en die dresscode.

Dit neem my nie lank om te besluit dat ek die laaste bootcamp gaan ditch en gaan titivate vir die aand nie. Ek kry later ‘n sms van die Beast waarin hy verskoning maak vir die uitslae, en as troosprys sê hy hy dink nogsteeds ek is sexy! Gladdebek mannetjie!
                                            
Dag 5
Dis verby. Die 10 weke program en die Beast. Gisteraand is ek nie een keer “nooi” genoem nie. Ek is wel saam kar toe genooi  – sodat hy die oefenprogramme vir die vakansie vir my kan gee. Die ander klomp is almal gedruk en gesoen, maar toe dit by groet kom is ek half skuins aangloer. Ek het toe maar oorgeleen in die Beast ‘n piksoentjie gegee. En toe gesê ek bel jou die vakansie! Ek het met dieselfde gevoel weggestap as uit  daai maat-skaal kantoortjie.  Almal rondom my verwag resultate, ek verwag resultate, maar NIKS. BOGGEROL, ZILCH!!!  NADA!

Ek wou gehad het die 10 weke moet met ‘n bang eindig. Ek, wat Does is hou van stories. Ek hou van hoogtepunte en aksie. Ek hou van goed wat vinnig gebeur.

Maar die lewe werk nie altyd soos uit nie. Soms moet mens gaan sit en die positiewe uit ‘n situasie haal en aanhou werk vir dit wat jy wil hê. Die liefde, die lewe, die lyf! My laaste poging was dalk nie so suksesvol as wat ek gehoop het nie, maar ek is lank nog nie reg om handdoek in te gooi nie.

My selluliet is minder. My spiere is meer. Die lewens jare raak meer. Die wysheid ook. Die ou Does wat haarself verloor het, begin stadig maar seker weer lewe kry. Vroeg in 2012, slaat Does die Dertigs. En dit gaan my jaar wees.

En dan, daar doer in die verte, op die bank van die Oranje, is ‘n Beast……

Een wat net ‘n meisie met die naam van Does kan tem!

Monday, 12 December 2011

Week 9 .....(sug)

Dag 1
Week 9. Die einde in sig. Ek is ready and motivated om die beste te maak van die tyd wat oorgebly het. Toe begin dit reen. Getroue bootcamp-monsters wat ons is, is ons daar (Ons = Does, Saartjie en Lalie). In die reen, ready for action. Kara Kroft kon natuurlik nie wag om dit as verskoning te gebruik nie en het geskitter in haar afwesigheid.

Maar die aanhoudende gesous op die oefenveld maak dit onmoontlik om te oefen. Saartjie neem beheer van die situasie en nooi die Beast vir ‘n drink.  En weg van die oefenveld is hy glad nie monsteragtig nie. (hy’s eintlik nogals oulik?) Ons praat bootcamp stories en Saartjie vra dat ons minder push-ups moet doen omdat dit haar  Mamsie Links & Regs laat krimp het na ‘n 34 A. (Ek en Lalie swyg, ons kla nie daaroor nie)


Dag 2
Ek is confuse en alleen. Hoekom weet ek nie? Daar is oorgenoeg mense in my lewe en dinge om te doen. Mnr H en ek gesels een stryk deur, Chuck gee raad en spot oor die situasie. My familie is nog almal lief vir my en my vriende hopelik ook.

Dan is daar bootcamp en die Beast. Hy het gister aand kaalvoet by die drinkplek opgedaag.Normaal weg keur ek nie kaalvoete in openbare plekke goed nie. Maar sjoe, die man pas in kaalvoet! (Dalk was sy tekkies nat van in die waterplasse rondhol?)

Saartjie en Lalie sê ek moet my attitude en lang gesig regpluk. Saartjie stel voor ek neem die lyding want vandag se outjies is skaam. Sy het vir Mnr SS so in katrol. Ek het my eksman ook so in katrol en waar het dit my gebring!! (catch is een ding , release ‘n ander)

Ek het my hare laat sny en die Beast  het  dit opgemerk. Flippen hel, as hy nie blou oë gehad het en in kaalvoet gepas het nie, sou ek lankal nie meer oor hom gepraat het nie.

Dag 3
Ons doen naweek beplanning en die girls wil die Beast betrek. Ek moet hom nooi, maar ek’s te skaam. Hulle wil nie, want hulle is getroud en dis onbetaamlik. Ek vra vir Chuck wat hy dink en hy voel dat ek net die Beast moet nooi en klaar kry.

Dag 4
Saartjie kom tot my redding en nooi die Beast uit. Hy trap ietwat ongemaklik rond en sê dit klink lekker. Hy lyk skepties, ek voel skepties. En dan vang die Beast se oog myne ek kry ‘n snaakse rilling. Dit was nie ‘n normale kyk nie, of was dit? Ek voel hoe my wange rooi raak. Ek voel hoe ‘n bang word gevoel van my besit neem. Die Beast beloer my en ek beloer hom. Toe raak ek rerig bang ensê ek moet ry, ek is laat vir ‘n afspraak.


Dag 5
Ek wonder vir ‘n rukkie wat ek gaan aantrek, en dan wonder ek hoekom ek nou weer iets mooi wil aantrek? Dis net drinks met die girls en miskien die Beast. Ek is nie oop vir teleurstelling nie. Chuck het voorgestel dat ek die Beast moet vasgryp en in ‘n ander dimensie insoen. Ek weet nie hoekom almal dink ek moet die man soen nie. Ek is nie ‘n Beast temmer nie. Ek is Does, ‘n banggat en ‘n wegholler.  

Dag 6
Dag vyf het eers in die oggendure van dag 6 opgehou. Die Beast hou van kuier en praat (en hy kan dans!!!)  Hy noem my “nooi” Sò dat dit nie outyds klink nie. Hoe kry hy dit reg? En dan sê hy goed soos ek ‘n het spontane persoonlikheid vir ‘n boekhouer (huh?),  het ‘n sonskyn geaardheid (wat rook die man?) en ‘n so ‘n positiewe mens (dit moet iets potent wees!!)– alles ‘n klomp snert. Spontaan, sonksyn en pragtige is nie woorde wat in dieselfde sin as Does genoem word nie. Maar sooooo lekker om hoor……..


Dag 7
Lalie se man vermoed die Beast is ‘n player en gigilo. Want hy weet van ‘n biokenitikus in Burgersfort wat vriendelik was met sy pasiënte en later baie onwelvoeglik (of dalk baie welvoeglik?) gehandel het met die ouer, ryker dames. Ons weet nie of dit dames dalk gekla het of dit geniet het nie, maar die punt bly staan dat ek nie ‘n ryk ou dame is nie……. en die Beast bly nie in Burgersfort nie.

Ek wag in spanning vir week 10 ..

Thursday, 1 December 2011

Week 8

Dag 1

Die Maandag is vol happy people. Ek is terug op my besem. Ek sit in my eie geïsoleerde gaatjie en wag vir beter dae. Ek het gedink as daar iemand is wat alleen-wees kan af pull, dit ek sal wees. Want ek is soms ‘n moeilike, iesiegrimming heks wat net op haar eie mishoop wil sit en die gifappeltjies na jelliemanne laat lyk.

Ek was verkeerd. Ek het iemand nodig wat vra “hoe was jou dag?” Een wat verkieslik sal luister as ek begin galbraak oor al die dom mense wat dom vrae vrae en eerder na Domland toe verban moet word. Ek sal bly wees as die persoon dan die gepaste “oe” en “aa” geluide maak en dan vir my ‘n glas wyn skink en dan voorstel dat ons sommer vanaand pizza moet eet!

Dag 2

Baboonwalks, squatjumps, lunchwalks, calves jumps.
Horrible goeters. Ek is eerder ‘n padda voor ek ‘n bobejaan is. Dis ‘n marteling van ‘n ander aard. Gelukkig vir my het ek al die kuns bemeester om  “besig” te lyk op die oefenveld. Van die 5 push-up burpy’s het ek het minus een gedoen.

Dag 3

Dis oefening afdag. Goeie ding. Want ek kan nie loop nie. En as ek doen, lyk ek soos ‘n bobejaan. Voel ook soos een. Ek trek maar plat skoentjie en jeans werk toe aan.  Die seer bene doen niks vir die gemoed nie en ek pos een of ander jammerkry status op my BB. My neef reageer en ek stort my hart uit. Lang storie kort, ek eindig op ‘n blackberry-blinddate met Mnr H, vriend van my neef. Die padjies van my lewe loop wilde, weird draaie.

Dag 4

Ek en Mnr H kuier lekker oor die BBM. Ek sê hom hy moet my eerder op FB nooi, want die BB knoppies tik te stadig. Hy doen. Die girls keer vreeslik, hulle is bang  hy is ‘n facebook moordenaar!!  Ek is nie bang nie, en gaan aanvaar. En natuurlik gaan check ek hom uit! Duh!!  En daar sit toe ‘n Mev P op Mnr H se profiel – as sy vrou! “Married to” En die girls is met moord gepla!! Mnr H het gesê hy is besig om te skei – fair enough- so wat maak Mamma P nog op sy profiel? Ek gebruik nie graag die woord nie, maar “eishhhhhhhh

Dag 5

Ek gee vir Mnr H Divorce 101 lesse. Mamma P moet van die profiel af. Sy kan nie daar sit nie. Been there, done that, got 2 T-shirts, en besluit dat ek vir Mnr H sal moet adviseer in die aangeleentheid. Ek stuur toe my advies deur per FB boodskap en kort voor lank is Mamaa P Done and Dusted.   Ek wonder so in die stilligheid of sy dit sal agterkom en wat sy sal dink as sy dit raak sien. (Ag, dis so lekker om ander mense te help, ek moet dit meer dikwels doen)

Dag 6

Ons gaan kuier by Saartjie. Sy het heerlike punch gemaak. Dis geel en baie lekker, smaak net soos koelies. Ek dink Saartjie het chill pille by die punch gegooi want groot saligheid kom oor my. Ek voel net sorgloos en kommervry. Saartjie se buurvrou, Pinkie vertel lang stories.  Van Afrikaanse musiek wat nie in haar smaak val nie, haar ex-boyfriends en vertel hoe sy geboorte geskenk het. Ek luister met ‘n halwe oor en skink nog punch.  En toe skraap ek moed bymekaar en vra haar of sy haar nie elke oggend vrek skrik as sy in die spieël kyk en daai pink hare van haar sien nie!!

Dag 7

Ek is so moeg. Baie , baie moeg Almal dink dis die punch, maar ek weet van beter.

Ek wonder, ek wonder.......