Tuesday, 13 December 2011

Week 10 - Die End

Dag 1
Dag een is blou – van donderwolke. Die bootcamp-monsters is op hul pos. Ons drie koek saam in Lalie se kar en wag vir die reen om te bedaar. Maar dis  (weereens) onmoontlik om te oefen en Saartjie wil gaan koffie drink. Sommer by Lalie se huis. Sy voeg ook woord by daad en nooi die Beast toe die eerste beste  geleentheid ditself voordoen. (Beast bly ‘n klipgooi van Lalie af) Ek wonder of ek net my kop of sommer my hele lyf onder Lalie se karretjie se dashboard moet indruk. Die man sal dink ek het ‘n crush op hom . En dat ek my die girls aanhits om hom op dates te vra. Ek wonder nog hoe ek die koffie afspraak  ongedaan sal maak, toe die Beast ons kom meedeel hy’s reg om te gaan koffie drink. As ek dit nie mis het nie het hy vir my gekyk toe hy dit sê?

Dag 2
Jennifer Aniston feature op Facebook – sexy, slank, soepel! Pragtig!  Joga, berig die artikel. As dit is wat joga aan jou doen, wil ek dit ook doen. Ek deel die plan met die girls en ons is meteens dat ons volgende jaar joga gaan doen. Kort voor lank pos Lalie vir ons joga oefenbroekies op ons BBM-oefengroep. Saartjie weier om dit te dra, maar ons gaan ‘n spanpoging aanwend en moet almal eenders lyk. Team Joga! Tussen deur dit alles kry ek ‘n e-mail wat my in kennis stel dat ek ‘n afspraak moet maak vir die Bodystat – analise. Ek raak benoud.

Daar lê  potblou wolke op die horison.Van ons groepie is dit net ek en Lalie wat opgedaag het vir die marteling. Ek bid hard dat die wolke moet nader kom. Vergeefs. Hulle kom nie ‘n aks nader nie. En die Beast laat smaak ons hel voor dadels. Hy voel ons moet inhaal vir die sessies wat ons gemis het. Ons doen vandag al die aaklige oefening in die boek. Burpies, lunchwalkes, paddaspring.

Toe ons op ons ruggies neerval vir crunches, begin plons groot reendruppels neer en die bootcamp word dismissed.

Dag 3
Ek maak ‘n afspraak vir die body stat. En ek skraap moed bymekaar om die Beast te vra na ‘n vertoning by die teater. More is die laaste bootcamp en Vrydag gaan die Beast op verlof. Hy het nou wel gesê ons moet die vakansie iets doen – midde in die vakansie kruis ons paaie op dieselfde dorp, maar dis dalk ‘n goeie idee om die kommunikasie en kontak kanale te verstewig voordat dit te laat is.

Ek stuur hom ‘n sms en laat dit baie non-chalant klink. Die  jy-weet- jy –is- welkom -om –ons- te-joins, hoe- meer- siele- hoe- meer -vreugde tipe van act. Hy bel terug. (!!!!!!) En my hart begin te bokspring. Ek staan vir ongeveer ‘n minuut na die caller ID en kyk en antwoord toe uitasem (of kortasem?) Toe hy vra wat ek maak, skrik ek my boeglam. Wat moet ek sê? Ek het soos ‘n idioot na jou naam op my selfoon se skerm staan staar die afgelope minuut! Voor dit het ek op my bed gelê en dink (aan jou). Nee sê ek, ek het nou sopas uit die stort geklim. Toe gee hy so ‘n verleë laggie (of altans dis hoe dit geklink het) en vra hoe laat die verrigtinge begin en tot wanneer dit aanhou. Die Beast sê hy het nog ‘n langpad die volgende dag, hy kan nie te laat in die bed kom nie. Ek voel sommer aan my basvelle hier kom ‘n dom verskoning. Embarrassed is nie die woord nie. En ek het, om alles te kroon, ‘n druppende stomende stortlyf in die storie ingewerk en hy gaan NEE sê. Hoeveel  public humiliation gaan ek nog verduur?

Maar voordat ek heeltemal in my “badkamer” vloer inmekaar sak van skok, sê die Beast dat hy daar sal wees!! (phewwwwwww!)

Dag 4
Laaste bootcamp. Bodystat.  My senuwees hang aan ‘n vislyn. Omstreeks half een meld ek aan by die bodystat kantoor. Ek sien die Beast se kar nêrens. Ek stap in en begin onmiddelik hope nonsens praat – ek doen altyd as ek senuwee agtig is. En voor ek my kom kry, staan ek voor ‘n groot wit skaal.

Ek knyp my oê styf toe terwyl ek versigtig – voetjie vir voetjie op die skaal klim. En toe maak ek my oê weer stadig oop – soos ek altyd doen as ek na my eksamen uitslae kyk. 

En toe trek ek los en begin vloek.  Want ek het nie ‘n enkele kilogram afgeval nie. In fact – wait for it – ek het 2.7 kilogramme OPGETEL. Die bodystat vrou probeer paai en maak verskoning dat hulle ‘n ander skaal gekry het – maar die mates – die mates – die mates – dis wat belangrik is. (F die mates – dink ek) Ons meet – oftewel sy meet – ek staan daar. Opgeblaas van pure skok. En die mates se resultaat lyk nie veel beter as die skaal sinne nie. Om die middelyf is ek ‘n cm breër , om die heupe ‘n cm smaller. Beteken dit nou my vet het opgeskuif? Beteken dit dat my enigste maer gedeelte ook nou vet is? Ek voel aaklig. Ek voel soos huil. 10 weke. 2 en ‘n halwe maand se gesuffer – vir NIKS!  Die bodyfat persentasie is met ‘n present af!  Ek soek iets  - n positiewe gedagte – wat my van totale ineenstorting gaan red – maar niks. Die benoude uitdrukking op die maatbandvrou se gesig laat my besef dat ek maar my pose sal moet hou – net nou bel sy ‘n ambulans om my hospital toe neem vir skokbehandeling.

Ek stap by die horror kantoortjie uit. Verby die gim gedeelte. Vaagweg, hoor ek ‘n bekende stem. Die Beast s’n. Dieselfde stem wat my georder het om vinniger te hardloop, burpies te doen en soos ‘n padda te spring. En dit was alles verniet. Ek kan seker hallo sê maar ek stap aan.

Halfpad kar toe hoor ek hom na my roep. Ek draai om, hy hang halflyf by die gim se venster uit. Toe ek na hom kyk vra hy of ek hom gaan dagvaar. (ek het gese ek gaan as die bootcamp nie vrugte afwerp nie)  TOTALLY!!  Ek vertel hom van die horribale uitslae. Hy praat sommer dadelik ander stories. Oor die vertoning en die dresscode.

Dit neem my nie lank om te besluit dat ek die laaste bootcamp gaan ditch en gaan titivate vir die aand nie. Ek kry later ‘n sms van die Beast waarin hy verskoning maak vir die uitslae, en as troosprys sê hy hy dink nogsteeds ek is sexy! Gladdebek mannetjie!
                                            
Dag 5
Dis verby. Die 10 weke program en die Beast. Gisteraand is ek nie een keer “nooi” genoem nie. Ek is wel saam kar toe genooi  – sodat hy die oefenprogramme vir die vakansie vir my kan gee. Die ander klomp is almal gedruk en gesoen, maar toe dit by groet kom is ek half skuins aangloer. Ek het toe maar oorgeleen in die Beast ‘n piksoentjie gegee. En toe gesê ek bel jou die vakansie! Ek het met dieselfde gevoel weggestap as uit  daai maat-skaal kantoortjie.  Almal rondom my verwag resultate, ek verwag resultate, maar NIKS. BOGGEROL, ZILCH!!!  NADA!

Ek wou gehad het die 10 weke moet met ‘n bang eindig. Ek, wat Does is hou van stories. Ek hou van hoogtepunte en aksie. Ek hou van goed wat vinnig gebeur.

Maar die lewe werk nie altyd soos uit nie. Soms moet mens gaan sit en die positiewe uit ‘n situasie haal en aanhou werk vir dit wat jy wil hê. Die liefde, die lewe, die lyf! My laaste poging was dalk nie so suksesvol as wat ek gehoop het nie, maar ek is lank nog nie reg om handdoek in te gooi nie.

My selluliet is minder. My spiere is meer. Die lewens jare raak meer. Die wysheid ook. Die ou Does wat haarself verloor het, begin stadig maar seker weer lewe kry. Vroeg in 2012, slaat Does die Dertigs. En dit gaan my jaar wees.

En dan, daar doer in die verte, op die bank van die Oranje, is ‘n Beast……

Een wat net ‘n meisie met die naam van Does kan tem!