Dag een:
Daar is ‘n vreeslik gevoel wat aan my karring wat ek nie afgeskud kry nie. Dis soos ‘n kewer wat op en af hardloop in my werwelkolom. Ek weet ek moet iets doen, maar WAT? Ek skuif die gevoel eenkant toe en fokus op die partytjie reêlings. Gewoonlik werk dinge glad nie uit soos ek beplan nie, maar met die GROOT 30 gaan ek my bes probeer dat alles volgens die plan en prentjies in my kop verloop.
Ek begin ook vandag met ‘n nuwe eetplan – dit sal hierdie week slegs tot Dag 3 streng gevolg word, want my partjieresepte bevat room en nie 3 appels per dag nie. Dit is my laaste week van “rus”, volgende week begin die bootcamp weer en my Projek 30 – SOS – tem die 30’s!
Dag 2:
Na ‘n lang nag se wakker lê is ek moeg. Moeg van wakker lê, moeg van droom van iemand wat langs my lê. Ek slaap dwaroor die bed, skuinsoor, kop by voetentend. Soms hou ek hou ek 1 kussing van, soms pak ekmyself toe met 2 kussings. Ek lê die hele queen size bed vol, net jammer ek slaap nie.
Ek gaan oor die middag uur mall toe ek koop ‘n skaal. Om 30 te wys wie’s baas moet ek my vrese oorwin – een van dit is ‘n skaal en die ander een is public humiliation (daarvoor ek het nog nie krag nie) Die skaal moet elektronies wees, het ek besluit. Dat ek baie lanklaas in verbinding met ‘n weegmasjien was, word duidelik toe ek sien wat deesdae beskikbaar is. Nie net is daar elektroniese skale nie, daar is ook wat jou water-, vet- en spiermassa kan bepaal. Dis die een wat ek koop .Dapper Does.
FB het ‘n pos wat my aandag trek - Celebrities’ break-up hairstyles. Ek is ‘n jaar en ‘n half geskei. Ek het 2 potensiële liefdes gehad waarvan nie een belanggestel het nie. (ek het vir die wêreld vertel dat ek crushes op die ouens het – en my naam met ‘n 10 m plank geslaan) Nie vir een van die teleurstellings het ek ‘n verandering ondergaan nie. (ek het net wraakgedagtes gekoester) Ek oorweeg 2 opsies – Katty Perry of Ashlee Simpson. Toe bel ek die haarkapster. Sy kan my die volgende oggend om 8h00 boek!!
Dag 3:
Ek maak skaars ‘n oog toe. Ek raak wakker, rol rond en skakel die lig aan om na die uitknipsel van die 3 kapsels te kyk. (Jennifer Aniston het bygekom) Ek oor weeg dan die voordele en nadele en my eie vrese en verwagtinge. Dan neem ek ‘n besluit, skakel die lig af en probeer verder slaap. Probeer. Want dan herhaal die proses ditself. Ek besluit later op Ashlee Simpson. Dit is die grootste verandering en vereis die meeste waagmoed. Toe slaap ek verder.
As ek bang was of dalk deepdown gehoop het die haarkapster gaan my anders probeer oortuig, was ek verkeerd. Sy is maar te gretig om my hare met haar skêr te verslind.
(Ps: Die hare lyk toe stunning!)
Dag 4:
My 30ste is glad nie soos ek dit voorgestel het nie – dis 30 maal beter!! Te danke aan strawberry daiquiri en Vodka-en-ystee , die feit dat ek enige iets mag eet en myself met die regte vriende en familie omring. Ek wonder net soms of dit is omdat hulle my sad lewe van ‘n kant af bekyk en my jammer kry en of ek ooit iets vir hulle beteken. Want ek weet dat ek tè reguit is, tè aanhoudend en my neus indruk waar dit nie hoor nie. Ek is paranoid en ‘n control freak. En nou ek is by dit alles nog halfpad oud ook.
Dag 5
Saarkie bring vir my en Lalie koffie in die bed (ek daar gaan slaap) Sy’t byvoorbaat suiker in my koffie gegooi. Ek drink dit bitter, maar kla nie. Op kantoor voel ek soos ‘n ou ,vuil vadoek. Al waaraan ek kan dink is my bed en hoe lekker dit sal slaap.
Dag 6:
Die realiteit dat ek nou 30 is sak stadig in. Maar dit sak in. Ek weet daar lê ‘n lysie van to-do’s, ideale en doelwitte êrens in die huis rond. Ek weet ook dat ek nooit die lysie weer sal kry nie. Ek sal moet oor begin, nuwe lysie maak, want ek sit met ‘n groot probleem – EK IS VERLIEF OP DIE BEAST. No jokes! Maar ek weet ook dat my saak maar dim en grim lyk en dat ek baie vining, baie ernstig sal moet doen om die seer te sidestep.
Dag 7:
Ek moet weer 5 stappe vorentoe spring. Ek spring weg en skuif die woonstel soos ek en Lalie nou die dag bespreek het. Die lessenaar gaan na ‘n meer gerieflike spot. Want van môre af is dit ek en die boeke. Een ding wat nie uit my lewe gaan verdwyn nie, is die feit dat ek moet werk. En om geleerdheid te hê sal die salaris hopelik verhoog. Nou fokus ek op die dinge wat saak maak en nie die dinge wat ek wil hê nie. (en dis net baie sad!)
Ek voel tevrede met my effens meer positiewe gemoed en dit feit dat ek (soort van) ‘n plan het. Ek voel soos vars lug. Ek trek my tekkies aan (môre begin ek weer bootcamp) Ek draf gou oor winkel toe. Maar tussen êrens en nêrens, hardloop my bene vinniger as ek, en ek slaat in verskillende seksies op die teerpad neer.
Ek stap krippel-krippel huistoe, met die bebloede kniekoppe en stukkende handpalms.
Ek kan maar net herhaal :
Dinge werk so nie uit soos ek beplan nie.