Tuesday, 18 December 2012

2012 - Dis die einde hierdie .....


My 2012 timeline:

Januarie – verjaar en word 30.

Februarie – ontmoet ‘n potensiële  liefde

Maart – verander FB status na “in a relationship”

April – verander FB status na “single” en besluit om dit sommer te delete (verhoudings is nie my sterkpunt nie)

Mei – Skryf eksamen

Junie – trek na ‘n ander woonstel

Julie – Bootcamp in die winter. Eksamen uitslae en dop my gunsteling vak: Commercial law.

Augustus -  Slaaplose nagte en “loose”  dit stadig maar seker.

September – “loose” dit regtig en call for ‘n time-out.

Oktober –  Kry die Baasklaas verassing

November – Kry ‘n nuwe kar

Desember – ontmoet ‘n unicorn.

Ek het hierdie jaar met ‘n fabulous spirit begin. Ek het geglo ek gaan unstoppable wees. (Apparently, is ek stoppable! Vra die jaar 2012!!)

Ek is seker die jaar 2012 hou die rekords vir die meeste vroue swanger, since ever!!!  Mense trou, raak verloof en verander van “single” na “into a relationship” op FB. Soms het ek FB vermy, die skokke was net te veel.  Sout in my wonde!

Ek het hierdie klomp happy mense bejeen met ‘n afskuwelike afguns.  Dit het gevoel om my lewensomstandighede gaan vries het. (wel, dit het!) Ek-  as mens -  het nie gevries nie. Ek het met een moerse spoed gegroei. Geleer. Geval , opgestaan. (daardie proses het ‘n paar maal herhaal) As eindproduk het ek heelwat meer plooie en dis iets waarmee ek sal moet vrede maak, kom 2013.

(En nou het 2012 twee eindes. ‘n Ware einde en ‘n Mooi storie einde (wat ook die waarheid is, maar dis meer soetsappig en nie hoe ek werklik voel nie)

 Die Mooistorie einde
Wat ek die heel meeste van 2012 verpes, was dat ek sò gesukkel het om aan die lewe te bly, dat ek al die mense rondom my afgeskeep het. Mense wat nie afskeep verdien nie. Mense wat altyd daar is as ek hulle nodig het.  EK het vir die mense wat my aan die lewe gehou het, niks beteken nie.

Die waarheid is – 2012 is tot ‘n mate my verdiende loon.

Voor ek 28 en manloos was, was mense nie belangrik nie. Nie belangrik genoeg nie. Vorentoe gaan was. Drome (al die verkeerde drome) was belangrik. ‘n Beter huis, ‘n beter motor, ‘n strandhuis (ja, want wie kan nou sonder ‘n strandhuis klaarkom. ) Vakansie hou. Ek het nie eers aan kinders gedink nie.  Ek wou nie voor 30 trou nie, let alone kinders hê!!

En toe, op ‘n mooi môre  twee en ‘n half jaar gelede, het ek die lesse van die lewe begin leer. Diè wat ek reeds geken en ‘n paar nuwes.

Wat die meeste mense van nature weet, het my byna twee jaar en baie verdiet gevat om te leer:

Die mense in my lewe is my kosbaarste besittings. Hulle is my rykdom.  Hulle maak my seer, maar hulle maak my weer heel ook. Dis mense wat die leë oop spasie in my, toegemaak het.

Daar is egter nog so ‘n klein gaatjie oop.

So ‘n ekstra spesiale spasietjie!!

 (En in die woorde van ‘n baie spesiale, abstrakte karakter in my lewe: “Jy verloor nooit nie. As jy nie wen nie, leer jy!” Dis is wat 2012 vir my was.  Een mamoerse les!! xxx )

Die ware einde:
Ek het vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd ‘n slapelose nag gehad. Ek het weer vanaf 15h00 wakker gelê nadat ek uit ‘n onstellende droom wakker geword het. Een van daardie drome van hoe die lewe kan wees – die lewe wat ek graag wil hê. Ek was nie happy toe ek wakker word nie. Dis nie asof ek ‘n teenageris wat van die rugbyspan se kaptein gedroom het nie en nou die heel dag oor die droom gaan droom nie. Of weer aan die slaap wil raak, net omdat dit droom moet terug kom nie Dit vorm die kontras van wat ek wil hê teenoor wat ek het.

En dit maak my hartseer. Dit maak my moeg. En as ek moeg is, is ek weerloos en broos. Ek is bang. Ek is sò bang. Ek is bang al die seer en swaar kom terug. Ek is bang dat 2013 ook soos 2012 sal wees. Ek was positief. Ek was opgewonde. En toe begin die poppe dans. En ek begin rondspring soos 'n kakkerlak om 'n warm plaat, net om by te bly.

Dus end ek hierdie jaar op ‘n bang-nood af. Nie bang dat die werêld sal vergaan nie, eerder bang dat dit niè sal vergaan nie.

Bang dat die persepsie wat ek oor die lewe en liefde het, maar net alles in my kop is en dan dit nie regtig bestaan nie.

Bang, bang, bang

… en bang dat daar nie ‘n unicorn daar buite is nie.

Wednesday, 12 December 2012

Rolle en rolle happiness


Ek het begin om deur my dagboek te lees. EK doen dit van tyd tot tyd. Ek hou juis dagboek om my eie lewe te kan onthou. Om te sien hoe ek as mens vorder. Of ek darem iets uit die lewe leer.

Maar 2012 is erger as ‘n Danielle Steel verhaal en ek hou op met lees en gaan winkel toe.

Dis Krismis all over the place. Ek doen nie Krismis nie, maar dis beautiful. Dis pragtig. Dis fraai. Die dekorasies in Moola Mall is alles spierwit en skitterblink. Dit voel my ek het in ‘n feë verhaal ingestap.  

Kassiere bedien jou met  rooi-punt-musse en is vriendelik vir die eerste (en enigste) keer die jaar.  Jy’t noggie sulke specials op tjoklits en badskuim beleef nie.  Dis insane! Almal gaan na die fees seisoen vet en skoongewas wees.

En die geskenkpapiere! Oo aarde! Dit laat my oë blink.  Ek kan ‘n stuk mooi geskenkpapier nie uitlos nie. Ek staan en bekyk daardie rolle en rolle happiness. Ek oorweeg dit om tog maar ‘n paar rolletjies happiness aan te skaf.  Vir future use natuurlik!  Daar is net een ding erger as om ‘n geskenk te wil toedraai en te bevind het jy nie gift wrap nie, en dis dat die laaste stukkie papier wat jy het ‘n tak bok met ‘n sleepwa op het. Beste van alles: Dis ook op special.

Ek kyk die rolletjies happiness soortvuldig deur. Ek soek vir iets wat nie ‘n Kersfees tema het nie. Die helder kleure trek my aandag:  Soos in skokpienk, pimple-pers, lemmetjie groen, oranje, turkoois – and wait for it…………….: DIT KOM MET STREPE EN POLKA DOTS!!

Dit papier lyk soos ek wil voel. Dis vrolik en uitspattig, uitbundig. Dis lyk soos vakansie, soos feesvier. Dit lyk soos celebration. Ek wil celebrate. Ek wil net simpel wees.  

En ek kry DIE RUSH.  Die SHOPPING/HAPPINESS RUSH.  DIE RUSH maak alles reg. Maak nie saak hoe jy voel nie. (okay, as jou hart regtig stukkend is, moet DIE RUSH bietjie harder werk, maar nietemin. DIE RUSH stel nie teleur nie.) Dis daardie oomblik wat jy iets moois sien en onmiddelik voel dit of jy tuisgekom het. Jy sien ander goedjies in jou geestesoog wat 100 % by hierdie item gaan pas. As dit skoene is, begin jy dadelik aantrek rondom hierdie paar wat jy net eenvoudig mòèt hê!  Jy is sexy, unstoppable, on top of the world! En die handsak wat jou nou die dag gesien het, gaan PERFEK by die paar skoene pas. Dit alles gebeur in ‘n breukdeel van ‘n sekonde. Jy is ‘n happy mens. Die wêreld is ‘n beautiful, positiewe plek.

En dan vra jy jouself die shopaholic vraag:

Do I really need this?

(ek het al begin geskenkies opmaak.  Ek het die fraaiste pienk chiffon lint vir my die polka dot papier. Dit lyk stunning – in my kop!)

Vra weer die vraag, Does!!

Do I really need this?

Nee! Nee! En Nee!

En toe voel ek sommer net moeg. Moeg en verlep soos ‘n magrietjieblommetjie wat se kop hang.

Materiële dinge bring net  short-lived-moments-of-happiness!

En in hierdie oomblik is ek reg om my bestelling te plaas vir 2013: Geloof, hoop en liefde. In oormaat, asseblief!
 
(FYI – ‘n man se liefde. Die ander liefdes het ek reeds – lucky me! <3)

Friday, 7 December 2012

Wie's mal, man?


“Sy maak my mal!”

Vir my ook, dink ek. Ek weet dadelik van wie hy praat.

Wie nou?” vra ek en hoop ek klink belangstellend en nuuskierig.

“Maaaaaaaaaaaaaaa!”

Sy is ons Ma. Sy het ‘n lisensie om ons mal te maak. En sy het al jarre se oefening. Sy het op my en Ouboet begin! (Sjame,  nou ek kry hom actually regtig jammer.)

Hulle (oo, nou word Pa hierby ingesleep?) maak my mal. Hulle is nie meer normaal nie.”

Jip, en jy is baie vinnig oppad.  Ma het my amper mal gehad toe sy by my gekuier het. Ek het haar nodig gehad, ja. Maar somehow, verander dit niks aan die malmaak situasie nie.

“Hulle raak nou maar oud, jong. Dan raak hulle so!”

Dis nou die scary ding van familie. Ek ken hulle so goed. Ek weet hoekom hy mal wil raak. Hulle is oppad dorp toe. Wat beteken hulle het selfoon opvangs. Wat beteken dat ek en Bonna foto’s oor en weer moet stuur. Ek van my nuwe haarkapsel en hy van Ouboet se kinders.  (en dit alles terwyl hy met sosiale gebeurtenisse wil opvang, FB en BBM!)

Ma het al twee weke gelede die foto’s van haar foon (baie eenvoudige Nokia, met Bluetooth en ‘n kamera – die beste ding since sliced bread -  in ma se opinie) na Bonna se foon gestuur, sodat hy dit weer op sy beurt vir my kan BBM.

Van Ouboet se kinders, natuurlik! Die twee mees belangrikste  faktore in Ma se lewe en die sin van haar bestaan.

Die ding van Ma is -   sy sê iets nie net eenkeer en aanvaar jy gaan dit doen nie. (gedeeltelik dalk ons skuld omdat ons dit nooit onmiddelik doen nie? Ek weet nie!) Dis ‘n herhalende reaksie. Sy is aanhoudend. Sy beplan al immers  vir ten minste 6 weke vandat sy die foto’s met haar Nokia geneem het,  hoe sy dit by my gaan uitkry!  

En nou is die oomblik van waarheid. Hulle het selfoon opvangs!

Ek het dit die oomblik geweet toe ek van haar ‘n sms gekry het en ‘n BBM van Bonna.  In fact , ek weet dat hulle die SMS en BBM onderskeidelik getik en gesend het, voordat hulle nog in opvangs was, sodat dit onmiddelik kan deurgaan as hulle in opvangs kom. Nie een minuut is te verspeel nie.

“Man, stuur net die foto’s aan. Ek sal die nuwe hairdo ook aanstuur, dan’s dit oor en verby en Ma is happy!”

Ek kry 3 foto’s.

Twee van Louw. Op een het hy die fake smile van ‘n 4 jarige wat hom snaaks hou, maar lyk nogsteeds cute. (Ek weet nie hoe hy dit regkry nie, 4 jarige kinders wat hulle snaaks hou, irriteer my!)

 Op die ander een ry hy sy nuwe “groot fiets”  en Ouboet staan in die agtergrond – nog net so lekker vet, sien ek. (Ek het gehoor hy wil na sy figuur begin kyk, maar kyk is seker al wat hy gedoen het!)

Daar is net een van Reties. En die lelike eendjie het verander in ‘n klein oulike swaantjie.

En ek wil-wil trane in my oë kry. Hierdie eens lelike kind, het in ons almal se harte gekruip.  Sy het my iets in Pa gewys wat ek geweet het is daar, maar nooit self gesien het nie.  ‘n Sagtigheid.

En sy toon alreeds alle tekens van ons mal familie. En skielik begin  ek uit sien na die vakansie saam met my familie.

“O ja, Pa het nou die dag een van jou stukke gelees. Hy is baie beïndruk met jou skryf werk. Hy sê jy het ‘n besondere talent!”

Dis die ultimate compliment!! (Pa dink nie eers hedendaagse ingenieurs is slim nie – daar’s te veel van hulle sê hy!!!)

“En jy hom net nou mal genoem? Jy’s mal, man. Daar is niks fout met Pa nie!”

Monday, 3 December 2012

My gunsteling onderwerp: Fairytales


Iemand (‘n baie sexy iemand) vra my die naweek:

“Wat wil jy uit die lewe hê?”

Vir jou, dink ek.

“Maar jy kan my nie kry nie” sê hy.

En vir ‘n split second is ek heeltemal onkant gevang!. Het ek dit actually hardop gesê?

“So, wat wil jy hê?” vra hy weer.

“Gee my net kans om te dink”  sê ek (en te recover!).

(Ek weet nie of ek regtig weet wat ek uit die lewe wil hê nie. Daar is die afgelope jaar so geskaaf en geskuur aan my persoonlikheid dat ek myself nie meer regtig erken nie. Wil ek nog kinders hê? Wil ek weer trou of iemand spesiaal in my lewe hê?

Ek het ‘n man nodig gehad hierdie jaar. Wragtig weet dit.! Ek het een nodig gehad toe ek deur daardie donker gat gegaan het. Hy moes daar gewees het om my op te help. Om vir my kos te maak. Hy moes my geselskap gehou het daardie eindelose nagte lank wat ek nie kon slaap nie. Ek het gesmag na iemand wat my net kan help. Wat my las kon help dra.  Prince Charming, however (wie de hel hy ook al mag wees) het geskitter in sy afwesigheid. En nou, nou het ek hom nie meer nodig nie!

En nou wonder ek: Ek het Saartjie se seuntjie nou die aand gebabysit. En hoewel dit baie lekker is om ‘n klein ruggie te vryf terwyl hy sy melk lê en drink, het ek (seker vir die eerste keer in my lewe) nie daardie soort emptiness gevoel as ek na ‘n kind kyk nie.

Ek het wel nou die dag die soort emptiness gevoel toe Lalie begin "gaga" gaan oor ‘n paar Crocs (bid jou aan!) Ek het gevoel ek gaan faint toe sy sê dit voel of jy of wolke loop!! (Sy is swanger!!) Maar in alle eerlikheid dink ek nie dit het gegaan oor die swangerkap nie, ek dink dit gaan plein hier oor die feit dat ek my skoene vriendin verloor het aan ‘n paar Crocs.)

 “Ek wil gorgoues and funny wees. Ek wil my passies uitleef. Ek soek inner peace en true love.”

“Ek het jou gesê jy kan my nie kry nie. Ek is ‘n unicorn. Onverkrygbaar!”

Nee!

Nee, nee, nee! Het hy gesê unicorn??

“Het jou nou die dag die geprek oor unicorns  op Facebook gevolg tussen my en my vriendin?” vra ek, onmiddelik op my hoede.  He’s playing you, girl. Hy weet hoe jy oor unicorns voel en nou buit hy dit uit.

“Nee”, sê hy.

Nee?  Ek en Lalie het oor ponies en unicorns gepraat. Ek het gesê ek soek ‘n unicorn en sal nooit met ‘n pony te vrede wees nie. En hier is hy. My eie selferkende unicorn.

Kan dit wees?

En so bevind ek my self (once again) in ‘ n penarie. Ek het ‘n unicorn gesoek.

Ek het baie onverwags ‘n unicorn gekry. 

Dit klink soos die perfekte fairtytale.

Dit is nie.

Dis die lewe.

Toe ek jonger was het ek in iets geglo. Wat presies dit was,  weet ek nie. Sê maar dit was ‘n wêreld waar unicorns was. Dit ws ‘n wêreld waar enige iets moontlik was. Al wat jy moes doen was, glo. En wag. Glo en wag. En vertrou.

Ek het geglo. Ek het gewag. Ek het vertrou. En toe het ek met een helse slag af aarde toe gekom.

En ek het geleer.

Ek is nou sinies. Ek wil nie meer wag nie. Ek wil nie meer glo nie. Ek kan nie meer vertrou nie. Ek wil nou net wees. (en deepdown wag ek nogsteeds vir die flippen fairytale ending)

(Ek was een op ‘n tyd ‘n dame wat teen al die odds in kon hoop vir wonderwerke. Ek was so stupid. As ek my kop op ‘n ding gesit het, kon jy my nie daarvan af kry nie. Ek het ook geleer as  ‘n man vir ure lank geprekke moet jou voer (soos die sexy iemand), jy nie hoop moet kry nie.  As hulle reguit vir jou sê jy kan hulle nie kry nie, speel hulle nie hard-to-get nie. Hulle is eerlik, reguit en op die man af. Dis hoe mans is. Hulle droom nie oor fairtytales en unicorns’ nie.)

Ek sou al moed opgegee het as ek nie dood normale mense geken het, met die fairtytale-ending nie. Hulle is skaars, maar hulle is daar.

Vir my unicorn-fairtytale-ending, gaan ek ‘n miracle nodig hê, disguise as ‘n alledaagse gebeurtenis. Sal ek so bevoorreg wees?  Ek weet nie! Ek glo nie!

“So, wat weet jy nou eintlik van unicorns af?” vra ek.

“Dat hulle baie groot horings het” antwoord hy.