Ek kry deesdae vreeslik baie die déjàvu gevoel.
Die "ek was al hier" gevoel. Dan begin mens gewoonlik paniekerig in jou brein se agriewe rondgrawe want jy wil weet wat volgende gebeur, maar jy kan nie onthou nie.
Of jy wil nie onthou nie!
Ek wil nie graag die E- Woord, wat 'n X tot gevolg gehad het, opbring nie. Maar toe het ek ook so gevoel soos ek nou voel.
Ek moes òf my lewe aanvaar soos dit was, òf ek moes 2 treë terug neem, 'n aanloop vat en SPRING.
Ek het gespring. En dit was die einde van die wêreld soos ek dit geken het.
En nou is ek weereens by die SPRING punt. Want my drome en ideale laat my nie toe om my standvastige, verantwoordelik, vervelig bestaan te aanvaar nie.
Ek sal nooit mense kan motiveer tot positiwiteit en dankbaarheid nie. Ek wil sulk as ek ongelukkig en nie wag vir "môre" se son wat weer sal skyn nie. Ek het al geleer dat mens deur "die dak oor jou kop" kan nat reën, koud kry, warm kry. Ek het geleer dat 'n standvastige werk jou nie gelukkig maak nie, eerder "vas".
Vandag is ek bly dat ek my drome, hoop, vrese en foute daar buite geplaas het. Ek is bly dat ek my belaglike soektog na 'n unicorn "public" maak. (ek hoop natuurlik in die geheim ek kom nie desperaat voor nie!)
Soms, laataand, as ek alleen is, wonder ek wat my besiel om aan te hou soek na iets wat dalk nie bestaan nie. Ek vra myself af of die soort liefde waarna ek soek, bestaan en of dit net nog iets in my malkop is. Dan herinner ek myself aan al my wense wat al waar geword het. En dat nie een van hulle oornag gebeur het nie.
En dan pos die unicorn 'n unicorn op facebook. Vir my.
En ek weet: Maak nie saak hoeveel keer ek nog moed gaan verloor nie, hoeveel ek myself 'n "stupid idiot" gaan noem nie, hoeveel van my planne flop nie, ek sal eendag nog kry waarna ek soek.
Daar sal altyd iemand wees wat met 'n unicorn prentjie regsit om my weer moed te gee.
Twee en 'n halfjaar gelede het ek gespring, min wetend dat ek tog in 'n land van wonderwerke gaan beland. In 'n land van stories en sprokies. In 'n land van unicorns.