My Bonna-boet sê ek moenie filosofies en soetsappig raak nie. Sarkasme pas my beter. At the risk of sounding like a complete soetpappige filsoof moet ek erken dat ek nog op die winter linger. Ek sukkel om die winter boek toe te slaan. Wintertyd is eet-tyd. Boerbeskuit en mengsel in die Nel-huis (mengsel = marmite + botter) Kerrieafval met varsgebakte oondkoeke (oondkoeke = plaasbrood in muffin panne gebak sodat daar meer korsies kan wees) Skuinskoek en mosbolletjies. Droëwors, biltong of chillibites.
Al wat die winter my gegee het was doodgerype kappertjies, ‘n vieslike verkoue en ‘n paar lemoene.
Vir die heel eerste keer in my ganse bestaan moes ek deur-winter sonder huiskos. G’n wonder ek is op anti-depressante nie. Ek moes met groot hartseer luister hoe Ma en Ouboet die worsvleis onder die kraan afgespoel het, nadat Ma haar misjudge het met haar somme en dubbeld die hoeveelheid spesery op die vleis gegooi het. Ek moes maar in my geestesoog die prentjie optower van Ouboet wat dubbeld gevou staan en lag, sy Nel-oë op lagskrefies getrek en sy mond agter sy hand weggesteek. Asof dit nogals sal help. Sy hele lyf sou geruk het van die lag. Ma het haar vleiswerk voorskoot aan en haar moue was definitief opgerol. Sy was naarstiglik besig om te rede wat te redde is van die worsvleis. Ek moes telefonies aanhoor van klein Louw wat speel-speel op sy Oupa se plaaskar “spinbotte topstote” (springbokke kopskote) skiet.
Mense wat nie ken van huiskos-trooskos-plaaskos nie, vra my hoekom koop ek nie beskuit en biltong en mosbolletjies nie. Of gaan eet afval by die restaurant nie.
Hier is hoekom nie:
1. Winkels verkoop nie boerbeskuit nie
2. Pa kry ‘n hartaanval as ek vleis of biltong of rooi vleis verwante produkte koop. Hy is ‘n boer en word ingedoen deur al die middelmanne. Hulle is almal diewe en ek durf hulle nie ondersteun nie.
3. Die winkel se mosbolletjies is sò fake.
4. Jy trust nooit, maar nòòit, ‘n afval wat iemand anders geskraap het nie.
Terwyl almal jubbel oor die lente, sulk ek oor die winter. Die eerste een wat ek nog ooit gemis het.
Ps: Hou die blog dop in Oktober vir my insette oor Lentedag.