Tuesday, 27 September 2011

oor kaboutertjies sien

Ek is so bitterlik trots…… op myself.

Ek het vir nagenoeg ses maande tussen hemel en hel rondgesweef. Die lekker (hemel) was hèèrlik. In my geestesoog kon ek kabouters sien wat kromsteelpype onder paddastoele sit en rook. En kabouters wat in die maanskyn visvang. Kleure, klanke en geur het ek met ‘n anderse intensiteit ervaar.

Die sleg (hel) was aaklig. Ek was sonder hoop, sonder slaap, sonder liefde en sonder ‘n ma. Alles was teëspoedige, die lewe donker en ek doodmoeg.

Toe gryp die liewe Kara Kroft in en sê ek moet ‘n dokter gaan sien. Nadat ek vir baie lank getop het oor die saak en Kara Kroft my bly aanmoedig het, het ek ingewillig. Steeds skepties, maar desperaat.

Die superslimme dokter het my uit die staanspoor beindruk. Sy is baie soos ‘n ma, jy hoef haar net een klein leidraadtjie te gee, die res figure sy self uit. Sy het mooi aan my verduidelik dat ek maar sonskynpille sal moet drink om my mallekoppie reg te kry.  


En net daar begin ons toe met my sonskyn behandeling. Die dok was bang sy dokter my nog bietjie maller as wat ek is. Want, sê sy, kreatiewe mense se koppe haak makliker uit as ander s’n. Ek glo haar – kyk na maar vir Van Gogh. Ek sien toggie kans om een-hoor deur die lewe te gaan nie.

Ek het haar eers gereeld besoek om verslag te lewer van my welstand. Later al minder. Gister was ek weer daar. Sy  was uiters tevrede met my vordering. Ek is ‘n droom pasiënt, net so sê sy vir my.

Voorbeeldige ekke. In die land van blindes is Een-oog koning.

Die dok sê ek is ‘n baie positiewe persoon. Ek lieg toe maar saam en sê ‘ja’. Van haar pasiënte spring van balkonne af, natuurlik gaan ek vir haar postitief voorkom. Waarheid of te not – dis een van die mooiste, lekkerste , onverdienstelikste komplimente wat ek nog ooit gekry het. Soms is dit lekker om iets te “steel” wat nie joune is nie en in die genot daarvan te baai. 

Vergun my die soetsappigheid: vir die eerste keer in ‘n lang tyd is ek baie dankbaar. Dankbaar met my hele hart, nie net met my verstand nie. Dankbaar omdat alles, ten midde van my eie lamlendige swakheid, altyd ten goede meewerk.

Ek is reg om die LYS VAN VERSKRIKLIKES nader te trek en UITDAGINGS daarop te skryf. Nie meer net die to-do’s nie.

Wat sal die eerste uitdaging wees?


Monday, 26 September 2011

oor dieet gevoelens


Ek het die gevoel gekry – die maerder-word gevoel. Met reg ook. Want sommer die eerste week in my dieet verloor ek ‘n cm (nogsteeds bang vir die skaal).  Nie in totaal nie. Orals waar ek meet is ek ‘n ronde cm kleiner – bene, boude  en borste!

Hoe moes ek geweet het dat ek skaars in week 2 ‘n verkoue gaan opdoen. Dat die verkoue niks minder as 2 weke gaan duur nie, met ‘n derde week as recovery. Hoe moes ek weet dat in week 2 my motor se ignition coils (huh ?) gaan inkonk en dat iemand / iets (10 teen 1 ‘n aardse wese) my motor se agterruit gaan uitgooi. Dat my ouers wat vir my sou kom kuier, kanselleer. En dat my sonskyn-pille gaan opraak en ek nie die voorskif in my deurmekaar huis gaan kry nie.

Aan die einde van week 2 het die verkoue alle liggaamlike weerstand afgebreek en die motor probleme het my geestes toestand verniel. Die tekort aan sonskyn-pille het die donkermaan oor my laat opkom.

Toe knak ek. En daar doen ek iets wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Ek vat ‘n sterpuntskroewerdraaier en ‘n hammer, slaan 2 gate in ‘n kondensmelkblik en drink dit met een teug half. Met ‘n 2de teug leeg.   Tussen die snot en trane deur klim ek in my motor met sy stukkende coils en kartonagter ruit en gaan koop ‘n blik karamel, pak tennis beskuitjies en pepermint crisp tjoklit. Ek hoop in die stillegeit dat die vrou agter die till sal dink ek gaan ‘n pepermint crisp tert maak (half 8 in die aand met rooigehuilde oë

Week 3 skop af met ‘n hofsaak en ‘n pakkie van my moeder – vol droëwors, biltong en chillibites. Die perfekte manier of ‘n hofsaak mee af te sluk. In in te haal op die tekort wat ek die winter gehad het aan trooskos van die plaas af.


Aan die einde van week 4, by my volle positiewe self, is ek seker die vetste in 6 maande. Moedeloosheid sak soos ‘n kombers oor my toe en daar is donderweer in my gemoed. Die lewenslange stryd teen die wit bonkige ekstras wil-wil een te veel word. Ek is (alweer) op Blok 1. Ken ek nie al van blok een nie? My naam is al daarop graveer!

Ek gaan sit en maak ‘n inhoudsopgawe. Van my drie groot struikelblokke.

Een – hou van jouself. Die enetjie kan ek uiteindelik af tick.
Twee – vind ware (regtige-egtige) liefde – doodgetrek!!
Drie – raak maerder.

Ek sal maar die ou klein kondensmelk-obstacle’tjie moet vergeet en my kop laat sak en alles insit. Dis tyd vir Plan B.

Plan B = Bootcamp.

I’ll keep you posted.

Tuesday, 20 September 2011

oor iets van myself

Hallo Dagboek ……. My naam is Does. Ek is geskei en ly aan depressie. Ek sou verkies om anoniem te bly, maar ongelukkig kan ek nie, want jy my dagboek. Jy is ek! Net soos die waarheid vry maak, bring erkenning aanvaarding.


Ek wens ek kon depressie beskryf. Maar hulle – dis nou die kenners – sê depressie is nie ‘n “once size fits all” nie (hulle woorde).  

Persoonlik sou ek graag ‘n baie lelike vloekwoord wou gebruik om depressie te beskryf (maar ek is op vloek-rehabilitasie).

Depressie is ‘n wrede monster wat my lewendig sal opvreet as ek nie pasop nie.  Dit (my depressie) word aangevuur deur dodelike en alles oorheersende skuldgevoelens. Elke denkbare emosie word gevolg deur ‘n skuldgevoel.

Ek wens ek was eerder dood – en ek voel skuldig dat ek sò iets kan dink.

Ek dink darem aan my familie wat moet agterbly, net om te besef ek worry nie eintlik oor hulle nie – dan voel ek nou èèrs skuldig.

Ek voel skuldig omdat ek nie lus het vir die lewe nie. Skuldig omdat ek skuldig voel.

“Hoe gaan dit?” word ‘n gevreesde vraag.

“Goed dankie” ‘n blatante leuen.

Dit was baie moeilik om ‘n fake smile op my gesig te plak soggens en uit die bed op te staan, maar die skuldgevoel en vrees maak my te bang om met iemand te praat. Om te erken dat op ‘n goeie dag ek net vir ‘n honderd jaar slaap wens, ‘n slegte dag dink ek aan die dood. En dan die groot een…….. selfmoord.

As hoop-strale deur depressie wolke breek wonder ek of my Skepper my gaan vergewe omdat ek die lewe wat Hy is soveel oorvloed aan my geskenk het, minag?

Ek raak kwaad en opstandig…… en ek voel skuldig. Ek word dom. Moeg. Skuldig. Dood.

Ek verstaan dat depressie ‘n siekte is soos bloeddruk. Ek moet medisyne drink om dit te genees. Maar siekte is liggaamlik pyn. Depressie is mindgames. Soms voel dit of daar skoenlappers in my kop is. Argumente en teen argumente. Selfmoordplanne en toekomsplanne. Diep donker skaduwees en groen grasperke. Murasies en paleisie. Armoede en oorvoed. Dankbaarheid en onvergenoegdheid.

Ek word beproef. En beproef. En nogmaals beproef.


Kenners sê depressie het niks met jou geloof te doen nie. Hoekom kan ek dit nie glo nie?

Depressie sal nooit vir my net ‘n bloeddruk-siekte wees nie. Dit sal ‘n soeke bly, want ‘n gelowige kan nie anders as om die saak met God te wil uitklaar nie.

Maak nie saak wat die kenners sê nie.

Thursday, 15 September 2011

oor DIE LYS VAN VERSKRIKLIKES



Ek wou mal raak van al die to do’s. Die lyste teen my yskas en die lyste in my kop, op post-it’s.

In die boekie wat altyd op my Bybel lê, is daar ‘n gebedslys aangeteken. ‘n Lys van vrae waarop ek antwoorde soek. ‘n Lys van goed waaroor ek dankbaar is. En ‘n lys van my eie sonde en tekortkominge. (Wie skryf sulke goed op ‘n lys neer behalwe ek??)

Dan het ek ook 'n joernaalboekie waarin ek so elke tweede dag kernwoorde neerskryf van die dag se gebeure en my innerlike gedagtes lys. My drome en my ideale. My tekortkominge en waar ek moet verbeter (asof die lys van sondes nie genoeg is nie) 

Ek pak te veel aan, doen alles half, verloor tred met wat nog gedoen moet word en dan freak die control freak in my heeltemal uit.

Die ding is net: ek kan nie die gedagtes alles in my kop hou nie. Dan raak ek eers mal. Dit oomblik as ek dit neergeskryf het, voel ek beter. Dis een skoenlapper wat uit my brein is…

Daarom ek het toe een groot TO Do lys opgetrek wat ek die LYS VAN VERSKRIKLIKES noem:

Die lys van to do’s en uistaande items is:

  1. Plant die knoffelbossies (in Feb al gekoop, dit Aug)
Verwyder die verf van die dromme waar in jy dit wil plant en verf dit nuut
Gaan koop die paintstripper en die verf
Koop nog tuingrond by

Te veel moeite. Plant net die bossies in die grond en kry klaar.

  1. Verf die kombuis deur met blackboard paint - gaan koop eers blackboardpaint en wood primer

  1. Maak die 3 halwe hemde klaar – vir ma gestuur, sy sal klaar maak

  1. Werk knope aan swartbroeke

  1. Kry gif vir die boom se luise en vra Anton of die ander boom by wasgoed lyn te snoei.
NB: Gee ernstig aandag – die lemoenboom gaan vrek..!!!!


  1. Maak buite area mooi 
  2. Tel al die blare op, trek vuilgoed uit.
  3. Bedink ‘n PVA met die tuinstelletjie.
  4. Besluit watse blommetjies jy wil plant en hoe jy dit wil doen. (jy kort baie kleur)


En die heel mooiste gedeelte van die LYS VAN DIE VERSKRIKLIKES:

Dinge wat al gedoen is:

Selfoonkontrak op jou naam en nogals ‘n Smartphone
Jy het jou filing uitgesort en hou die maandeliks op datum
Jy eet al (‘n bietjie) gesonder.
Stukkende hekmotor, stukkende motorruit en stukkende motor is heelgemaak (dankie tog!)
Jy het van jou troutrok onstslae geraak – 10 points
Jy het ‘n huis gekoop 20 points – k-ching!!
Jy't resepte wat jy oor 20 jaar bymekaar gemaak het, weggegooi - 100 POINTS!!


Dis seker ‘n vrouekwaal. Om aan miljoen goed gelyk te dink. En dan wil ek nie weet hoe dit moet gaan as jy kinders het nie.

Super powers??!!

Friday, 2 September 2011

Oor die winter wat verby is...

Dis was lente dag. Gister al, maar getrou aan my aard, kom ek so bietjie agterna. Ek probeer baie hard digterlik raak oor vrolike kappertjieblomme, lentebloeisels  en somersbriesies. In my desperate pogings trek ek self ‘n vrolike lenterokkie aan, maar die ou dingetjie so sit styf om my midrif dat ek omstreeds 10h00 gisteroggend my lente-vrolikheid begrawe het.


My Bonna-boet sê ek moenie filosofies en soetsappig raak nie. Sarkasme pas my beter. At the risk of sounding like a complete soetpappige filsoof moet ek erken dat ek nog op die winter linger. Ek sukkel om die winter boek toe te slaan. Wintertyd is eet-tyd. Boerbeskuit en mengsel in die Nel-huis (mengsel = marmite + botter) Kerrieafval met varsgebakte oondkoeke (oondkoeke = plaasbrood in muffin panne gebak sodat daar meer korsies kan wees) Skuinskoek en mosbolletjies. Droëwors, biltong of chillibites.

Al wat die winter my gegee het was doodgerype kappertjies, ‘n vieslike verkoue en ‘n paar lemoene.

Vir die heel eerste keer in my ganse bestaan moes ek deur-winter sonder huiskos. G’n wonder ek is op anti-depressante nie. Ek moes met groot hartseer luister hoe Ma en Ouboet die worsvleis onder die kraan afgespoel het, nadat Ma haar misjudge het met haar somme en dubbeld die hoeveelheid spesery op die vleis gegooi het. Ek moes maar in my geestesoog die prentjie optower van Ouboet wat dubbeld gevou staan en lag, sy Nel-oë op lagskrefies getrek en sy mond agter sy hand weggesteek. Asof dit nogals sal help. Sy hele lyf sou geruk het van die lag. Ma het haar vleiswerk voorskoot aan en haar moue was definitief opgerol. Sy was naarstiglik besig om te rede wat te redde is van die worsvleis. Ek moes telefonies aanhoor van klein Louw wat speel-speel op sy Oupa se plaaskar “spinbotte topstote” (springbokke kopskote)  skiet.

Mense wat nie ken van huiskos-trooskos-plaaskos nie, vra my hoekom koop ek nie beskuit en biltong en mosbolletjies nie. Of gaan eet afval by die restaurant nie.

Hier is hoekom nie:

1.      Winkels verkoop nie boerbeskuit nie
2.      Pa kry ‘n hartaanval as ek vleis of biltong of rooi vleis verwante produkte koop. Hy is ‘n boer en word ingedoen deur al die middelmanne. Hulle is almal diewe en ek durf hulle nie ondersteun nie.
3.      Die winkel se mosbolletjies is sò fake.
4.      Jy trust nooit, maar nòòit, ‘n afval wat iemand anders geskraap het nie.



Terwyl almal jubbel oor die lente, sulk ek oor die winter. Die eerste een wat ek nog ooit gemis het.

Ps: Hou die blog dop in Oktober vir my insette oor Lentedag.