Ek het die gevoel gekry – die maerder-word gevoel. Met reg ook. Want sommer die eerste week in my dieet verloor ek ‘n cm (nogsteeds bang vir die skaal). Nie in totaal nie. Orals waar ek meet is ek ‘n ronde cm kleiner – bene, boude en borste!
Hoe moes ek geweet het dat ek skaars in week 2 ‘n verkoue gaan opdoen. Dat die verkoue niks minder as 2 weke gaan duur nie, met ‘n derde week as recovery. Hoe moes ek weet dat in week 2 my motor se ignition coils (huh ?) gaan inkonk en dat iemand / iets (10 teen 1 ‘n aardse wese) my motor se agterruit gaan uitgooi. Dat my ouers wat vir my sou kom kuier, kanselleer. En dat my sonskyn-pille gaan opraak en ek nie die voorskif in my deurmekaar huis gaan kry nie.
Aan die einde van week 2 het die verkoue alle liggaamlike weerstand afgebreek en die motor probleme het my geestes toestand verniel. Die tekort aan sonskyn-pille het die donkermaan oor my laat opkom.
Toe knak ek. En daar doen ek iets wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Ek vat ‘n sterpuntskroewerdraaier en ‘n hammer, slaan 2 gate in ‘n kondensmelkblik en drink dit met een teug half. Met ‘n 2de teug leeg. Tussen die snot en trane deur klim ek in my motor met sy stukkende coils en kartonagter ruit en gaan koop ‘n blik karamel, pak tennis beskuitjies en pepermint crisp tjoklit. Ek hoop in die stillegeit dat die vrou agter die till sal dink ek gaan ‘n pepermint crisp tert maak (half 8 in die aand met rooigehuilde oë
Week 3 skop af met ‘n hofsaak en ‘n pakkie van my moeder – vol droëwors, biltong en chillibites. Die perfekte manier of ‘n hofsaak mee af te sluk. In in te haal op die tekort wat ek die winter gehad het aan trooskos van die plaas af.
Aan die einde van week 4, by my volle positiewe self, is ek seker die vetste in 6 maande. Moedeloosheid sak soos ‘n kombers oor my toe en daar is donderweer in my gemoed. Die lewenslange stryd teen die wit bonkige ekstras wil-wil een te veel word. Ek is (alweer) op Blok 1. Ken ek nie al van blok een nie? My naam is al daarop graveer!
Ek gaan sit en maak ‘n inhoudsopgawe. Van my drie groot struikelblokke.
Een – hou van jouself. Die enetjie kan ek uiteindelik af tick.
Twee – vind ware (regtige-egtige) liefde – doodgetrek!!
Drie – raak maerder.
Ek sal maar die ou klein kondensmelk-obstacle’tjie moet vergeet en my kop laat sak en alles insit. Dis tyd vir Plan B.
Plan B = Bootcamp.
I’ll keep you posted.