Tuesday, 20 September 2011

oor iets van myself

Hallo Dagboek ……. My naam is Does. Ek is geskei en ly aan depressie. Ek sou verkies om anoniem te bly, maar ongelukkig kan ek nie, want jy my dagboek. Jy is ek! Net soos die waarheid vry maak, bring erkenning aanvaarding.


Ek wens ek kon depressie beskryf. Maar hulle – dis nou die kenners – sê depressie is nie ‘n “once size fits all” nie (hulle woorde).  

Persoonlik sou ek graag ‘n baie lelike vloekwoord wou gebruik om depressie te beskryf (maar ek is op vloek-rehabilitasie).

Depressie is ‘n wrede monster wat my lewendig sal opvreet as ek nie pasop nie.  Dit (my depressie) word aangevuur deur dodelike en alles oorheersende skuldgevoelens. Elke denkbare emosie word gevolg deur ‘n skuldgevoel.

Ek wens ek was eerder dood – en ek voel skuldig dat ek sò iets kan dink.

Ek dink darem aan my familie wat moet agterbly, net om te besef ek worry nie eintlik oor hulle nie – dan voel ek nou èèrs skuldig.

Ek voel skuldig omdat ek nie lus het vir die lewe nie. Skuldig omdat ek skuldig voel.

“Hoe gaan dit?” word ‘n gevreesde vraag.

“Goed dankie” ‘n blatante leuen.

Dit was baie moeilik om ‘n fake smile op my gesig te plak soggens en uit die bed op te staan, maar die skuldgevoel en vrees maak my te bang om met iemand te praat. Om te erken dat op ‘n goeie dag ek net vir ‘n honderd jaar slaap wens, ‘n slegte dag dink ek aan die dood. En dan die groot een…….. selfmoord.

As hoop-strale deur depressie wolke breek wonder ek of my Skepper my gaan vergewe omdat ek die lewe wat Hy is soveel oorvloed aan my geskenk het, minag?

Ek raak kwaad en opstandig…… en ek voel skuldig. Ek word dom. Moeg. Skuldig. Dood.

Ek verstaan dat depressie ‘n siekte is soos bloeddruk. Ek moet medisyne drink om dit te genees. Maar siekte is liggaamlik pyn. Depressie is mindgames. Soms voel dit of daar skoenlappers in my kop is. Argumente en teen argumente. Selfmoordplanne en toekomsplanne. Diep donker skaduwees en groen grasperke. Murasies en paleisie. Armoede en oorvoed. Dankbaarheid en onvergenoegdheid.

Ek word beproef. En beproef. En nogmaals beproef.


Kenners sê depressie het niks met jou geloof te doen nie. Hoekom kan ek dit nie glo nie?

Depressie sal nooit vir my net ‘n bloeddruk-siekte wees nie. Dit sal ‘n soeke bly, want ‘n gelowige kan nie anders as om die saak met God te wil uitklaar nie.

Maak nie saak wat die kenners sê nie.