Tuesday, 27 September 2011

oor kaboutertjies sien

Ek is so bitterlik trots…… op myself.

Ek het vir nagenoeg ses maande tussen hemel en hel rondgesweef. Die lekker (hemel) was hèèrlik. In my geestesoog kon ek kabouters sien wat kromsteelpype onder paddastoele sit en rook. En kabouters wat in die maanskyn visvang. Kleure, klanke en geur het ek met ‘n anderse intensiteit ervaar.

Die sleg (hel) was aaklig. Ek was sonder hoop, sonder slaap, sonder liefde en sonder ‘n ma. Alles was teëspoedige, die lewe donker en ek doodmoeg.

Toe gryp die liewe Kara Kroft in en sê ek moet ‘n dokter gaan sien. Nadat ek vir baie lank getop het oor die saak en Kara Kroft my bly aanmoedig het, het ek ingewillig. Steeds skepties, maar desperaat.

Die superslimme dokter het my uit die staanspoor beindruk. Sy is baie soos ‘n ma, jy hoef haar net een klein leidraadtjie te gee, die res figure sy self uit. Sy het mooi aan my verduidelik dat ek maar sonskynpille sal moet drink om my mallekoppie reg te kry.  


En net daar begin ons toe met my sonskyn behandeling. Die dok was bang sy dokter my nog bietjie maller as wat ek is. Want, sê sy, kreatiewe mense se koppe haak makliker uit as ander s’n. Ek glo haar – kyk na maar vir Van Gogh. Ek sien toggie kans om een-hoor deur die lewe te gaan nie.

Ek het haar eers gereeld besoek om verslag te lewer van my welstand. Later al minder. Gister was ek weer daar. Sy  was uiters tevrede met my vordering. Ek is ‘n droom pasiënt, net so sê sy vir my.

Voorbeeldige ekke. In die land van blindes is Een-oog koning.

Die dok sê ek is ‘n baie positiewe persoon. Ek lieg toe maar saam en sê ‘ja’. Van haar pasiënte spring van balkonne af, natuurlik gaan ek vir haar postitief voorkom. Waarheid of te not – dis een van die mooiste, lekkerste , onverdienstelikste komplimente wat ek nog ooit gekry het. Soms is dit lekker om iets te “steel” wat nie joune is nie en in die genot daarvan te baai. 

Vergun my die soetsappigheid: vir die eerste keer in ‘n lang tyd is ek baie dankbaar. Dankbaar met my hele hart, nie net met my verstand nie. Dankbaar omdat alles, ten midde van my eie lamlendige swakheid, altyd ten goede meewerk.

Ek is reg om die LYS VAN VERSKRIKLIKES nader te trek en UITDAGINGS daarop te skryf. Nie meer net die to-do’s nie.

Wat sal die eerste uitdaging wees?