Monday, 31 October 2011

Week 4 ... here we go!

Dag 1:

Heerlik, heerlik.  Klaas die Baas is nog MIA. Ek sms en vra hom wanneer ons hom weer sien. Hy reply: Miskien die week, maar definitief vlg week.
M.a.w definitief eers volgende week!

Op die spinternuwe (blou) dag van die week begin ek 6h00 werk. More is due date vir die BTW (Besteel The White-people) en ek is agter. Ek werk dat die rook by myse twee ore uitdraai en raak naar toe ek besef dat ek by een kliënt meer as N$ 100 000.00 sal moet bedel om vir die ONTVANGER te gee. My werk is sò depressing.  By die bootcamp moet ons huppel vir opwarming –tra la la la la. Huppel op ‘n blou maandag? Dit laat my voel soos ‘n kruising tussen die Paashaas en Rooikappie!

Dag 2:

Ek kan nie glo dat ek weer my tassie moet pak vir bootcamp nie. Ek is moeg. Bitterlik moeg. Ek leef op Bioplus en Vitathion. En al wat ek wil hê is ‘n Kit-Kat en ‘n Coke. By die bootcamp moet ons frog-jumps doen. Paddatjiespring. Die man is besig om heeltemal mal te raak!! Ons is mos nie paddas nie? Vyf en twintig (oorgewig) volwasse mense begin hop soos paddas oor die oefenveld. Dit lyk soos een van die 10 plae in Egipte. Ek wonder of ek ook so ridiculous lyk soos die ander. Ek wonder nie te lank nie. John, die instrukteur, moedig my aan – Excellent work, Does. Mens sal sweer jy paddabloed in jou!”

Dag 3:

Ek gaan eet vanaand by Lalie. Ons doen die low-fat, low calories, low GI- ding. Voor ek gaan, hop ek gou op die counter (ek is mos ‘n padda) om die ceiling strip wat los getrek het, vas te slaan. Toe val die hele strip af. Ek gaan gooi ‘n bondel wasgoed in, maar die wasmasjien maak ‘n horrible geluid. Daar is fout. En ek is op my laaste “undies”.  Die nuwe bediende begin more.  Hoe gaan sy was en stryk? Waar gaan ek skoon onderklere kry?

Dag 4:

Maria is vroeg oggend daar. (ek het natuurlik half 5 vanmôre al opgestaan en die wasmasjien uitmekaar gebout, want ek soek die ding wat die geluid maak). Ek verduidelik aan haar die wasmasjien situasie en vra mooi dat sy nie die boutjies laat wegraak nie.(ek kon nie die ding weer terug aanmekaar sit nie) Ek wys haar hoe om die gesilikoonde stofsuier met die “afvoet” te operate, maak haar attent daarop om nie die ceiling strip weg te gooi nie en sê haar sy moet onthou dat die kettel nie automaties afskop nie. Sy het my net stilweg aangekyk en gevra wat daar in die huis is wat niè stukkend is nie?

Dag 5 :

Gode sy dank, die week stap einde se kant toe!

Dag 6:
Die jaarlikse Oktober fest is hier. En ek drink nie Coke Light soos ek gesê ek gaan doen nie. Maar na ‘n liter bier stem ons girls saam: John die bootcamp-sersant mag dalk ‘n martelaar wees, maar hy's kinda …… oulik? Veral as hy sy armpies bietjie tè hoog optel en sy hemp nie meer sy maag toemaak nie – so sê Lalie. Persoonlik kyk ek vir bene, en wel, ek het al mooieres gesien. Redelike mens wat ek is, besluit ek om John Maandag van ‘n bietjie naderby te beskou. Met aandag.

Dag 7:
Ek is foos. Of is dit voos met ‘n V? Ek worry nie. Die jaar was tè lank. Na die besige naweek voel ek eensaam en alleen. Ek soek iemand om mee te praat wat nie ‘n familielid of ‘n vriend is nie.

Môre – dag een van week 5 – gaan ek vir John uitcheck. En ek gaan iets doen wat ek gesweer ek nooit weer sal doen nie – Ek gaan ‘n boyfriend soek.

Thursday, 27 October 2011

Week 3 (jaaaaaa)

Week 3 is een groot donker kol. Ek kry dit nie in dae opgedeel nie. Daar was ‘n  begin , ‘n middel en ‘n einde.

Dit het begin met ‘n brastrap wat tydens ‘n bootcamp breek. Wat ‘n ongemaklike affêre!  As al die gehop en geskud die bande laat breek, kan jy jouself indink hoe dit skud en skommel sonder die bande.  Dan is dag een van week drie Boss’s  Day! Ek laat weet my baas 'geluk' waar hy met sy alie by die see sit. Hy sê ons kan koek koop. Ek sê 'nee dankie'.  Dit maak nie vir my sin nie, want hy is mos eintlik die een wat koek moet kry? Ek vertel die klomp by die werk en hulle is vies vir my omdat ek die koek bedank het. En niemand doen niks om dinge vir my  – die waarnemende baas -  makliker te maak nie.

Die jamroltjies is die geel papiertjies roep my op my naam. Die faksmasjien breek, die internet konk in, en almal roep my naam. Ek moet orals luister, besluit, sê, help. Ek wil mal raak. Ek begin my speelgoed bietjies-bietjies uit my cot gooi.

Die dom mense by die staatsinstansies dryf my sò die mure uit dat ek my ou spreekwoordelike cotjie, uitmekaar pluk, skop en dan aan die brand steek. En toe slaat dit my – OH YES. PMS!

Teen Donderdag – dag 4 van week 3 – gee ek toe onder die druk en bestel die koek. En daar polish ek een huge sny kaaskoek met smaak. Eers nadat ek dit opgeëet het onthou ek dat ek mos eintlik dieet. Terug is ek – daar onder in die jammerkrygat. Hoe vergeet ‘n normale mens dat sy op ‘n dieet is?!

En bootcamp raak nie makliker nie. Nee, dit raak moeiliker. Teen Saterdag – Dag 6 van week 3 – is ek moedeloos verby. Ek gee my weereens oor aan wyn, tripple decker pizza en laastens ‘n stukkie chocolate koek.

Die laaste dag van week 3 is ek in zombie-mode. Dinge verloop sò nie volgens plan nie.

Ek het ‘n probleem. Sonder ‘n oplossing

HELP!!!

(PS: het ek dalkies vergeet om te noem dat ek êrens deur die loop van die storietjie, die jamroltjies met die geel papiertjies opgeëet het?)











Monday, 17 October 2011

Week 2

Dag 1:
Ek het toe nie gisteraand (Dag 7 van week 1) die pakkie gemmerkoekies gepolish nie, maar vanoggend het ek die laaste paartjies saam met ‘n koffietjie afgefinish. Ma het vir my gesonde padkos gemaak (‘n eerste) – gesondheidsbroodjies, ‘n piesang en ‘n appel. En toe vergeet ek dit by die huis. Op Mariental koop ek ‘n schnitzel brotchen en ‘n pakkie pienk-en-wit duifeiers. Nadat ek diè verober het, begin dink ek aan al die sondes en oortredinge van die naweek. Nou te laat, maar ja. Ek besluit dat ek alles in my menslike vermoë moet doen om vanaand se bootcamp by te woon, maar met 250 km op die pad en minder as 2 ure op die klok lyk dit onmoontlik. Ek neem my voor dat ek by die huis gaan oefen as ek daar kom. Wat ek toe nie doen nie. Dinge lyk nie glad nie meer so rooskleurig vir my nie.

Dag 2:
Die bootcamp was hel. My naweek lyf is nie uitgerus nie – dit het lui geword. Ek voel moeg. Ek voel mislik. En vet. My skaduwee lyk ook vet. Dinge verloop nie volgens plan nie. Ek hou nog by die koffie reëls, maar vanaand is ek so lus vir ‘n koppie troos koffie. Ek bere ‘n blikkie Nescafe Gold diep weg onder in ‘n kas vir jammerkry-oomblikke. En ek raak lus vir ‘n bord pasta. Op die ou end oorwin ek die koffie stryd maar gee toe aan die pasta craving. Dit was nie ‘n goeie dag nie. More is ‘n nuwe dag, met nuwe reëls.

Dag 3:
Koffie en waterstryd – tick.

Volgende barrier – peusel te veel, veral as ek in die aande by die huis kom. Dis gesonde peuselkos, maar nogtans. Oor 10 weke (eintlik oor 9 weke) wil ek op ‘n rivier gaan roei met ‘n kajak en een van die Camel-man riverguide gaan chaff.  Vandag werk my knaagkliere oortyd. Ek bly honger. Ek bly soek iets om te eet. Week 2 is beslis nie ‘n goeie week nie.

Dag 4:
Ek slinger uit die bed met die moeder van alle hoofpyne. Ek drink die Comprils twee-twee op ‘n slag tot 12h00 en raak benoud dat ek dalk nie die bootcamp vanaand gaan maak nie. Toe begin vat ek die heavy stuff.  Om en by 17h00 is ek reg vir aksie. Vandag was die oefening op kardio baseer en ons hol ons longe uit. Ek voel lateraan naar en met die tussen-in ruspouses sou ek skaam gewees het vir my liederlike stortende asemhaling as ek nie so moeg was nie. Stadig maar seker sink die koffie-en-water trots in. Ek begin werk aan die volgende barrier. Minder peusel en meer groente. 

Dag 5:
Dit is vandag naweek.  Kara Kroft beleef ‘n baie ernstige persoonlik krisis en sy het lus vir ‘n tripple-decker pizza. En wyn, baie wyn. Na werk gaan ek supermark toe en koop die wyn en baie groente vir my persoonlike koskas. Die duiwel moes net voor my in Checkers gewees het, want daar vind ek toe die piepklien jamroltjies wat in heldergeel papier verpak is. Ma het my al twee maande gelede daarvan vertel (dis hemels, het sy gesê)en daar lê dit toe voor my. Wat moes ek doen? Ek het nie lunch gehad nie en my weerstandvlakkie was al baie laag op ‘n honger maag.

Aandete was toe 3 skywe tripple decker (3x3=9) ‘n jamrol(letjie) en ontelbare glase wyn.

Dag 6:
Ek wou eerlikwaar vanoggend gaan drafstap het. Maar ek was eerlikwaar baie moeg. Toe Lalie kom kuier laat ek haar proe van die jamrolls. Ek proe saam. Aandete verloop baie gesond, maar ek raak nogtans benoud. Na 2 weke van bootcamp marteling en baklei met emosies, koffie en water, kan ek nog nie ‘n verskil sien of voel nie. Daar nog net 8 weke oor, dan moet ek ‘n knock-out body hê. Fokus, fokus…..

Dag 7:
….. fokus, fokus. Piesang vir ontbyt. Slaai en een snytjie brood vir middagete. Vat ‘n middag slapie en raak ontsettend honger wakker. Een nog ‘n sny brood. Die jamrolls roep my. Ek probeer alles in vermoe om nie aan daai dodelik duiwels te dink nie. Ek eet ‘n bord groente vir aandete en ignoreer alle cravings. Met slaaptyd is ek so honger dat ek nie kan slaap nie……ek staan later op en gaan eet ietsie……


‘n Dun snytjie brood met marmite op!!


Tuesday, 11 October 2011

Week 1

Week een…… 

Dag 1:
Vandag het ek en Kara Kroft met bootcamp begin. Lalie is nog MIA, sy sal ons eers Donderdag join. Met die intrapslag roep die drilsersant – John – my nader met ‘n “hoi, jy, kom hier” Ek wou hom sê mens praat nie eintlik so met my nie, maar bedink my betyds. Ek moet in die man se goeie boekies bly. Dit bootcamp is toe erg. Om 15 repetisies van ‘n ding (met ding bedoel ek oefening) te doen en dan op te spring en ‘n koers in te hol, vat baie energie. Dit alles totdat ‘n uur verloop het.

Maar ek gaan huistoe - gelukkig, tevrede, moeg en reeds seer, want ek weet: Hierdie bootcamp besigheid gaan werk. Ek gaan pak my gymsakkie vir Dag 2.


Dag 2:
Vandag was nog erger! Dit begin voel nou soos die army. John patrolleer die ry en gee instruksies. Go big or go home! A la. Dis erg. Na die sessie kan ek voel  dat ek snaaks loop. My voete voel soos los bakstene wat my skaars balanseer kry. Dit is nie deel van my bene nie.  Ek telefoneer Bonna, maar dis ‘n snaakse aksie. Ek kan letterlik nie my hand tot by my oor oplig om die mobiel te houvas nie. Ek buig my nek af tot waar my hand is. Ek het nie die vaagste clue hoe ek vanaand my hare gaan was nie.

Dag 3:
Ek het vandag plat skoene aangetrek, want my vreemde voete kan nie in hakskoene loop nie. Tussen die bootcamp sessies deur probeer ek minder koffie en meer water drink. Dit gaan sukkel-sukkel met die kaffiën ontrekking simptome. Ek weet nie wat die ergste is nie - die seer lyf of die tekort aan my koffie-kick?

Dag 4:
GROOT SKOK. Ek het gegaan vir ‘n bodystat! Dit beteken dat ek op ‘n skaal moes
klim. Ek was seker 2 jaar laas op ‘n skaal. Nee o nee!! Ek weeg 65.7 kg en het ‘n BMI van 31 %. Die flippen masjien sê ek wil-wil “obeast” raak. Die maksimum van die minimum wat ek moet weeg is 57.1 kg. Ek moet at least 8.6 kg verloor. Ek was werklik geskok toe ek daai kantoortjie verlaat. Ek het nie gedink dit is so erg nie. Wake-up call! Vandag het ek alles ingesit met die bootcamp.  Alles wat ek het – en dis nie veel nie.

Dag 5 – 7  En ek vat die langpad plaastoe. Groot skok van die rooibruin kantoortjie VERGETE. Wie worry nou oor gewig as jy by die huis kom? Daar is nie veel kroek kos in ma se yskas nie, maar met die bietjie wat daar is, kroek ek. Peusel hier en peusel daar. Ma vertel van ‘n pakkie gemmerkoekies in die spens, maar ek staan sterk en vermy dit. Ek lief gemmerkoekies en hou aan eet totdat die laaste een op is. Ek staan sterk ...tot sondagaand 20h00. Toe gee ek in. Jip, bodystat skoon vergete. 

Sunday, 2 October 2011

oor vreemde fairytales


‘n Uiters abstrakte en vreemde fairytale speel af toe Steve Hofmeyr Janine vra om te trou. ‘n Fairytale het ‘n paar faktore nodig wat dit onderskei van ‘n gewonde storie en hulle s’n het toevallig alles (en nog meer)

‘n Ryk prins, Steve.
‘n Arm diensmeise , Janine.
‘n Heks – dubble rolverdeleing aan Janine, sy moes afterall ‘n huwelik laat kelder in Steve se lewe. 
‘n Fairy godmother – Natasha (ek’s ‘n huge fan) en ook die skrywer van ‘n geboek getitel, Sprokie.

Die faktor van onmoontlikheid.
Die faktor van wat-dit-mag-vat-vir-hoe-lank-dit-mag-vat-vir-jou-sal-ek-wag.

O ja, amper vergeet ek die kasteel.

Ek, die eens ewige soeker na ware liefde, die anti-romantikus, maar vurige fairytale-ikus, het na jare se sielewroeging binne in ‘n huwelik, besluit dat ek tog ook ‘n fairytale ending wil hê. En as ek dit nie kan kry nie, ek bereid is om te settle vir ‘n lewe op my eentjie – alleen, gelukkig en tevrede.

Soms dink ek, na ‘n lang dag,  dat dit lekker sou gewees het om ‘n glas wyn met iemand te deel. As ek reën ruik, soek ek iemand om te vertel. Soms weer, na ‘n ander lang dag, val ek op my bank neer. Dankbaar dat daar nie ‘n langgesig siel is wat my honger sit en aanstaar vir ‘n bord kos nie.

Daar is nie ‘n prins in my lewe nie, ook nie ‘n heks nie. Ek het ‘n vermoede my fairygodmother  is op ‘n sabbatsjaar in Frankryk , neem croissant-maak klasse en drink bubbly by die liters.

Dis ek, die arm prinses,  en die faktore van ontmoontlikheid en wat-dit-mag-vat-vir-hoe-lank-dit-mag-vat-ek-sal-vir-jou-wag.  En prinsessie is nou bietjie moeg vir daardie twee faktore.

Die tyd voel reg om te settle vir my lewe op my eentjie. My eie drome najaag, het ek ontdek, is nogal ‘n amazing feeling. Om besluite te neem sonder om ‘n ander party in gedagte te neem, amper nog beter. Om stiles te geniet, eenvoudig ‘n Mastercard momentpriceless.

Wat die prins en die fairy godmother gaan vind as hulle eendag teruggewals kom in my lewe, weet ek nie. Dalk ‘n selfsugtige prinses en die heks se nuwe BFF.

Soms, bitter selde, vliet daar ‘n gevoel deur my, dat die onmoontlike moontlik is, die onbereikbare bereikbaar, en dat alle stories, mits jy dit wil hê en daarin glo, ‘n fairytale ending het.

(Naskrif: Ek is nie arrogant genoeg om te dink dat hierdie blog ooit die ore en oë van Steve, Janine en die media gaan bereik nie, maar sal dit tog against all odds, gebeur wil ek dit duidelik maak dat dit nie my bedoeling is om enige iemand in ‘n slegte lig te stel nie, maar eerder ‘n klein bietjie jaloesie is, omdat Janine tog, na baie jare, geluk gevind het. En verder is dit gedagtes van my persoonlik self en mag nie kopiëer of publiseer word sonder my toestemming nie. O ja en dat dit ‘n vryland is – met mense regte – en almal mag sê wat hulle wil.)