Dag 1:
Heerlik, heerlik. Klaas die Baas is nog MIA. Ek sms en vra hom wanneer ons hom weer sien. Hy reply: Miskien die week, maar definitief vlg week.
M.a.w definitief eers volgende week!
Op die spinternuwe (blou) dag van die week begin ek 6h00 werk. More is due date vir die BTW (Besteel The White-people) en ek is agter. Ek werk dat die rook by myse twee ore uitdraai en raak naar toe ek besef dat ek by een kliënt meer as N$ 100 000.00 sal moet bedel om vir die ONTVANGER te gee. My werk is sò depressing. By die bootcamp moet ons huppel vir opwarming –tra la la la la. Huppel op ‘n blou maandag? Dit laat my voel soos ‘n kruising tussen die Paashaas en Rooikappie!
Dag 2:
Ek kan nie glo dat ek weer my tassie moet pak vir bootcamp nie. Ek is moeg. Bitterlik moeg. Ek leef op Bioplus en Vitathion. En al wat ek wil hê is ‘n Kit-Kat en ‘n Coke. By die bootcamp moet ons frog-jumps doen. Paddatjiespring. Die man is besig om heeltemal mal te raak!! Ons is mos nie paddas nie? Vyf en twintig (oorgewig) volwasse mense begin hop soos paddas oor die oefenveld. Dit lyk soos een van die 10 plae in Egipte. Ek wonder of ek ook so ridiculous lyk soos die ander. Ek wonder nie te lank nie. John, die instrukteur, moedig my aan – Excellent work, Does. Mens sal sweer jy paddabloed in jou!”
Dag 3:
Ek gaan eet vanaand by Lalie. Ons doen die low-fat, low calories, low GI- ding. Voor ek gaan, hop ek gou op die counter (ek is mos ‘n padda) om die ceiling strip wat los getrek het, vas te slaan. Toe val die hele strip af. Ek gaan gooi ‘n bondel wasgoed in, maar die wasmasjien maak ‘n horrible geluid. Daar is fout. En ek is op my laaste “undies”. Die nuwe bediende begin more. Hoe gaan sy was en stryk? Waar gaan ek skoon onderklere kry?
Dag 4:
Maria is vroeg oggend daar. (ek het natuurlik half 5 vanmôre al opgestaan en die wasmasjien uitmekaar gebout, want ek soek die ding wat die geluid maak). Ek verduidelik aan haar die wasmasjien situasie en vra mooi dat sy nie die boutjies laat wegraak nie.(ek kon nie die ding weer terug aanmekaar sit nie) Ek wys haar hoe om die gesilikoonde stofsuier met die “afvoet” te operate, maak haar attent daarop om nie die ceiling strip weg te gooi nie en sê haar sy moet onthou dat die kettel nie automaties afskop nie. Sy het my net stilweg aangekyk en gevra wat daar in die huis is wat niè stukkend is nie?
Dag 5 :
Gode sy dank, die week stap einde se kant toe!
Dag 6:
Die jaarlikse Oktober fest is hier. En ek drink nie Coke Light soos ek gesê ek gaan doen nie. Maar na ‘n liter bier stem ons girls saam: John die bootcamp-sersant mag dalk ‘n martelaar wees, maar hy's kinda …… oulik? Veral as hy sy armpies bietjie tè hoog optel en sy hemp nie meer sy maag toemaak nie – so sê Lalie. Persoonlik kyk ek vir bene, en wel, ek het al mooieres gesien. Redelike mens wat ek is, besluit ek om John Maandag van ‘n bietjie naderby te beskou. Met aandag.
Dag 7:
Ek is foos. Of is dit voos met ‘n V? Ek worry nie. Die jaar was tè lank. Na die besige naweek voel ek eensaam en alleen. Ek soek iemand om mee te praat wat nie ‘n familielid of ‘n vriend is nie.
Môre – dag een van week 5 – gaan ek vir John uitcheck. En ek gaan iets doen wat ek gesweer ek nooit weer sal doen nie – Ek gaan ‘n boyfriend soek.