Monday, 17 October 2011

Week 2

Dag 1:
Ek het toe nie gisteraand (Dag 7 van week 1) die pakkie gemmerkoekies gepolish nie, maar vanoggend het ek die laaste paartjies saam met ‘n koffietjie afgefinish. Ma het vir my gesonde padkos gemaak (‘n eerste) – gesondheidsbroodjies, ‘n piesang en ‘n appel. En toe vergeet ek dit by die huis. Op Mariental koop ek ‘n schnitzel brotchen en ‘n pakkie pienk-en-wit duifeiers. Nadat ek diè verober het, begin dink ek aan al die sondes en oortredinge van die naweek. Nou te laat, maar ja. Ek besluit dat ek alles in my menslike vermoë moet doen om vanaand se bootcamp by te woon, maar met 250 km op die pad en minder as 2 ure op die klok lyk dit onmoontlik. Ek neem my voor dat ek by die huis gaan oefen as ek daar kom. Wat ek toe nie doen nie. Dinge lyk nie glad nie meer so rooskleurig vir my nie.

Dag 2:
Die bootcamp was hel. My naweek lyf is nie uitgerus nie – dit het lui geword. Ek voel moeg. Ek voel mislik. En vet. My skaduwee lyk ook vet. Dinge verloop nie volgens plan nie. Ek hou nog by die koffie reëls, maar vanaand is ek so lus vir ‘n koppie troos koffie. Ek bere ‘n blikkie Nescafe Gold diep weg onder in ‘n kas vir jammerkry-oomblikke. En ek raak lus vir ‘n bord pasta. Op die ou end oorwin ek die koffie stryd maar gee toe aan die pasta craving. Dit was nie ‘n goeie dag nie. More is ‘n nuwe dag, met nuwe reëls.

Dag 3:
Koffie en waterstryd – tick.

Volgende barrier – peusel te veel, veral as ek in die aande by die huis kom. Dis gesonde peuselkos, maar nogtans. Oor 10 weke (eintlik oor 9 weke) wil ek op ‘n rivier gaan roei met ‘n kajak en een van die Camel-man riverguide gaan chaff.  Vandag werk my knaagkliere oortyd. Ek bly honger. Ek bly soek iets om te eet. Week 2 is beslis nie ‘n goeie week nie.

Dag 4:
Ek slinger uit die bed met die moeder van alle hoofpyne. Ek drink die Comprils twee-twee op ‘n slag tot 12h00 en raak benoud dat ek dalk nie die bootcamp vanaand gaan maak nie. Toe begin vat ek die heavy stuff.  Om en by 17h00 is ek reg vir aksie. Vandag was die oefening op kardio baseer en ons hol ons longe uit. Ek voel lateraan naar en met die tussen-in ruspouses sou ek skaam gewees het vir my liederlike stortende asemhaling as ek nie so moeg was nie. Stadig maar seker sink die koffie-en-water trots in. Ek begin werk aan die volgende barrier. Minder peusel en meer groente. 

Dag 5:
Dit is vandag naweek.  Kara Kroft beleef ‘n baie ernstige persoonlik krisis en sy het lus vir ‘n tripple-decker pizza. En wyn, baie wyn. Na werk gaan ek supermark toe en koop die wyn en baie groente vir my persoonlike koskas. Die duiwel moes net voor my in Checkers gewees het, want daar vind ek toe die piepklien jamroltjies wat in heldergeel papier verpak is. Ma het my al twee maande gelede daarvan vertel (dis hemels, het sy gesê)en daar lê dit toe voor my. Wat moes ek doen? Ek het nie lunch gehad nie en my weerstandvlakkie was al baie laag op ‘n honger maag.

Aandete was toe 3 skywe tripple decker (3x3=9) ‘n jamrol(letjie) en ontelbare glase wyn.

Dag 6:
Ek wou eerlikwaar vanoggend gaan drafstap het. Maar ek was eerlikwaar baie moeg. Toe Lalie kom kuier laat ek haar proe van die jamrolls. Ek proe saam. Aandete verloop baie gesond, maar ek raak nogtans benoud. Na 2 weke van bootcamp marteling en baklei met emosies, koffie en water, kan ek nog nie ‘n verskil sien of voel nie. Daar nog net 8 weke oor, dan moet ek ‘n knock-out body hê. Fokus, fokus…..

Dag 7:
….. fokus, fokus. Piesang vir ontbyt. Slaai en een snytjie brood vir middagete. Vat ‘n middag slapie en raak ontsettend honger wakker. Een nog ‘n sny brood. Die jamrolls roep my. Ek probeer alles in vermoe om nie aan daai dodelik duiwels te dink nie. Ek eet ‘n bord groente vir aandete en ignoreer alle cravings. Met slaaptyd is ek so honger dat ek nie kan slaap nie……ek staan later op en gaan eet ietsie……


‘n Dun snytjie brood met marmite op!!