S.O.S ……………..?
Nou wat nou?
Wat is die volgende stap?
Lalie, Ma Lalie en Sus Lalie is almal ingeboek by die haarkapster. Ek gaan saam met ‘n boek. Maar ek lees nie. Ek het hierheen gekom om te besin. So ek sit en dink… en probeer besin. Ek dink ek moet eerder begin lees. Want my besinning is ‘n mors van tyd. Ek vind geen sin en rede nie. Dit bly my ontwyk.Maar ek besluit om deur te druk. Ek gaan ‘n eksperiment uitvoer – op myself. As ek vervelig genoeg is, behoort ek op my instink, op my innerself, my basiese ekke, te vertrou om ‘n oplossing te vind. Dan sal ek weer by die ware, natuurlike Does uitkom. (as dit nou nie ‘n breingolf was nie – weet ek nie?!)
Ek sit en staar net na die haarsalon. Die haarkapper is netjies en modieus, maar haar haarsalon weerspreek haar uiterlike voorkoms. Dis vreemd. Gewoonlik is die with-it haarkappers se salon nogals iets om na te kyk. Ek sou die mure (vir starters) ‘n ander kleur verf. En die hout plafon daarmee saam. Ek sou daardie toiings-rafels-fraaiings?? - Nugter weet wat dit is – voor die skuifdeur afhaal. What a waste! Ruimtes met potensiaal wat so vermors word. Dis hartseer. En daar sit mense soos ek, wat net wil decorating doen, in ‘n beknopte eenslaapkamer woonstel met BAIE defekte!
Voor ek my kom kry het Tom, die kreatiewe kabouter, ‘n heel nuwe interior vir die salon uitgewerk. En Hannah Haas is gereed om die voorstel te maak. Sy wil sommer begin deur vir die haarkapstertjie te sê haar haarsalonnetjie kort bietjie-baie aandag in die visuele departement!
Maar ek bedink my betyds. Daar is altyd plek vir persoonlike verbetering en dit gaan my geen baat vind om ‘n haarkapster 1500 kilometer van my tuisdorp af te oortuig om haar haarsalon te verander nie.
Skielik onthou ek hoe ek as klein dogtertjie al ander tannies se huise herdekoreer het. Of as dit ‘n mooi huis was, vir ure kon droom hoe ek eendag my eie huis sal hê wat net so mooi is. Okay….ek dink ek maak vordering. My gevolgtrekking:
Tom die kreatiewe kabouter sit al vir jarre in sy kamertjie – met my opgekropte emosie. En ek het hom nog nooit ‘n volwaardige kans gegee nie, omdat ek te bang is.
En ek dink ek weet uiteindelik wat sit in die donker kamer wat ek die Toekoms kamer noem.
Ek dink dis plein, eenvoudige…………
BANGGAT-GEIT!!