Tuesday, 10 April 2012

S.O.S........ s.o.s

Ek het eergisteroggend uit die bed geval en badkamer toe gestrompel. Die laken wit wese met die vuil, donker hare kon nie ek wees nie. Ek het gekyk en gekyk, die waswitbeeld het net teruggestaar. Haar oë uitdrukkingloos.  Maar hoe langer ek gestaar het, hoe meer het die patetiese skepsel na my gelyk!!

Die 2 slapies voor ons langpad na Petoorsdorp toe, was 2 slapies te veel.
En nou is ons byna daar  - in Petoorsdorp.  Maar ook nie!

Dis 16h00. Let wel SESTIEN HONDERD UUR – NAMIDDAG! PM!!
Ons het vanoggend reeds 4h00 in die pad geval en het dus reeds ‘n 12 uur skof agter die rug. Ons het al 3 lande deurkruis – Nambabwe, ‘n land van ooptes en dom donkies  en nou Die Suidland!   Daar staan ‘n skamele 2 ure tussen ons en ons eindbestemming. Daar is net een klein probleempie. Die tolhek waardeur ons moet ry om by Petoorsdorp, se werknemers STAAK. Ons kan nie deurgaan nie. Die motors en vragmotors het al so opeengehoop dat ons nie eers die tolhek kan sien nie. Om uit te vind wat aangaan, het ons omtrent ‘n halfuur geneem.

Om alles te kroon is die tegnologie (waarop ons staatmaak) besig om ons in die steek te laat. Lalie het die GPS se draad by die huis vergeet – ons moet die ding spaarsamig gebruik. Nie een van ons 2 se selfone werk nie – dit nadat ons seker gemaak het dat ons kan roam! Myne flikker net ‘n bloedrooi SOS teken (ironies, nê!) Ons is so in ons kanon in, ons kan nie eers missed calls gee en hoop om teruggebel te word nie. Lalie haal haar Nambabwe simkaart uit en sit die Suidland s’n  in – maar die Suidland kaart se automatiese blikstem tante praat iets van “expired”. Ek sit weer my 3G kaart in my foon, maar SOS teken flikker steeds voort.
Ons het ‘n noodgeval. Ons is 2 relatiewe jong, weerlose dames, sonder definitewe rigting in ‘n gevaarlike land, wat binnekort in donkerte gehul gaan wees. (Die skadu’s trek lank en onheilspellend oor die berge) Ons wil Petoorsdorp toe. Ons is moeg en mislik. Die fone wil nie werk nie, die mense wil ook nie ophou staak nie. Ons het geen ander keuse as om in ons spoor terug te draai nie – opsoek na ‘n betroubare ompad.

Twinting minute later is ons terug in die klein Mampoerdorpie, opsoek na betroubare mense wat moontlik vir ‘n ‘n betroubare ompad kan verduidelik.  
Kort voor lank gewaar ons twee boereooms wat gemaklik buite hulle bakkies staan en gesels. Dit is vir ons duidelik dat die ooms van die distrik is en ons sal kan help. Wat toe ook die geval is – hulle verduidelik ‘n ompad, om ‘n dam, deur ‘n township met die allervreeslikste hobbels in die pad, hulle verduidelik baie noukeurig dat ons eers by die TWEEDE Rustenburg afdraai moet afdraai en dan sal ons weer op die N4 wees na Petoorsdorp toe.
Ons klim toe in die grys tjorretjie met ‘n bietjie meer moed.  Die tolhek moet maar staak. Ons gaan petoorsdorp toe – via ompad!

Ons ry al om ‘n yslike dam, deur die township met geweldig baie hobbels. Ons ry verby die eerste Rustenburg afdraai en raak lateraan bang die tweede afdraai gaan nooit kom nie.
Dit raak later pikgit donker en ek het ‘n kloppende hoofpyn. Ek sluk die Panado’s twee-twee af, maar die pyn vervaag skaars.

En toe skielik is die tweede Rustenburg afdraai net daar !! Ons is op koers. Ons is amper weer terug op die N4.
Ons is amper daar……

Ons is amper in Petoorsdorp!