Thursday, 29 November 2012

Groen Koöperasie


Ek is 15 minute te vroeg. Hoekom weet ek nie. Ek doen dinge stiptelik. Nooit te vroeg nie, nooit te laat nie.
Maar vandag is ek vroeg. En waar ek gisteraand en laasnag soos kalm soos ‘n daggawalm was, begin die stres aan my knaag. 
Jy moes laasnag al die vrae wat jy weet hulle jou gaan vra in die onderhoud, se antwoorde geoefen het. Jy moes die Groen Koöperasie se motto en visie en missie gaan google het. Jy moet weet waarvoor hulle staan, waarheen hulle oppad is.
Dis nou te laat. Ek kan net sowel maar in die plek se ontvangs gaan wag. Ek sal kiertsregop, soos ‘n meerkat voor ‘n gat, my lot gaan sit en afwag.
Die ontvangsdame weet onmiddelik ek is hier vir ‘n onderhoud. Hoe weet sy dit, wonder ek.
Maar ek gaan sit op die sagte stoel. Ek neem ‘n traktaatjie met Groen Koöperasie specials op. Hoe ek dit ookal bestudeer, sien ek niks op die traktaatjie nie.
Ek sit dit neer en begin maar rondkyk. Alles is groen. Alles! Die mure, die plante, die personeel se hempies. Gaan ek so ‘n hempie moet dra as ek dalk die pos kry. Nee, ek sal nie kan nie. Nooit nie. Ek moes nie vir die onderhoud gekom het nie. Dis nie ek hierdie nie. Ek is nie ‘n Groen-Hempie draer nie.
Ek kyk verder rond. O, die kersboom is wit. Dis vreemd.
Langs die kersboom staan ‘n bedkassie. Met goedjies op. Papiertjies.. Daar lê ook boksies op. Sulke klein oranje boksies. Kondome. Definitief kondome. Ek tel die boksies.  3 boksies kondome.
Drie boksies kondome in die ontvangslokaal van Groen Koöperasie. Wat was die idee toe hulle dit daar neergesit het? En wie neem dit?  Dis nog vreemder as die wit kersboom in GROEN.
En toe kom ‘n vrou met lang 3-kleur krulhare (dis ‘n perm!!)  op my afgestap. O shit, dis sulke tyd.
Bly kalm. Maar ek kan nie. Ek bewe.
En voor ek my kom kry sit ek by ‘n tafel en kyk na die GM en die FM. (GM is ‘n gawe oom, FM is ‘n vrou, geen make-up, Vaal hemp met company logo en banana clip in die hare. Frameless brill)
Ek gaan deur hierdie onderhoud worstel. Ek weet dit.
Vraag een: Vertel ons meer van jouself. Iets wat nie op jou CV is nie.
Hoekom? Ek is ‘n boekhouer, nie ‘n bemarker nie. Ek praat nie graag oor myself nie.
Ek het in die Suide groot geword op ‘n plaas en is ‘n regte plaasmeise. (dis mos ‘n koöperasie, miskien beindruk dit hulle)
Vraag twee: Vertel ons, wat weet jy van Agra?
FUCK! Ek moes dit in die ontvangs gegoogle het toe ek vir die kondome gekyk het. Ek het genoeg tyd gehad.
Nie veel nie. Dis ‘n koöperasie wat boere bedien. En julle …hulle…uhm ….. dit (?) handel ook met lewende hawe.
I want to die! Right now!!
Vraag drie: Dis ‘n joernaal vraag. Hoe sal jy voorsiening maak vir ‘n slegte skuld joernaal.
Jy doen dit elke dag. Jy weet hoe om dit te doen.Maar ek het nou vergeet!!! Holy hell, waar is my breinselle vandag?
Ek begin T-rekening trek met my vingers op die wit papier voor my en kry uiteindelik ‘n antwoord uit.
Vraag vier: Wat is die nuuste truuks van diefstal waarvoor mens op die uitkyk moet wees?
Ek weet ek moet hierdie vraag kan beantwoord, want ek het al baie met skelms gewerk, maar ek weet nie wat om te sê! Begin praat net, you will get there. Eventually sal die antwoord deur jou gedagtes gaan, begin praat net en koop tyd!!
Julle weet, dis eintlik baie moeilik vir ons eerlike mense om te weet hoe skelm se koppe werk. Soms wil ek nie verstaan hoe hierdie mense se koppe werk nie (fokus, does, fokus, you’re going in the wrong direction with this) Hulle is ons altyd een voor. Sodra jy hulle nuutste truuk ken, het hulle alreeds aan ‘n ander truuk gedink. Mens moet altyd wakker wees. (ek het dit, ek het dit!!!  ek het onthou!) Die nuutste truuk is…….. en toe begin praat en beduie ek van ‘n baie indrukwekkende truuk waarvan ek bewus is.
Die vrae raak makliker en meer beantwoordbaar en dis presies  45 minute later wat ek verlos word.
“Ek sal jou die uitkoms van die onderdhoud laat weet, self as was dit onsuksesvol ” sê 3kleur-permkoppie.
“Nee, nee, nee, dis regtig nie nodig nie” sê ek.
“Ek gee terugvoering sodat mens darem kan weet” sê sy.
Ek wil nie weet nie, dink ek.
Whatever will be, will be.
Life is full of possibilities. Groen Koöperasie is dalk een, dalk nie.
Ek sal maar moet wag en sien.

Van aangesig tot aangesig


Die minute het ure geword, die ure dae, die dae weke, en die weke het 2 weke geword.

En nou’s dit tyd vir BaasKlaas se besoek aan ons hoofkantoor. Die eerste keer wat ek hom in die oë moet kyk na ons twee se onderonsie.

Nie dat ek iets het om oor  skuldig te voel nie, maar omdat ek ‘n broertjie dood het aan skynheiligheid. Maar ek kry dit reg (net-net) om beskaaf en streng professioneel te wees.

Om op kantoor professioneel te bly is een ding, maar die jaar afskeid ete is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Jy gaan OK wees, sê ek oor en oor vir myself. (ek het ook vir myself gesê BaasKlaas gaan nie omgee oor daardie ander aangeleentheid nie en dit het wonderlik uitgewerk vir my!!)

Soos die duiwel dit wil hê is ek die tweede persoon wat arriveer by die restaurant. Ja, KlaasBaas was eerste. (Ek weet dit omdat ek eers deur al die motors gestap het om te kyk wie nog daar is, juis omdat ek die spesifike scenario wou verhoed.)  Ek sit vir 5 minute in die bloedwarm son en wag vir my kollegas. Niemand daag op nie.  

“Okay, jy is nie kinderagtig nie. Gaan in en gedra jou soos ‘n grootmens.”  Nadat ek dit 3 keer vir myself gesê het, is ek nogsteeds nie oortuig nie. Ek besluit om een keer om die blok te ry, dalk twee keer. Meraai is altyd baie stiptelik. Ek is seker sy sal enige oomblik opdaag

‘n Blok en twee later is dit nogsteeds net ek en BaasKLaas.

Ek beloer myself in die truspieeltjie. Ja nee, my lippe kort lipstick. Ek grawe tydsaam in my handsak rond vir lipstick. Toe sit ek ‘n ligpienke  aan.

Hhmm, dis bietjie te lig vir die aand. Dalk ‘n donkerder een?

Ek grawe verder, op my tyd, waarheen is die haas dan nou, vir ‘n donker lipstick.

Dit lyk beter.

Maar nogsteeds dof. Lipgloss. Dis net die ding!!

Toe begin krap ek na die lipgloss. Met bewende hande.

Wat is die use, wonder ek by myself. Ek bluf niemand behalwe myself nie. 

Ek sit nietemin die lipgloss aan.

Okay, jy is nie kinderagtig nie. Gaan in, rug reguit en gedra  jou soos ‘n grootmens. Na die derde keer is ek oortuig en begin met ‘n baie regop rug na die restaurant toe stap. En toe tref dit my:

Waar ek nou gaan sit, gaan my sitplek van die aand bepaal. En as dit nou nog net ek en BaasKlaas is, beteken dit ek moet naby hom sit, en beteken dit ek moet die hele aand daar sit.

Ok, kinderagtig is een ding. Dit is ek nie. Klaar bewys.

Maar dom is 'n heel ander ding. En dit is ek ook nie. Dus, ek gaan nie in nie, maar draai terug om in my spoor , terug motor!

Die idee van die jaareind ete is om dit te geniet. Dit maak nie sin om dit vir jouself te bederf nie. Ek doen die regte (slim) ding deur net te wag vir my kollegas.

Maar na nog ‘n verdure  5 minute die motor, het ek my smaak vir die besigheid verloor. 

Ek is moeg, ek is regtig baie moeg. Dis ‘n bitter moeilik jaar wat agter my lê, een wat ek baie graag agter my wil sit. Een die jaareind-ete is nog ‘n stappie nader.

Die lewe gooi curveball op curveball na mens. Ek het moeg geraak vir die curveballs en moed opgegee om hulle te probeer vang.

Maar na KlaasBaas se rugstekery (ek het besluit om al die titels wat hy om my nek gehang het, vir hom terug te gee), ek is nogals lus vir baklei.

Daar lê nog ‘n groot stuk lewe voor my. Ek sal nog baie moeg raak, moedeloos raak en balle op die grond laat val.

Ek sal elke keer moeg opstaan en aangaan. Ek sal ook uit hierdie situasie moet opstaan en aangaan. Hoe vinniger hoe beter.

Toe klim ek maar uit die warm motor en stap non-chalant  na die Tafel van Dood. Asof dit die natuurlikste ding is wat ek nog ooit gedoen het.

Net om die hele aand regoor KlaasBaas te sit en hom vol in die oë te kyk!

Wednesday, 21 November 2012

Die girl-next-door en Mnr Mooibene


Ek neem maar deel aan my normale lewe todat dat my big-break kom.  (Bootcamp is deel van my normale lewe)

Maar ek voel anders. Ek is anders. Hoe weet ek dit?  

Want toe Mnr Mooibene in langs my kom staan, soek ek wild na ‘n uitkoms om nie langs hom te staan nie. Maar omdat dit net baie weird sal lyk om my matjie en oefenpypie te vat en op ‘n ander plek te gaan staan, anker ek myself dapper vas net daar waar ek is.  

Ek is nie juis die soort wat agter mans aanloop nie, maar ek is ook nie juis die soort wat van hulle af weghardloop nie. (Veral nie die soort met mooi bene nie, ook nie die met blou oë, of die met breë skouers nie, om nie eers te praat van die met sulke bultende are op hulle voorams nie)

Ek weet nie of hy af en toe na my kant toe loer en of hy net in die natuur in staar nie. Ek kyk dadelik ander rigtings as hy begin loer. (OK, hy kyk definitief die natuur in, by my verby. Mans kyk nooit na my nie, daarvoor lyk ek te veel soos die girl-next-door. Ek is eintlik die girl-next-door, maar nie die cool soort soos in die flieks nie. Die rêrig-soort! Die soort wat gewoonlik verlief raak op ‘n ou  wat verlief is op die hoofmeise, maar die hoofmeisie is op iemand anders verlief en dan wil hy by die girl-next-door weet wat hom te doen staan om die meisie se hart te wen, terwyl die girl-next-door se hart bietjies-bietjies breek en sy dan maar later na ‘n ander dorp verhuis en hy haar NOOIT  agterna sit met ‘n fiets wat hy my ‘n ou tannie gesteel het in die proses om die girl-next-door se hart terug te wen nie)

Anyways, waar was ek?

Mnr Mooibene!

En toe ek my nou met die feite vergewis het, dat Mooibene nie vir my kyk nie, begin loer ek vir hom. Baie onderlangs en onopsigtelik, natuurlik!  Ek dink hy het die hots vir Graatjie-Vinnighardloop langs hom!!

Dis net so! En dis so hartseer, want sy is getroud en bring haar dogtertjie saam bootcamp toe. Baie onbedagsaam van haar! So in-his-face. Hoe moet die arme man nou voel?

Ek maak dit net-net deur bootcamp. Vir die strekoefening, het ons partners nodig, sê die instruktrise. En die partners moet aanmekaar vat (help het sy gesê, maar dit wat sy demonstreer het was meer soos vat, soos om aan mekaar se boude te druk!)

Mnr Mooibene begin loer weer in my rigting. Moenie vir my kyk nie, ou! Dis nou jou kans om aan haar boud te vat, moontlik die enigste een wat jy ooit gaan kry.  

Sjame, die arme man wil seker nie aan haar boud vat nie (natuurlik wil hy, maar hy weet dalk dis beter om dit nie te doen nie) Miskien moet ek in my medemenslike girl-next-door hoedanigheid die arme ou uithelp.

Toe hy weer vir my loer, loer ek maar terug en begin moed bymekaar skraap. Maar hoe ek ookal skraap, kry ek niks moed bymekaar nie. My moed het opgeraak!! Die girl-next-door is dood.

Die persoon in my wat alles sou opoffer om ander te help, is nie meer daar nie!!

Ek voel ‘n veer vir Mnr Mooibene se gevoel.  Ek is bang as daai man aan my boude begin vat, dat ek dalkies net vergeet dat ek niks met mans te doen wil hê nie. En dat ek hulle nie nodig het nie.

Ek het verander! Ek het bang geword. Nee, ek het slim geword? Ek weet nie.

En ek worry ook nie! Soms moet mens nie probeer analiseer hoe jy voel nie en net handel. My reptiel brein sê ek moet vlug.

Ek gryp my mat, spring op en gaan staan op die punt langs PinkHempie en sê vir haar in my nie-onderhandelbaar stem:

“Ons twee gaan partners wees met die strekkery!”

Monday, 19 November 2012

My swakste eienskap .....

Ek het ‘n hoogheilige vrees vir slange.

Dan het ek ‘n diep weggesteekde vrees vir onsuksesvol wees. Om te misluk. En dan is ek bang vir arm wees. Ek wil nooit weer so arm wees soos toe ek ‘n kind was nie. Ek wil nooit weer net een paar skoene besit nie. Om ooit weer so arm te wees, maak my bang (Ek seker dit sal ander vrouens ook bang maak. Net een paar skoene is ‘n tragedie.)

(Probleem is net, behalwe nou van die skoene, is ek nogals arm. Ok, ek het nouwel ‘n splinternuwe (baie cool) kar, en ja sommige mense sal dink ek is ondankbaar, maar ek kan myself verduidelik.
Ek het kon ‘n hele kar gebruik as ‘n deposito vir die kar, wat maak dat die paaiement glad nie so groot is nie. Plus, die vorige kar was ‘n gehate item wat ek van my eksman ontvang het en waarmee ek vir langer as twee jaar teen my sin moes rondry. Die splinternuwe kar, was dus ‘n noodsaaklike en nie noodwendig ‘n luukse nie. Arm mense het noodsaaklikhede, ryk mense het luukses.
Behalwe van my skoen-versameling (‘n noodsaaklikheid) en my kar, is ek dus ‘n arm meisie. ‘n Arm meisie met ‘n uitputtende en stresvolle beroep. Een waarvan ek nie hou nie)

Terug op die punt van vrees en swak eienskappe: my vrees vir arm en onsuksesvol wees, is presies wat my gedwing het om die boring, seker pad te neem. Om hard te werk en verhogings te kry (en bonusse) en seker te wees van ‘n salaris elke maand. Want ek en die onsekerheid van die toekoms is nie maats nie. I need to know things. I can’t  just go with the flow.
My vrese het my so verlam dat dit nou nog net swak eienskappe is.
Maar BaasKlaas het my nou bewys dat daar nog ‘n paar guarantees  in die lewe is behalwe ‘n salaris aan die einde van die maand – base is almal min of meer van dieselfde stoffasie gemaak. Dis net die patroon op die bekleedsel wat verskil.
Dit het my genoodsaak om bietjie anders na die lewe te kyk. Ek moet ophou bang wees en my vrese in die oë kyk. As mens nie probeer nie, sal jy nie weet nie. Soos my wyse Oupa gesê het, daar is een ding erger as om ‘n fout te maak, en dis net om algeheel NIKS te doen nie. (en ek val in die NIKS-doen kategorie)  
As my oupa van ‘n busdrywer, na akteur, na rykste man kon gaan, kan ek sekerlik ook. Ek weet ek het iets van hom in my, ek kan dit net voel. (ek wil ook mos nie die rykste vrou op die dorp wees nie, ek wil net gelukkig wees met skoene.)
Ek het te veel planne dat hulle net drome genoem kan word. As ek nie iets doen nie, sal ek altyd dink “ I have what it takes” maar ek sal dit nooit bewys nie. As ek nie iets doen nie, het ek klaar misluk.  Dan sal ek elke oggend wakker raak en dink – is dit nou dit? 
Ek is bly vir die mense wat oor niks dankbaar raak nie. Ek is bly vir die mense wat van agt tot vyf kan werk. Ek is bly vir die wat dink môre sal dit beter gaan.
Maar dis nie ek nie.  
Ek sal my planne en  my feite in orde moet kry…..

Ek gaan ophou bang wees..
Ek gaan al my moed bymekaar skraap…….. ..en dan gaan ek ‘n bank beroof en my hart loop soek.  

Die voël in die hok...


Ek het sover gekom om myself uit die skadevergoeding te praat.
Daar heers nou ‘n skynheilige vrede tussen my en BaasKlaas.  Die groetwoorde op sy laaste e-pos maak my nogsteeds boosaardig kwaad as ek net daaraan dink.

“ Ek is so bly ons kon die onsmaaklike besigheid agter ons sit. Ek hoop ons gaan nog saam oud word by die besigheid!”
Seriously? 

Jy het die onsmaaklikheid begin. En jy is klaar oud, wou ek terug tik (met my CAPS LOCK aan)
Die stof het dus gaan lê (en voel my ek daarmee saam), maar dis ook al.  Die skade is gedoen en niks sal my ooit hierdie les laat vergeet nie.

Ek moet myself dwing  om aan die lewe deel te neem.  En ek dink. Ek dink en ek dink.  Ek dink wat nou en waarheen?
Ek is groot gemaak - arm, eerlik, hardwerkend. Pa het geweet hy gaan ons nie deur universiteit kan sit nie. Ons is grootgemaak met die idee dat ons ons pad sal moet oopwerk as ons “êrens” wil kom.

Want ons wat die Nels is, moet êrens kom.  Ons is nie gemaak vir die normale nie. Ons is nie gemaak om in die middel rond te hang nie.  Heel bo of heel onder. (en heel onder is waar ons deesdae rondhang)  Alles of niks.
Oupa was die rykste man in die dorp, way back in the day. Pa het as ‘n rykmanskind grootgeraak.  Pa moes êrens vergeet het dat sy kinders ‘n arm man se kinders is, want hy’t ons met daai selfde rykmans attitude grootgemaak.

Pa is nie juis ‘n man wat geld praat, of groot bedrae noem om ‘n gesprek interresant te maak nie. Pa laat hom nie intimideer deur ryk of slim geleerde mense nie. Pa sê mense moet respek verdien. Met geld kan hulle dit nie koop nie, deur net ‘n BAAS te wees kan jy dit nie afdwing nie.

Pa het ons geleer jy buig voor niemand nie. Pa het ons geleer niemand is beter as ons nie.

Dis hoe ons Nels grootgemaak is. Arm, eerlik, hardwerkend, hardegat en onbuigbaar. Met ‘n wil en ‘n opinie van ons eie.

Pa het gesê mens verkoop nie jou hart vir geld nie. Ons is grootgemaak om vry te wees, vry van die wêreld en vry van mense.

En hier sit ek nou. Vasgevang soos ‘n voël in ‘n hok.

Sonder ‘n hart………

Wednesday, 7 November 2012

My beste eienskap


“Wat is my beste eienskap?”  (‘n vraag wat ek tot vervelens vir my familie gevra het as die minderwaardigheidskompleks sindroom van die middelkind wat ek is, by my kom spook)

“Jou eerlikheid, my kind” Ma se antwoord,  tot my groot teleurstelling. Eerlikheid is nie glamorous nie, eerlikheid is boring. 

Eerlikheid tel nie, sou ek sê. Eerlikheid bestaan nie meer nie. Ek was desperaat op soek na ‘n ander, beter eienskap. (soos positief wees, byvoorbeeld)

Dan sou Ma verduidelik dat juis omdat dit so ‘n rare ding deesdae is, almal dit gaan wil hê. Sy het dit soos ‘n gesogte, unieke verskynsel laat klink wat deure vir my kon oopmaak.

Eerlikheid is vandag die ding wat my laat sit waar ek sit. (en ek sit nie op ‘n goeie plek nie)

Eerlikheid, ironies genoeg, is dit oorsaak hoekom ek van agterbaksheid, kontrakbreuk ,onetiese gedrag en what-have-you-not beskuldig word.  My gunsteling gedeelte: gedreig word met regsaksies en skadevergoeding wat die bedrag van ‘n klein motorkarretjie beloop.

My rekord van meer as 3 jaar, my eerlikheid, het niks getel toe BaasKlaas toe diè besluit gekom het nie.

Die feit dat (terwyl ek deur ‘n egskeiding gegaan het), soms 4 uur in die oggend opgestaan het om te gaan werk (omdat ons under-staff was) het ook niks getel nie.

Considering the fact dat ek 2 maande gelede met ‘n major-depressive breakdown  gediagoneer is, sou menslike empatie ‘n welkome gerustelling gewees het.

(Dit is afterall hierdie bleddie job se skuld dat ek met depressie sit. As ek die tyd gehad het om soos ‘n normale mens my problem e te verwerk, sou ek nooit met depressie gesukkel het nie. Maar nee, toe stres ek my mos dood oor werk vir ‘n aap wat self nie ‘n duit omgee nie.)

Eerlikheid het dit alles aan my gedoen. Ek was so eerlik om vir BaasKLaas te sê dat ‘n kliënt my genader het om haar kwitansie-sorting in my privaat hoedanigheid te doen.

Jip, my dienskontrak sê ek mag nie werk in my privaathoedanigheid doen wat verband hou met my regte werk nie.

Nou hoekom sal ‘n slim mens soos ek dan so ‘n dom ding wil doen??

Eerstens – ek het vergeet van die klousule. Hoekom? Omdat ‘n kollga, privaat werk in haar persoonlikhoedanigheid doen. Hoekom ek ooit so stupid kon gewees het om te dink wat vir haar geld, geld vir my weet ek nie. Ek weet nie juis wat demokraties beteken nie, maar ek is seker ek kan dit in my defence gebruik. Gelykheid in regte?!  (haar boops is baaaaiiiieee groter as myne èn sy wys meer cleavage, natuurlik smaak sy ander voordele as ek!!)

Tweedens:  Aangesien ek hierdie kliënt reeds 2 jaar bedien het, alvorens ek vir BaasKlaas begin werk het, het my laat dink sy is MYNE! Weereens verkeerd, ek het haar vir BaasKlaas gegee, en sy in nou SYNE.

Diè dat BaasKlaas heel mal gegaan het en my begin dreig met skade vergoeding omdat ek sy precious kliënt afgerokkel het. (Smeagull is nie ‘n patch op Klaas nie, trust me!!)

Ek weet ‘n storie is soos hy vertel word, feite is slegs feite as dit in ‘n kontrak staan. Maar ek ken die waarheid wat in my hart geskrywe staan. En daar staan niks van oneties of agterbaks nie.

Ek dink vir die eerste keer in my lewe het ek Ma getroef. Eerlikheid is dalk ‘n goeie eienskap, maar dis pretty worthless in vandag se wêreld.

Om te sien hoe 3 jaar se harde werk in een oomblik van eerlikheid tot nul verklaar word, maak seer.

Ek hoop net my wraak op BaasKlaas maak hom nog seerder.

Want hiermee gaan hy nie wegkom nie.

Eendag gaan ek op hom neerkyk en sê…..

“Die blinde sambok is ‘n bliksem!!”

Tuesday, 6 November 2012

Die een op die bus


Die buskondukteer (kry mens so iets - die busdrywer dan) maak allerhande lospraatjies met my Bonna-broer toe ek hom gaan aflaai om die bus te haal terug huistoe. Ek staan eenkant met 'n bot gesig en mondhoeke wat op die sypaadjie hang. Praat nie ‘n woord nie.  
 
Toe die opklimtyd kom druk hy my styf vas en die trane begin rol onbeheersd.

“Moenie my nie nou alleen los nie” , wil ek sê, maar alle woorde stol binne in my keel. Ek kry nie eers 'n koebaai uit nie. Ek voel hoe die trane onderdeur my sonbril begin loop en ek weet dit vlek my my wange pikswart (ek dra nie waterproof makasara nie.)

 
Ek voel die kyk in die busdrywer se oë. 'n Tragiese afskeid – dis wat hy dink. Was dit nou 'n lovers quirrel en die outjie ry sonder dat hulle behoorlik opgemaak het of is dit nou maar net 'n groot verlang wat voorlê, wonder hy.  
 
Nee, dis my broer wat huis toe gaan.
 
Ek maak dit net-net terug tot by my (nuwe) kar voordat ek kliphard begin huil. Ek gee nie meer om wat die busdrywers of die voetgangers op die sypaadjie dink nie.

 Ek huil, want die seer het te veel geword om binne te hou. Ek huil, want ek is so bitter moeg en gatvol. Ek want is is nie meer lus vir die lewe nie. Ek wil hê die aarde moet my net insluk, uitspoeg en klaar kry.

Ek huil want niemand verstaan nie. Behalwe een. Een wat alle seer in my ken en my nie probeer oortuig dat die lewe beter sal raak nie. Een wat weet hoe dit voel as môre nog donkerder is as gister. Een wat nie sy seer met myne vergelyk en dit probeer ewenaar nie.  

 Daardie een het nou op ‘n bus geklim.

 Weg van my af.