Ek neem maar deel aan my normale lewe todat dat my
big-break kom. (Bootcamp is deel van my
normale lewe)
Maar ek voel anders. Ek is anders. Hoe weet ek
dit?
Want toe Mnr Mooibene in langs my kom staan, soek
ek wild na ‘n uitkoms om nie langs hom te staan nie. Maar omdat dit net baie weird sal lyk om my matjie en oefenpypie
te vat en op ‘n ander plek te gaan staan, anker ek myself dapper vas net daar
waar ek is.
Ek is nie juis die soort wat agter mans aanloop
nie, maar ek is ook nie juis die soort wat van hulle af weghardloop nie. (Veral
nie die soort met mooi bene nie, ook nie die met blou oë, of die met breë
skouers nie, om nie eers te praat van die met sulke bultende are op hulle
voorams nie)
Ek weet nie of hy af en toe na my kant toe loer en
of hy net in die natuur in staar nie. Ek kyk dadelik ander rigtings as hy begin
loer. (OK, hy kyk definitief die natuur in, by my verby. Mans kyk nooit na my
nie, daarvoor lyk ek te veel soos die girl-next-door.
Ek is eintlik die girl-next-door,
maar nie die cool soort soos in die
flieks nie. Die rêrig-soort! Die soort wat gewoonlik verlief raak op ‘n ou wat verlief is op die hoofmeise, maar die
hoofmeisie is op iemand anders verlief en dan wil hy by die girl-next-door weet wat hom te doen
staan om die meisie se hart te wen, terwyl die girl-next-door se hart bietjies-bietjies breek en sy dan maar later
na ‘n ander dorp verhuis en hy haar NOOIT
agterna sit met ‘n fiets wat hy my ‘n ou tannie gesteel het in die
proses om die girl-next-door se hart
terug te wen nie)
Anyways, waar was ek?
Mnr Mooibene!
En toe ek my nou met die feite vergewis het, dat
Mooibene nie vir my kyk nie, begin loer ek vir hom. Baie onderlangs en
onopsigtelik, natuurlik! Ek dink hy het
die hots vir Graatjie-Vinnighardloop langs
hom!!
Dis net so! En dis so hartseer, want sy is getroud
en bring haar dogtertjie saam bootcamp toe. Baie onbedagsaam van haar! So in-his-face. Hoe moet die arme man nou
voel?
Ek maak dit net-net deur bootcamp. Vir die strekoefening,
het ons partners nodig, sê die
instruktrise. En die partners moet
aanmekaar vat (help het sy gesê, maar dit wat sy demonstreer het was meer soos
vat, soos om aan mekaar se boude te druk!)
Mnr Mooibene begin loer weer in my rigting. Moenie
vir my kyk nie, ou! Dis nou jou kans om aan haar boud te vat, moontlik die
enigste een wat jy ooit gaan kry.
Sjame, die arme man wil seker nie aan haar boud
vat nie (natuurlik wil hy, maar hy weet dalk dis beter om dit nie te doen nie)
Miskien moet ek in my medemenslike girl-next-door
hoedanigheid die arme ou uithelp.
Toe hy weer vir my loer, loer ek maar terug en
begin moed bymekaar skraap. Maar hoe ek ookal skraap, kry ek niks moed bymekaar
nie. My moed het opgeraak!! Die girl-next-door is dood.
Die persoon in my wat alles sou opoffer om ander
te help, is nie meer daar nie!!
Ek voel ‘n veer vir Mnr Mooibene se gevoel. Ek is bang as daai man aan my boude begin vat,
dat ek dalkies net vergeet dat ek niks met mans te doen wil hê nie. En dat ek hulle
nie nodig het nie.
Ek het verander! Ek het bang geword. Nee, ek het
slim geword? Ek weet nie.
En ek worry ook nie! Soms moet mens nie probeer
analiseer hoe jy voel nie en net handel. My reptiel brein sê ek moet vlug.
Ek gryp my mat, spring op en gaan staan op die
punt langs PinkHempie en sê vir haar in my nie-onderhandelbaar stem:
“Ons twee gaan partners
wees met die strekkery!”