Die buskondukteer (kry mens so iets - die busdrywer dan) maak allerhande lospraatjies met my Bonna-broer toe ek hom gaan aflaai om die bus te haal terug huistoe. Ek staan eenkant met 'n bot gesig en mondhoeke wat op die sypaadjie hang. Praat nie ‘n woord nie.
Toe die opklimtyd kom druk hy my styf vas en die trane begin rol onbeheersd.
“Moenie my nie nou alleen los nie” , wil ek sê, maar alle woorde stol binne in my keel. Ek kry nie eers 'n koebaai uit nie. Ek voel hoe die trane onderdeur my sonbril begin loop en ek weet dit vlek my my wange pikswart (ek dra nie waterproof makasara nie.)
Ek voel die kyk in die busdrywer se oë. 'n Tragiese afskeid – dis wat hy dink. Was dit nou 'n lovers quirrel en die outjie ry sonder dat hulle behoorlik opgemaak het of is dit nou maar net 'n groot verlang wat voorlê, wonder hy.
Nee, dis my broer wat huis toe gaan.
Ek maak dit net-net terug tot by my (nuwe) kar voordat ek kliphard begin huil. Ek gee nie meer om wat die busdrywers of die voetgangers op die sypaadjie dink nie.
Ek huil want niemand verstaan nie. Behalwe een. Een wat alle seer in my ken en my nie probeer oortuig dat die lewe beter sal raak nie. Een wat weet hoe dit voel as môre nog donkerder is as gister. Een wat nie sy seer met myne vergelyk en dit probeer ewenaar nie.