Tuesday, 13 December 2011

Week 10 - Die End

Dag 1
Dag een is blou – van donderwolke. Die bootcamp-monsters is op hul pos. Ons drie koek saam in Lalie se kar en wag vir die reen om te bedaar. Maar dis  (weereens) onmoontlik om te oefen en Saartjie wil gaan koffie drink. Sommer by Lalie se huis. Sy voeg ook woord by daad en nooi die Beast toe die eerste beste  geleentheid ditself voordoen. (Beast bly ‘n klipgooi van Lalie af) Ek wonder of ek net my kop of sommer my hele lyf onder Lalie se karretjie se dashboard moet indruk. Die man sal dink ek het ‘n crush op hom . En dat ek my die girls aanhits om hom op dates te vra. Ek wonder nog hoe ek die koffie afspraak  ongedaan sal maak, toe die Beast ons kom meedeel hy’s reg om te gaan koffie drink. As ek dit nie mis het nie het hy vir my gekyk toe hy dit sê?

Dag 2
Jennifer Aniston feature op Facebook – sexy, slank, soepel! Pragtig!  Joga, berig die artikel. As dit is wat joga aan jou doen, wil ek dit ook doen. Ek deel die plan met die girls en ons is meteens dat ons volgende jaar joga gaan doen. Kort voor lank pos Lalie vir ons joga oefenbroekies op ons BBM-oefengroep. Saartjie weier om dit te dra, maar ons gaan ‘n spanpoging aanwend en moet almal eenders lyk. Team Joga! Tussen deur dit alles kry ek ‘n e-mail wat my in kennis stel dat ek ‘n afspraak moet maak vir die Bodystat – analise. Ek raak benoud.

Daar lê  potblou wolke op die horison.Van ons groepie is dit net ek en Lalie wat opgedaag het vir die marteling. Ek bid hard dat die wolke moet nader kom. Vergeefs. Hulle kom nie ‘n aks nader nie. En die Beast laat smaak ons hel voor dadels. Hy voel ons moet inhaal vir die sessies wat ons gemis het. Ons doen vandag al die aaklige oefening in die boek. Burpies, lunchwalkes, paddaspring.

Toe ons op ons ruggies neerval vir crunches, begin plons groot reendruppels neer en die bootcamp word dismissed.

Dag 3
Ek maak ‘n afspraak vir die body stat. En ek skraap moed bymekaar om die Beast te vra na ‘n vertoning by die teater. More is die laaste bootcamp en Vrydag gaan die Beast op verlof. Hy het nou wel gesê ons moet die vakansie iets doen – midde in die vakansie kruis ons paaie op dieselfde dorp, maar dis dalk ‘n goeie idee om die kommunikasie en kontak kanale te verstewig voordat dit te laat is.

Ek stuur hom ‘n sms en laat dit baie non-chalant klink. Die  jy-weet- jy –is- welkom -om –ons- te-joins, hoe- meer- siele- hoe- meer -vreugde tipe van act. Hy bel terug. (!!!!!!) En my hart begin te bokspring. Ek staan vir ongeveer ‘n minuut na die caller ID en kyk en antwoord toe uitasem (of kortasem?) Toe hy vra wat ek maak, skrik ek my boeglam. Wat moet ek sê? Ek het soos ‘n idioot na jou naam op my selfoon se skerm staan staar die afgelope minuut! Voor dit het ek op my bed gelê en dink (aan jou). Nee sê ek, ek het nou sopas uit die stort geklim. Toe gee hy so ‘n verleë laggie (of altans dis hoe dit geklink het) en vra hoe laat die verrigtinge begin en tot wanneer dit aanhou. Die Beast sê hy het nog ‘n langpad die volgende dag, hy kan nie te laat in die bed kom nie. Ek voel sommer aan my basvelle hier kom ‘n dom verskoning. Embarrassed is nie die woord nie. En ek het, om alles te kroon, ‘n druppende stomende stortlyf in die storie ingewerk en hy gaan NEE sê. Hoeveel  public humiliation gaan ek nog verduur?

Maar voordat ek heeltemal in my “badkamer” vloer inmekaar sak van skok, sê die Beast dat hy daar sal wees!! (phewwwwwww!)

Dag 4
Laaste bootcamp. Bodystat.  My senuwees hang aan ‘n vislyn. Omstreeks half een meld ek aan by die bodystat kantoor. Ek sien die Beast se kar nêrens. Ek stap in en begin onmiddelik hope nonsens praat – ek doen altyd as ek senuwee agtig is. En voor ek my kom kry, staan ek voor ‘n groot wit skaal.

Ek knyp my oê styf toe terwyl ek versigtig – voetjie vir voetjie op die skaal klim. En toe maak ek my oê weer stadig oop – soos ek altyd doen as ek na my eksamen uitslae kyk. 

En toe trek ek los en begin vloek.  Want ek het nie ‘n enkele kilogram afgeval nie. In fact – wait for it – ek het 2.7 kilogramme OPGETEL. Die bodystat vrou probeer paai en maak verskoning dat hulle ‘n ander skaal gekry het – maar die mates – die mates – die mates – dis wat belangrik is. (F die mates – dink ek) Ons meet – oftewel sy meet – ek staan daar. Opgeblaas van pure skok. En die mates se resultaat lyk nie veel beter as die skaal sinne nie. Om die middelyf is ek ‘n cm breër , om die heupe ‘n cm smaller. Beteken dit nou my vet het opgeskuif? Beteken dit dat my enigste maer gedeelte ook nou vet is? Ek voel aaklig. Ek voel soos huil. 10 weke. 2 en ‘n halwe maand se gesuffer – vir NIKS!  Die bodyfat persentasie is met ‘n present af!  Ek soek iets  - n positiewe gedagte – wat my van totale ineenstorting gaan red – maar niks. Die benoude uitdrukking op die maatbandvrou se gesig laat my besef dat ek maar my pose sal moet hou – net nou bel sy ‘n ambulans om my hospital toe neem vir skokbehandeling.

Ek stap by die horror kantoortjie uit. Verby die gim gedeelte. Vaagweg, hoor ek ‘n bekende stem. Die Beast s’n. Dieselfde stem wat my georder het om vinniger te hardloop, burpies te doen en soos ‘n padda te spring. En dit was alles verniet. Ek kan seker hallo sê maar ek stap aan.

Halfpad kar toe hoor ek hom na my roep. Ek draai om, hy hang halflyf by die gim se venster uit. Toe ek na hom kyk vra hy of ek hom gaan dagvaar. (ek het gese ek gaan as die bootcamp nie vrugte afwerp nie)  TOTALLY!!  Ek vertel hom van die horribale uitslae. Hy praat sommer dadelik ander stories. Oor die vertoning en die dresscode.

Dit neem my nie lank om te besluit dat ek die laaste bootcamp gaan ditch en gaan titivate vir die aand nie. Ek kry later ‘n sms van die Beast waarin hy verskoning maak vir die uitslae, en as troosprys sê hy hy dink nogsteeds ek is sexy! Gladdebek mannetjie!
                                            
Dag 5
Dis verby. Die 10 weke program en die Beast. Gisteraand is ek nie een keer “nooi” genoem nie. Ek is wel saam kar toe genooi  – sodat hy die oefenprogramme vir die vakansie vir my kan gee. Die ander klomp is almal gedruk en gesoen, maar toe dit by groet kom is ek half skuins aangloer. Ek het toe maar oorgeleen in die Beast ‘n piksoentjie gegee. En toe gesê ek bel jou die vakansie! Ek het met dieselfde gevoel weggestap as uit  daai maat-skaal kantoortjie.  Almal rondom my verwag resultate, ek verwag resultate, maar NIKS. BOGGEROL, ZILCH!!!  NADA!

Ek wou gehad het die 10 weke moet met ‘n bang eindig. Ek, wat Does is hou van stories. Ek hou van hoogtepunte en aksie. Ek hou van goed wat vinnig gebeur.

Maar die lewe werk nie altyd soos uit nie. Soms moet mens gaan sit en die positiewe uit ‘n situasie haal en aanhou werk vir dit wat jy wil hê. Die liefde, die lewe, die lyf! My laaste poging was dalk nie so suksesvol as wat ek gehoop het nie, maar ek is lank nog nie reg om handdoek in te gooi nie.

My selluliet is minder. My spiere is meer. Die lewens jare raak meer. Die wysheid ook. Die ou Does wat haarself verloor het, begin stadig maar seker weer lewe kry. Vroeg in 2012, slaat Does die Dertigs. En dit gaan my jaar wees.

En dan, daar doer in die verte, op die bank van die Oranje, is ‘n Beast……

Een wat net ‘n meisie met die naam van Does kan tem!

Monday, 12 December 2011

Week 9 .....(sug)

Dag 1
Week 9. Die einde in sig. Ek is ready and motivated om die beste te maak van die tyd wat oorgebly het. Toe begin dit reen. Getroue bootcamp-monsters wat ons is, is ons daar (Ons = Does, Saartjie en Lalie). In die reen, ready for action. Kara Kroft kon natuurlik nie wag om dit as verskoning te gebruik nie en het geskitter in haar afwesigheid.

Maar die aanhoudende gesous op die oefenveld maak dit onmoontlik om te oefen. Saartjie neem beheer van die situasie en nooi die Beast vir ‘n drink.  En weg van die oefenveld is hy glad nie monsteragtig nie. (hy’s eintlik nogals oulik?) Ons praat bootcamp stories en Saartjie vra dat ons minder push-ups moet doen omdat dit haar  Mamsie Links & Regs laat krimp het na ‘n 34 A. (Ek en Lalie swyg, ons kla nie daaroor nie)


Dag 2
Ek is confuse en alleen. Hoekom weet ek nie? Daar is oorgenoeg mense in my lewe en dinge om te doen. Mnr H en ek gesels een stryk deur, Chuck gee raad en spot oor die situasie. My familie is nog almal lief vir my en my vriende hopelik ook.

Dan is daar bootcamp en die Beast. Hy het gister aand kaalvoet by die drinkplek opgedaag.Normaal weg keur ek nie kaalvoete in openbare plekke goed nie. Maar sjoe, die man pas in kaalvoet! (Dalk was sy tekkies nat van in die waterplasse rondhol?)

Saartjie en Lalie sê ek moet my attitude en lang gesig regpluk. Saartjie stel voor ek neem die lyding want vandag se outjies is skaam. Sy het vir Mnr SS so in katrol. Ek het my eksman ook so in katrol en waar het dit my gebring!! (catch is een ding , release ‘n ander)

Ek het my hare laat sny en die Beast  het  dit opgemerk. Flippen hel, as hy nie blou oë gehad het en in kaalvoet gepas het nie, sou ek lankal nie meer oor hom gepraat het nie.

Dag 3
Ons doen naweek beplanning en die girls wil die Beast betrek. Ek moet hom nooi, maar ek’s te skaam. Hulle wil nie, want hulle is getroud en dis onbetaamlik. Ek vra vir Chuck wat hy dink en hy voel dat ek net die Beast moet nooi en klaar kry.

Dag 4
Saartjie kom tot my redding en nooi die Beast uit. Hy trap ietwat ongemaklik rond en sê dit klink lekker. Hy lyk skepties, ek voel skepties. En dan vang die Beast se oog myne ek kry ‘n snaakse rilling. Dit was nie ‘n normale kyk nie, of was dit? Ek voel hoe my wange rooi raak. Ek voel hoe ‘n bang word gevoel van my besit neem. Die Beast beloer my en ek beloer hom. Toe raak ek rerig bang ensê ek moet ry, ek is laat vir ‘n afspraak.


Dag 5
Ek wonder vir ‘n rukkie wat ek gaan aantrek, en dan wonder ek hoekom ek nou weer iets mooi wil aantrek? Dis net drinks met die girls en miskien die Beast. Ek is nie oop vir teleurstelling nie. Chuck het voorgestel dat ek die Beast moet vasgryp en in ‘n ander dimensie insoen. Ek weet nie hoekom almal dink ek moet die man soen nie. Ek is nie ‘n Beast temmer nie. Ek is Does, ‘n banggat en ‘n wegholler.  

Dag 6
Dag vyf het eers in die oggendure van dag 6 opgehou. Die Beast hou van kuier en praat (en hy kan dans!!!)  Hy noem my “nooi” Sò dat dit nie outyds klink nie. Hoe kry hy dit reg? En dan sê hy goed soos ek ‘n het spontane persoonlikheid vir ‘n boekhouer (huh?),  het ‘n sonskyn geaardheid (wat rook die man?) en ‘n so ‘n positiewe mens (dit moet iets potent wees!!)– alles ‘n klomp snert. Spontaan, sonksyn en pragtige is nie woorde wat in dieselfde sin as Does genoem word nie. Maar sooooo lekker om hoor……..


Dag 7
Lalie se man vermoed die Beast is ‘n player en gigilo. Want hy weet van ‘n biokenitikus in Burgersfort wat vriendelik was met sy pasiënte en later baie onwelvoeglik (of dalk baie welvoeglik?) gehandel het met die ouer, ryker dames. Ons weet nie of dit dames dalk gekla het of dit geniet het nie, maar die punt bly staan dat ek nie ‘n ryk ou dame is nie……. en die Beast bly nie in Burgersfort nie.

Ek wag in spanning vir week 10 ..

Thursday, 1 December 2011

Week 8

Dag 1

Die Maandag is vol happy people. Ek is terug op my besem. Ek sit in my eie geïsoleerde gaatjie en wag vir beter dae. Ek het gedink as daar iemand is wat alleen-wees kan af pull, dit ek sal wees. Want ek is soms ‘n moeilike, iesiegrimming heks wat net op haar eie mishoop wil sit en die gifappeltjies na jelliemanne laat lyk.

Ek was verkeerd. Ek het iemand nodig wat vra “hoe was jou dag?” Een wat verkieslik sal luister as ek begin galbraak oor al die dom mense wat dom vrae vrae en eerder na Domland toe verban moet word. Ek sal bly wees as die persoon dan die gepaste “oe” en “aa” geluide maak en dan vir my ‘n glas wyn skink en dan voorstel dat ons sommer vanaand pizza moet eet!

Dag 2

Baboonwalks, squatjumps, lunchwalks, calves jumps.
Horrible goeters. Ek is eerder ‘n padda voor ek ‘n bobejaan is. Dis ‘n marteling van ‘n ander aard. Gelukkig vir my het ek al die kuns bemeester om  “besig” te lyk op die oefenveld. Van die 5 push-up burpy’s het ek het minus een gedoen.

Dag 3

Dis oefening afdag. Goeie ding. Want ek kan nie loop nie. En as ek doen, lyk ek soos ‘n bobejaan. Voel ook soos een. Ek trek maar plat skoentjie en jeans werk toe aan.  Die seer bene doen niks vir die gemoed nie en ek pos een of ander jammerkry status op my BB. My neef reageer en ek stort my hart uit. Lang storie kort, ek eindig op ‘n blackberry-blinddate met Mnr H, vriend van my neef. Die padjies van my lewe loop wilde, weird draaie.

Dag 4

Ek en Mnr H kuier lekker oor die BBM. Ek sê hom hy moet my eerder op FB nooi, want die BB knoppies tik te stadig. Hy doen. Die girls keer vreeslik, hulle is bang  hy is ‘n facebook moordenaar!!  Ek is nie bang nie, en gaan aanvaar. En natuurlik gaan check ek hom uit! Duh!!  En daar sit toe ‘n Mev P op Mnr H se profiel – as sy vrou! “Married to” En die girls is met moord gepla!! Mnr H het gesê hy is besig om te skei – fair enough- so wat maak Mamma P nog op sy profiel? Ek gebruik nie graag die woord nie, maar “eishhhhhhhh

Dag 5

Ek gee vir Mnr H Divorce 101 lesse. Mamma P moet van die profiel af. Sy kan nie daar sit nie. Been there, done that, got 2 T-shirts, en besluit dat ek vir Mnr H sal moet adviseer in die aangeleentheid. Ek stuur toe my advies deur per FB boodskap en kort voor lank is Mamaa P Done and Dusted.   Ek wonder so in die stilligheid of sy dit sal agterkom en wat sy sal dink as sy dit raak sien. (Ag, dis so lekker om ander mense te help, ek moet dit meer dikwels doen)

Dag 6

Ons gaan kuier by Saartjie. Sy het heerlike punch gemaak. Dis geel en baie lekker, smaak net soos koelies. Ek dink Saartjie het chill pille by die punch gegooi want groot saligheid kom oor my. Ek voel net sorgloos en kommervry. Saartjie se buurvrou, Pinkie vertel lang stories.  Van Afrikaanse musiek wat nie in haar smaak val nie, haar ex-boyfriends en vertel hoe sy geboorte geskenk het. Ek luister met ‘n halwe oor en skink nog punch.  En toe skraap ek moed bymekaar en vra haar of sy haar nie elke oggend vrek skrik as sy in die spieël kyk en daai pink hare van haar sien nie!!

Dag 7

Ek is so moeg. Baie , baie moeg Almal dink dis die punch, maar ek weet van beter.

Ek wonder, ek wonder.......

Monday, 21 November 2011

Dag 7 ..... deel 2

Dag 5

Ons het champers gereël by die werk. Liewe Heksie het uiteindelik van haar besem afgeklim – so voel die girls by die werk. Hulle wil dit graag vier. En daar vergeet ek die pienk bubbly by die huis. Toe ek terug ry om dit te gaan haal kry ek ‘n oproep die prokureurs kantore, wat laat weet dat die skei-sertifikaat gereeld is. Dinge val in plek. Oppad terug kantoor toe, kry ek ‘n oproep van ‘n vreemde nommer, ‘n halfbekende stem. Die plaaslike radiostasie laat weet my dat ek pizza gewen het. Ek het nog nooit iets gewen nie. Ek is uit my vel uit. Ek wil huppel en spring en skop en gil. Ek het gewen! Ek het gewen!! Die lewe kan nie beter nie. Dis die gelukkigste dag in my lewe.

Dag 6

Ek gaan na die naaste supermark vir benodighede. Ja, die duiwel was wragtig weer voor my daar. Die keer het hy nie jamrolls daar gelos nie. Franse truffels en trukse Turkish Delights en een of ander eksotiese nougat! Natuurlik het ek dit gekoop. Terug by die huis sit en bekyk ek die aankope. Toe bêre ek dit weg. En toe haal ek die truffles uit. Om een te proe. Want ek het 2 boksies gekoop, ek wil die een as geskenk gee en dis teen my beginsels om vir ander mense goed te gee wat ek nog nie uitgetoets het nie. Sê nou dis nie lekker nie?!

Dit is toe… hemels. Maar ek proe nie nog een nie. En die ander lekkergoed bly veilig in die kas. Dit gaan huis toe met die langvakansie. My pa se soettand gaan groot waardering daarvoor hê.

Dag 7

Die laaste dag van week sewe. Daar is nog net 3 weke van bootcamp oor. Ek gooi alle hoop by die vensters uit. Daar is nie ‘n manier dat ek in drie weke gaan vermag wat ek nie in sewe kon doen nie. Ek is gatvol. Dag 5 was ek die gelukkigste mens op die aarde, vandag die ongelukkigste. Ek is moedeloos. En kwaad. Vir die hele bleddie lewe. Ek is vies oor alle seer wat daar al in my lewe was. Ek is vies vir elke bleddie mens wat daartoe bygedra het. Of hulle nou bedoel het om seer te maak of nie, ek is kwaad vir hulle. Ek is sommer lus en haat hulle almal. Verdien ek regtig al die seer? En as ek dit verdien, so what? Van van al die ander evil people daarbuite wat gelukkig is. Hoekom kan hulle ‘n stukkie van die pie kry, maar nie ek nie?

En ek huil en huil en huil, sonder ophou. Want my “lewens-pie” is gemuf en vrot.

Gelukkig makeer die French truffels niks nie………

Thursday, 17 November 2011

Week 7 .... Deel 1

Dag 1:

Nogsteeds boos vir Kara Kroft gaan Google ek “how to kill a rhinoceros”
Die enigste topic wat my dalk kan help mission Rhino-killing is “HELP! I need to kill a rhino with nothing but a set of pliers and a keyboard!”  Ek is dus nie die enigste girl wat ‘n renoster probleem het nie?!

Ek gaan Google “how to find true love” Hierdie onderwerp is baie leersaam. Nie vir my nie, vir Kara Kroft. Vind jouself, wees gelukkig binne in jouself en die res sal mettertyd vanself gebeur. Klink goed vir my. Copy, paste en print. Kara Kroft gaan ‘n loveletter kry.

Dag 2:

Ek het die oproep gekry waavoor ek al ‘n jaar en ‘n half wag. Die you-are- now- officially- divorced phone call. Naas“I DO” is dit die mooiste woorde wat ek nog ooit gehoor het. Van nou af moet ek op alle offisiële dokumente in die divorced  blokkie tick.  Not really the way I pictured my life, maar dit kan gedoen word.

By bootcamp vertel die Beast dat ons vandag vroeër gaan klaar maak. Omdat hy ‘n date het! Eintlik ‘n werksfunksie, maar hy gaan blykbaar ‘n stukkie aan die arm ook hê. As ek nie op my eie wolk van divorced-euphoria gesweef het nie, sou ek dalk afgehaal gevoel het. Met ons bootcamp luck, laat daai Beast ons oefen nog lank na die afgesproke klaar maak tyd. Die date is òf nie baie hot nie, òf die man neem sy werk hopeloos te ernstig op. 

Dag 3

Die divorced after shock het my getref. Ek weet nie of mens so iets kry nie, ek dink so. Ek bewe, is naar en het ‘n senuwees wat vasdruk. Die stomme liggaam is tot die uiterste gedryf – deur die laaste 18 maande en ook met die bootcamp. Die arme ding het TLC nodig!

En by die Beast gaan ek dit beslis nie kry nie. Die man pik deesdae gans te veel op my. En skynbaar,  om alles te kroon, het hy nie ‘n jonnie (onderbroek/jockey)  aangehad met Dinsdag se bootcamp nie!! So sê Saartjie! Even na ses jaar van getroud wees, ek is steeds ‘n vurige anti-naaktheids aktivis. Kaal mense freak my uit!

Dag 4

Ek is omgekrap. Ek begin dink die boyfriend soekery was dalk een van my dommer planne. Maar toe smile die geluksgodin vir my. Want ek kry ‘n sms van die Kapokhaan. En hy vra of ek hom op Dag 5 wil join vir drinks. Ongelukkig kan ek nie, want ek het ‘n vuurpit om te bou. Ek bedank dit toe.

Maar nou het ek waarna ek gesoek het. Selfvertoue! I still got it!! I still got what it takes!!  Ek het al vrede gemaak dat MNR REG, DIE 2DE, ‘n bietjie jonger gaan wees as ek.

En Chuck is net die ou op wie ek my visier gaan instel. Chuck is jonk, intellegent genoeg, ietwat annoying omdat hy gedurig die beste wil wees, maar die feit dat hy van ballet hou, maak op daarvoor. En omdat hy weet hou om ‘n vrou te hanteer as sy PMS het. En dan die heel belangrikste: Hy’t die bene!

On second thoughts? Hmmmm, definitief! Dit gaan Chuck wees.

WANT CHUCK’S THE MAN!


Monday, 14 November 2011

Week 6 ... een laaaaaangg week

Dag 1

Ek het die laaste dag van week 5 in ‘n gat geval en nog nie daaruit geklim nie.  Ek is onvergenoeg. Naar, siek en net oor die algemeen ietwat moeg vir die lewe. Ek het besluit dat ek ‘n boyfriend gaan soek. Hoekom het ek nie maar net die ugly truth  ignoreer en in denial voortgelewe nie? Nou’t ek erken dat ek alleen is, en die gevoel van desperaatheid vat-vat aan my. En ek haat dit. Ek doen nie desperate nie.  Ek het myself belowe Mr Right die 2de moet my voete onder my uitslaan, sonder dat ek ‘n vingertjie hoef te lig. Ek het nie meer lus vir ‘n geflirt en ‘n gewonder “wil hy” of “wil hy nie”.

Die realiteits koninging Kiem Kardoes weet te vertelle dat sy “net eenvouding haar hart moes volg” en daarom het sy met daardie vreeslike lang man gaan trou. Al was al die tekens daar dat dit nie gaan werk nie. Moet ek dit nie ook doen nie?  My hart volg nie? Want die verstand sê een ding, die hart ‘n ander.  Kiem Kardoes het haar hart gevolg…….  Maar dan, ek dink nie Kiem Kardoes het verstand nie…..


Dag 2

Ons bootcampers het John herdoop. Hy heet nou THE BEAST. Wel, The Beast het nie vandag sy gewone tekkies aangehad nie, maar Crocs. Ek dog ek dood! Ek besluit dat dit nou regtig klaar en verby is met The Beast. Crocs walg my. Maar toe gaan trek The Beast sy Crockies uit, en kaalvoet mans walg my nie!! Dammit. Onderwyl ek besig is om push-ups te (probeer) doen,  kom staan The Bearfoot Beast by my en vra waar Kara Kroft dan vandag is? Byna val ek op my neus! Vir wat wil hy nou van Kara Kroft weet?? Hier suffer ek met ‘n garage pie sooibrand en bewonder sy kaalvoete en hy staan en vra uit na Kara Kroft!!

Dag 3

By die werk wil almal weet of the Beast al seine gegooi het. Ek weet nie. Vra hy na Kara Kroft omdat hy in haar belangtel of is dit sy manier om los praatjies met my te maak? Of maak hy sommernet los praatjies in die algemeen? My magic sensors is lankal dood. Ek tel nie meer chemistry vibes op nie.

Ek weet net dat midde-in week ses lyk dinge nie soos ek my geprentjie het nie. En ek weet sò kan mens nie swaerkry vir niks nie. Ek sal plan moet maak.

Ek neem ‘n stappie terug en bekyk my lewe. Ek sien werk, bootcamp, ‘n huis en ‘n tuin wat onderhou moet word, en dan nog bootcamp. En dan sosiale verpligtingtinge. Die realitiet van my daaglikse bestaan wil nie opmatch met my droom vir ‘n mooi lyf (PROJEK 30) nie. Nadat alles gedoen is wat moet gedoen moet word, het ek nie tyd/lus/energie om oulike gesondheidskossies te maak en boonop ‘n gesonde lunch box te pak nie. (let wel: ek noem nie eers naels cutex en voete skrop nie) Dit maak nie sin nie, ek het nie ‘n man nie, ek het nie ‘n kind nie. Hoekom het ek dan nie tyd nie? 

Probleem nommer 1 is maklik indentifiseerbaar – ek werk te veel. Oplossing vir probleem nommer 1 – werk minder. Dis do-able. Probleem nommer 2  is dat ek ongesond eet. Oplossing  - deur maaltye beter te beplan, sal ek gesonder eet. Dis moeiliker, maar steeds do-able.  Probleem nommer 3 – Alkohol en Aartappelskyfies. (AA)  Oplossing - ????


Dag 4:

Ek droom toe laasnag dat ek sulke pragtige dun beentjies het. Perfekte inspirasie. Begeesterde ekke, stormloop toe die shops. Op soek na ‘n kort-kort denim broekie, want ek het nou ‘n visueel op die eindproduk en ‘n broekie sal net as ekstra motivering dien. Nodeloos om te noem dat ek nêrens ‘n klein kortbroekie kry nie. En aan die begin van die seison was daar tonne. Ek weet: die teenagers met hul belaglike vuurhoudtjie-dun beentjies het dit natuurlik – met hulle ouers se geld – opgekoop. Ons bootcamp saam met 2 van die goed (teenagers) en hulle moet altyd “voor” wees met alles. Hulle lyfies baie “in my face”. Hulle attitudes  ook.  Ek HAAT teenagers.

Dag 5:

In die nanag van dag vier word ek wakker. En ek lê wakker. Ek dink aan die Nagmusiekkies wat Kara Kroft en ek vroeër vanaand gedrink het. Sy’t alweer ‘n slegte dag gehad. Sy sê dis werk en so aan, maar ek glo haar lank nie meer nie. Dis daai verdomde Renoster – die eks wat ons laat tripple decker pizza eet en bottels wyn laat drink.  Ek dink aan al die kilo’s wat nog moet af, voor ek 30 slaan, Desember vakansie voor die deur. Ek was eens Does met deursettingsvermoë – unstoppable. Nou’s ek Desperate Does. En ek besluit: maak nie saak watter tipe ongeluk watter vriendin tref nie, my ondersteuning sal in die vorm van raad en bystand geskied. Nie in die vorm van drank nie. (Uhmm o ja, Kara Kroft luister nie na raad nie)

Ek gaan koop kantoor meubels vir Klaas die Baas se kantoor. ‘n Man met ‘n denim kortbroek, blokkies hemp en das, 2 tekkies aan sy voete, help my. Toe verdwyn die vreemde skepsel. Dis net ek en ek alleen ‘n ‘n grote vertoonsaal vol meubels. Ek gaan lui klokkie op die ontvangstoonbank, en ‘n heelwat jonger man – in dieselfde verspotte kleredrag geklee – kom my te hulp. Hy verduidelik dis hulle spesiale klerekode vir 11.11.2011.

My sensors is toe nie so af as wat ek gedink het nie. Of hierdie outjie se seine is net super helder. Wat as daai nie flirt was nie nie, is my naam nie Does nie. Hy bied sommer aan om self die meubels af te lewer en vra my hoekom ‘n vrou soos ek nie getroud is nie. Ek sê hom toe dat ek my man vir ‘n jonger en ryker model wou inruil – die verkeerde woordkeuse  want ek skat Mnr Kapokhaan nie ‘n dag ouers as 23 nie.

Dag 6

Ek kan nie help om aan Kophaantjie en sy voorbarigheid te dink nie. Dis mos hoe ‘n ou moet wees as jy belangstel. Dis hoe The Beast sal wees as hy belangstel. Ek besluit om maar vir The Beast eers bietjie op die kantlyn te plaas.

Dag 7

Ek, Kara Kroft, Saartjie en Lalie ontspan langs die waters. Nie vir te lank nie, want Kara Kroft – always full of surprises,  los ‘n bom. Sy’t gister saam met die Renoster gekuier (cheating, womanising-loser) Ek bars ‘n aar in my kop. Ek wil vir Kara Kroft doodslaan. Ek wil haar in die waters gaan verdrink! Daarna vir Renoster, maar hòm sal ek eers laat smeek vir sy lewe.

Ek weet nie hoe ek die begrip “clean break” in haar kop gaan kry nie.

Ek het ‘n probleem  - ‘n onbelangstellende Beast en ‘n voorbarige Kapokhaan. Kara Kroft se probleem is egter nog  groter as myne. Sy het in ‘n gat van selfvernietinging verval en ek weet nie hoe omhaar daar uit te kry nie.  Ek begin dit selfs oorweeg om The Bearfoot Beast aan haar af te staan as rebound gay!

Ek is raadop. Ek het ‘n probleem. Ek gaan vir ‘n antwoord Google! Maar wat sal ek Google?

  1. How to find true love?
  2. How to kill a rhinoceros?

Of dalk…

  1. How to catch a beast?



Monday, 7 November 2011

Week 5....

Dag 1:

Ek was veronderstel om vandag die instrukteur op te chat. On the upside – ek het my sexieste oefenklere ingepak, die kortste broekie met die kaalste toppie. On the downside – ek het nie geskeer nie!! Dit het tot volg dat ek alles met knyp armpies doen en amper vir John onderstebo skop, toe hy my voete met een oefening wil oplig ter demonstrasie. Ek besluit ook sommer dat ek nou glad nie meer into John is nie.
Dag 2:

Ek sien op Facebook die pragtige Demi Moore lyk soos ‘n skelet noudat haar huwelik besig is om te verbrokkel. Damn, I would be so lucky.  Die verbrokkeling van my huwelik het nie sulke tipe voordele ingehou nie. Sommige mense se ongeluk is selfs beter as myne!

Vandag lyk John nou weer nie so onaardig nie. En as ek op die naat van my rug lê en sukkel om my bene in die lug te hou, en John kom hou my voete vas, wil ek hom vra om nooit weer te los nie. Maar of dit nou my oormoeg maagspiere is of my hart wat praat, weet ek nie. Ek is deurmekaar.  

Dag 3:

Patat het die drilsersant op facebook opgespoor. Hoe sy dit reggekry het sonder sy van, het ek liewer nie gevra nie, maar vind het sy hom gevind. Ons gaan kyk die man toe bietjie uit. Eintlik kyk ek net vir sy ouderdom. Jip, hy’s jonger as ek. Deesdae is almal.


Dag 4:

Bootcamp. John-dag. Wil ek of wil ek nie? Gaan ek of gaan ek nie? Moet ek of moet ek nie? Flirt ek of speel ek hard-to-get? Wie sê hy wil my ooit get? Gaan hy my raak sien as ek eerste kom met die hollery of is my kans beter as ek laaste kom? Moet ek ‘n enkel “verstuit”? En met ‘n fake verstuite enkel my kanse om ‘n mooi lyf te kry in die wiele ry? En sonder die mooi lyf die risiko loop om nie die aandag van ander potensiele kandidate te trek nie.  Iemand het eenkeer gesê :” Life is all about choices.” Dit was ‘n baie slim persoon.  

Dag 5 :

Ek het vandag my eerste maer word kompliment gekry. My Polo jeans pas, my Calvin Klein wil-wil te groot raak (dis my duurste kledingstuk!!) Ek kry ‘n sms van Koos Kat. Surprise, Surprise. Het so lanklaas van hom gehoor. Hy vra of ek nogsteeds so sukkel met die oortollige ekstra’s en reply met ‘n “J” toe ek hom van die bootcamp kaskenades vertel. Story of my life. Almal ken my stryd!

Dag 6:

Ek begin dink weer aan Demi M wat maerder raak en hartseer is. Ek worry nie juis oor haar hartseer nie, want ek is te jaloers oor sy maerder raak. En dat ek nou so moet sukkel. Dat ek ook deur pyn en lyding moes worstel en dat ek dit nogsteeds moet doen – in die sweet van my aangesig, op die naat van my rug, hygend na asem. Op soek na die mooiste lyf wat ek nog gehad het voor ek 30 raak met klein bietjie meer as 2 maande op die kalender.

Dag 7:

Ek gaat weer aan die dink. Ek wil eintlik ophou. Dink is nie goed vir my nie. Dag sewes ook nie. Ek is vol brose week spots. Ek twyfel of ek PROJEK 30 gaan maak werk en wonder hoekom ek nou juis in Januarie moet verjaar. Na die groot eetdae? Ek wonder wanneer Demi verjaar?

En ek wonder wat week ses gaan inhou?

Monday, 31 October 2011

Week 4 ... here we go!

Dag 1:

Heerlik, heerlik.  Klaas die Baas is nog MIA. Ek sms en vra hom wanneer ons hom weer sien. Hy reply: Miskien die week, maar definitief vlg week.
M.a.w definitief eers volgende week!

Op die spinternuwe (blou) dag van die week begin ek 6h00 werk. More is due date vir die BTW (Besteel The White-people) en ek is agter. Ek werk dat die rook by myse twee ore uitdraai en raak naar toe ek besef dat ek by een kliënt meer as N$ 100 000.00 sal moet bedel om vir die ONTVANGER te gee. My werk is sò depressing.  By die bootcamp moet ons huppel vir opwarming –tra la la la la. Huppel op ‘n blou maandag? Dit laat my voel soos ‘n kruising tussen die Paashaas en Rooikappie!

Dag 2:

Ek kan nie glo dat ek weer my tassie moet pak vir bootcamp nie. Ek is moeg. Bitterlik moeg. Ek leef op Bioplus en Vitathion. En al wat ek wil hê is ‘n Kit-Kat en ‘n Coke. By die bootcamp moet ons frog-jumps doen. Paddatjiespring. Die man is besig om heeltemal mal te raak!! Ons is mos nie paddas nie? Vyf en twintig (oorgewig) volwasse mense begin hop soos paddas oor die oefenveld. Dit lyk soos een van die 10 plae in Egipte. Ek wonder of ek ook so ridiculous lyk soos die ander. Ek wonder nie te lank nie. John, die instrukteur, moedig my aan – Excellent work, Does. Mens sal sweer jy paddabloed in jou!”

Dag 3:

Ek gaan eet vanaand by Lalie. Ons doen die low-fat, low calories, low GI- ding. Voor ek gaan, hop ek gou op die counter (ek is mos ‘n padda) om die ceiling strip wat los getrek het, vas te slaan. Toe val die hele strip af. Ek gaan gooi ‘n bondel wasgoed in, maar die wasmasjien maak ‘n horrible geluid. Daar is fout. En ek is op my laaste “undies”.  Die nuwe bediende begin more.  Hoe gaan sy was en stryk? Waar gaan ek skoon onderklere kry?

Dag 4:

Maria is vroeg oggend daar. (ek het natuurlik half 5 vanmôre al opgestaan en die wasmasjien uitmekaar gebout, want ek soek die ding wat die geluid maak). Ek verduidelik aan haar die wasmasjien situasie en vra mooi dat sy nie die boutjies laat wegraak nie.(ek kon nie die ding weer terug aanmekaar sit nie) Ek wys haar hoe om die gesilikoonde stofsuier met die “afvoet” te operate, maak haar attent daarop om nie die ceiling strip weg te gooi nie en sê haar sy moet onthou dat die kettel nie automaties afskop nie. Sy het my net stilweg aangekyk en gevra wat daar in die huis is wat niè stukkend is nie?

Dag 5 :

Gode sy dank, die week stap einde se kant toe!

Dag 6:
Die jaarlikse Oktober fest is hier. En ek drink nie Coke Light soos ek gesê ek gaan doen nie. Maar na ‘n liter bier stem ons girls saam: John die bootcamp-sersant mag dalk ‘n martelaar wees, maar hy's kinda …… oulik? Veral as hy sy armpies bietjie tè hoog optel en sy hemp nie meer sy maag toemaak nie – so sê Lalie. Persoonlik kyk ek vir bene, en wel, ek het al mooieres gesien. Redelike mens wat ek is, besluit ek om John Maandag van ‘n bietjie naderby te beskou. Met aandag.

Dag 7:
Ek is foos. Of is dit voos met ‘n V? Ek worry nie. Die jaar was tè lank. Na die besige naweek voel ek eensaam en alleen. Ek soek iemand om mee te praat wat nie ‘n familielid of ‘n vriend is nie.

Môre – dag een van week 5 – gaan ek vir John uitcheck. En ek gaan iets doen wat ek gesweer ek nooit weer sal doen nie – Ek gaan ‘n boyfriend soek.

Thursday, 27 October 2011

Week 3 (jaaaaaa)

Week 3 is een groot donker kol. Ek kry dit nie in dae opgedeel nie. Daar was ‘n  begin , ‘n middel en ‘n einde.

Dit het begin met ‘n brastrap wat tydens ‘n bootcamp breek. Wat ‘n ongemaklike affêre!  As al die gehop en geskud die bande laat breek, kan jy jouself indink hoe dit skud en skommel sonder die bande.  Dan is dag een van week drie Boss’s  Day! Ek laat weet my baas 'geluk' waar hy met sy alie by die see sit. Hy sê ons kan koek koop. Ek sê 'nee dankie'.  Dit maak nie vir my sin nie, want hy is mos eintlik die een wat koek moet kry? Ek vertel die klomp by die werk en hulle is vies vir my omdat ek die koek bedank het. En niemand doen niks om dinge vir my  – die waarnemende baas -  makliker te maak nie.

Die jamroltjies is die geel papiertjies roep my op my naam. Die faksmasjien breek, die internet konk in, en almal roep my naam. Ek moet orals luister, besluit, sê, help. Ek wil mal raak. Ek begin my speelgoed bietjies-bietjies uit my cot gooi.

Die dom mense by die staatsinstansies dryf my sò die mure uit dat ek my ou spreekwoordelike cotjie, uitmekaar pluk, skop en dan aan die brand steek. En toe slaat dit my – OH YES. PMS!

Teen Donderdag – dag 4 van week 3 – gee ek toe onder die druk en bestel die koek. En daar polish ek een huge sny kaaskoek met smaak. Eers nadat ek dit opgeëet het onthou ek dat ek mos eintlik dieet. Terug is ek – daar onder in die jammerkrygat. Hoe vergeet ‘n normale mens dat sy op ‘n dieet is?!

En bootcamp raak nie makliker nie. Nee, dit raak moeiliker. Teen Saterdag – Dag 6 van week 3 – is ek moedeloos verby. Ek gee my weereens oor aan wyn, tripple decker pizza en laastens ‘n stukkie chocolate koek.

Die laaste dag van week 3 is ek in zombie-mode. Dinge verloop sò nie volgens plan nie.

Ek het ‘n probleem. Sonder ‘n oplossing

HELP!!!

(PS: het ek dalkies vergeet om te noem dat ek êrens deur die loop van die storietjie, die jamroltjies met die geel papiertjies opgeëet het?)











Monday, 17 October 2011

Week 2

Dag 1:
Ek het toe nie gisteraand (Dag 7 van week 1) die pakkie gemmerkoekies gepolish nie, maar vanoggend het ek die laaste paartjies saam met ‘n koffietjie afgefinish. Ma het vir my gesonde padkos gemaak (‘n eerste) – gesondheidsbroodjies, ‘n piesang en ‘n appel. En toe vergeet ek dit by die huis. Op Mariental koop ek ‘n schnitzel brotchen en ‘n pakkie pienk-en-wit duifeiers. Nadat ek diè verober het, begin dink ek aan al die sondes en oortredinge van die naweek. Nou te laat, maar ja. Ek besluit dat ek alles in my menslike vermoë moet doen om vanaand se bootcamp by te woon, maar met 250 km op die pad en minder as 2 ure op die klok lyk dit onmoontlik. Ek neem my voor dat ek by die huis gaan oefen as ek daar kom. Wat ek toe nie doen nie. Dinge lyk nie glad nie meer so rooskleurig vir my nie.

Dag 2:
Die bootcamp was hel. My naweek lyf is nie uitgerus nie – dit het lui geword. Ek voel moeg. Ek voel mislik. En vet. My skaduwee lyk ook vet. Dinge verloop nie volgens plan nie. Ek hou nog by die koffie reëls, maar vanaand is ek so lus vir ‘n koppie troos koffie. Ek bere ‘n blikkie Nescafe Gold diep weg onder in ‘n kas vir jammerkry-oomblikke. En ek raak lus vir ‘n bord pasta. Op die ou end oorwin ek die koffie stryd maar gee toe aan die pasta craving. Dit was nie ‘n goeie dag nie. More is ‘n nuwe dag, met nuwe reëls.

Dag 3:
Koffie en waterstryd – tick.

Volgende barrier – peusel te veel, veral as ek in die aande by die huis kom. Dis gesonde peuselkos, maar nogtans. Oor 10 weke (eintlik oor 9 weke) wil ek op ‘n rivier gaan roei met ‘n kajak en een van die Camel-man riverguide gaan chaff.  Vandag werk my knaagkliere oortyd. Ek bly honger. Ek bly soek iets om te eet. Week 2 is beslis nie ‘n goeie week nie.

Dag 4:
Ek slinger uit die bed met die moeder van alle hoofpyne. Ek drink die Comprils twee-twee op ‘n slag tot 12h00 en raak benoud dat ek dalk nie die bootcamp vanaand gaan maak nie. Toe begin vat ek die heavy stuff.  Om en by 17h00 is ek reg vir aksie. Vandag was die oefening op kardio baseer en ons hol ons longe uit. Ek voel lateraan naar en met die tussen-in ruspouses sou ek skaam gewees het vir my liederlike stortende asemhaling as ek nie so moeg was nie. Stadig maar seker sink die koffie-en-water trots in. Ek begin werk aan die volgende barrier. Minder peusel en meer groente. 

Dag 5:
Dit is vandag naweek.  Kara Kroft beleef ‘n baie ernstige persoonlik krisis en sy het lus vir ‘n tripple-decker pizza. En wyn, baie wyn. Na werk gaan ek supermark toe en koop die wyn en baie groente vir my persoonlike koskas. Die duiwel moes net voor my in Checkers gewees het, want daar vind ek toe die piepklien jamroltjies wat in heldergeel papier verpak is. Ma het my al twee maande gelede daarvan vertel (dis hemels, het sy gesê)en daar lê dit toe voor my. Wat moes ek doen? Ek het nie lunch gehad nie en my weerstandvlakkie was al baie laag op ‘n honger maag.

Aandete was toe 3 skywe tripple decker (3x3=9) ‘n jamrol(letjie) en ontelbare glase wyn.

Dag 6:
Ek wou eerlikwaar vanoggend gaan drafstap het. Maar ek was eerlikwaar baie moeg. Toe Lalie kom kuier laat ek haar proe van die jamrolls. Ek proe saam. Aandete verloop baie gesond, maar ek raak nogtans benoud. Na 2 weke van bootcamp marteling en baklei met emosies, koffie en water, kan ek nog nie ‘n verskil sien of voel nie. Daar nog net 8 weke oor, dan moet ek ‘n knock-out body hê. Fokus, fokus…..

Dag 7:
….. fokus, fokus. Piesang vir ontbyt. Slaai en een snytjie brood vir middagete. Vat ‘n middag slapie en raak ontsettend honger wakker. Een nog ‘n sny brood. Die jamrolls roep my. Ek probeer alles in vermoe om nie aan daai dodelik duiwels te dink nie. Ek eet ‘n bord groente vir aandete en ignoreer alle cravings. Met slaaptyd is ek so honger dat ek nie kan slaap nie……ek staan later op en gaan eet ietsie……


‘n Dun snytjie brood met marmite op!!


Tuesday, 11 October 2011

Week 1

Week een…… 

Dag 1:
Vandag het ek en Kara Kroft met bootcamp begin. Lalie is nog MIA, sy sal ons eers Donderdag join. Met die intrapslag roep die drilsersant – John – my nader met ‘n “hoi, jy, kom hier” Ek wou hom sê mens praat nie eintlik so met my nie, maar bedink my betyds. Ek moet in die man se goeie boekies bly. Dit bootcamp is toe erg. Om 15 repetisies van ‘n ding (met ding bedoel ek oefening) te doen en dan op te spring en ‘n koers in te hol, vat baie energie. Dit alles totdat ‘n uur verloop het.

Maar ek gaan huistoe - gelukkig, tevrede, moeg en reeds seer, want ek weet: Hierdie bootcamp besigheid gaan werk. Ek gaan pak my gymsakkie vir Dag 2.


Dag 2:
Vandag was nog erger! Dit begin voel nou soos die army. John patrolleer die ry en gee instruksies. Go big or go home! A la. Dis erg. Na die sessie kan ek voel  dat ek snaaks loop. My voete voel soos los bakstene wat my skaars balanseer kry. Dit is nie deel van my bene nie.  Ek telefoneer Bonna, maar dis ‘n snaakse aksie. Ek kan letterlik nie my hand tot by my oor oplig om die mobiel te houvas nie. Ek buig my nek af tot waar my hand is. Ek het nie die vaagste clue hoe ek vanaand my hare gaan was nie.

Dag 3:
Ek het vandag plat skoene aangetrek, want my vreemde voete kan nie in hakskoene loop nie. Tussen die bootcamp sessies deur probeer ek minder koffie en meer water drink. Dit gaan sukkel-sukkel met die kaffiën ontrekking simptome. Ek weet nie wat die ergste is nie - die seer lyf of die tekort aan my koffie-kick?

Dag 4:
GROOT SKOK. Ek het gegaan vir ‘n bodystat! Dit beteken dat ek op ‘n skaal moes
klim. Ek was seker 2 jaar laas op ‘n skaal. Nee o nee!! Ek weeg 65.7 kg en het ‘n BMI van 31 %. Die flippen masjien sê ek wil-wil “obeast” raak. Die maksimum van die minimum wat ek moet weeg is 57.1 kg. Ek moet at least 8.6 kg verloor. Ek was werklik geskok toe ek daai kantoortjie verlaat. Ek het nie gedink dit is so erg nie. Wake-up call! Vandag het ek alles ingesit met die bootcamp.  Alles wat ek het – en dis nie veel nie.

Dag 5 – 7  En ek vat die langpad plaastoe. Groot skok van die rooibruin kantoortjie VERGETE. Wie worry nou oor gewig as jy by die huis kom? Daar is nie veel kroek kos in ma se yskas nie, maar met die bietjie wat daar is, kroek ek. Peusel hier en peusel daar. Ma vertel van ‘n pakkie gemmerkoekies in die spens, maar ek staan sterk en vermy dit. Ek lief gemmerkoekies en hou aan eet totdat die laaste een op is. Ek staan sterk ...tot sondagaand 20h00. Toe gee ek in. Jip, bodystat skoon vergete. 

Sunday, 2 October 2011

oor vreemde fairytales


‘n Uiters abstrakte en vreemde fairytale speel af toe Steve Hofmeyr Janine vra om te trou. ‘n Fairytale het ‘n paar faktore nodig wat dit onderskei van ‘n gewonde storie en hulle s’n het toevallig alles (en nog meer)

‘n Ryk prins, Steve.
‘n Arm diensmeise , Janine.
‘n Heks – dubble rolverdeleing aan Janine, sy moes afterall ‘n huwelik laat kelder in Steve se lewe. 
‘n Fairy godmother – Natasha (ek’s ‘n huge fan) en ook die skrywer van ‘n geboek getitel, Sprokie.

Die faktor van onmoontlikheid.
Die faktor van wat-dit-mag-vat-vir-hoe-lank-dit-mag-vat-vir-jou-sal-ek-wag.

O ja, amper vergeet ek die kasteel.

Ek, die eens ewige soeker na ware liefde, die anti-romantikus, maar vurige fairytale-ikus, het na jare se sielewroeging binne in ‘n huwelik, besluit dat ek tog ook ‘n fairytale ending wil hê. En as ek dit nie kan kry nie, ek bereid is om te settle vir ‘n lewe op my eentjie – alleen, gelukkig en tevrede.

Soms dink ek, na ‘n lang dag,  dat dit lekker sou gewees het om ‘n glas wyn met iemand te deel. As ek reën ruik, soek ek iemand om te vertel. Soms weer, na ‘n ander lang dag, val ek op my bank neer. Dankbaar dat daar nie ‘n langgesig siel is wat my honger sit en aanstaar vir ‘n bord kos nie.

Daar is nie ‘n prins in my lewe nie, ook nie ‘n heks nie. Ek het ‘n vermoede my fairygodmother  is op ‘n sabbatsjaar in Frankryk , neem croissant-maak klasse en drink bubbly by die liters.

Dis ek, die arm prinses,  en die faktore van ontmoontlikheid en wat-dit-mag-vat-vir-hoe-lank-dit-mag-vat-ek-sal-vir-jou-wag.  En prinsessie is nou bietjie moeg vir daardie twee faktore.

Die tyd voel reg om te settle vir my lewe op my eentjie. My eie drome najaag, het ek ontdek, is nogal ‘n amazing feeling. Om besluite te neem sonder om ‘n ander party in gedagte te neem, amper nog beter. Om stiles te geniet, eenvoudig ‘n Mastercard momentpriceless.

Wat die prins en die fairy godmother gaan vind as hulle eendag teruggewals kom in my lewe, weet ek nie. Dalk ‘n selfsugtige prinses en die heks se nuwe BFF.

Soms, bitter selde, vliet daar ‘n gevoel deur my, dat die onmoontlike moontlik is, die onbereikbare bereikbaar, en dat alle stories, mits jy dit wil hê en daarin glo, ‘n fairytale ending het.

(Naskrif: Ek is nie arrogant genoeg om te dink dat hierdie blog ooit die ore en oë van Steve, Janine en die media gaan bereik nie, maar sal dit tog against all odds, gebeur wil ek dit duidelik maak dat dit nie my bedoeling is om enige iemand in ‘n slegte lig te stel nie, maar eerder ‘n klein bietjie jaloesie is, omdat Janine tog, na baie jare, geluk gevind het. En verder is dit gedagtes van my persoonlik self en mag nie kopiëer of publiseer word sonder my toestemming nie. O ja en dat dit ‘n vryland is – met mense regte – en almal mag sê wat hulle wil.)